Die Windhoek Sentrale Hospitaal Foto argief
Die Windhoek Sentrale Hospitaal Foto argief

Sale in staatshospitaal opgeknap vir staatslui

Fase 1 van Visie April 2026 sluit afhanklikes uit
Private dokters sal toegelaat word om hul pasiënte by aangewese staatshospitale te behandel.
Wonder Guchu

Die eerste fase van die veelbesproke Visie April 2026-inisiatief het aangewese sale met gespesialiseerde geriewe gevestig vir gebruik deur, onder andere, 294 geïdentifiseerde hooggeplaaste staatsamptenare.

Visie April 2026, wat vanaf 1 April van krag is, is ’n presidensiële opdrag wat vereis dat senior regeringsamptenare openbare gesondheidsgeriewe gebruik as deel van ’n gefaseerde omvattende vernuwing van die openbare gesondheidsorgstelsel. 

Die program het ten doel om toegang tot gehaltegesondheidsorg te verbeter, infrastruktuur te versterk en aanspreeklikheid te verhoog. Dit beoog ook om begunstigdes van die staat se mediese fonds (Psemas) doeltreffender in die openbare stelsel te integreer, om die lank gevestigde tweevlakstruktuur vir gesondheidsorg ongedaan te maak.

Die uitrol sal streng beperk wees tot die geïdentifiseerde amptenare, met die regering wat bevestig het dat afhanklikes van Fase 1 uitgesluit is.

Die woordvoerder van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, Walters Kamaya, het verlede week aan Network Media Hub (NMH) bevestig dat aangewese sale en geriewe by elke geïdentifiseerde hospitaal ingerig is om vir die amptenare en Psemas-pasiënte voorsiening te maak.


STAATSREDE

In haar Staatsrede (Sona) Woensdag het president Netumbo Nandi-Ndaitwah gesê die regering het reeds N$164 miljoen aan bekende vervaardigers van mediese toerusting toegeken, met aflewering wat oor die volgende drie maande verwag word.

Die gesondheidsministerie het ook ’n breër verkryging van noodsaaklike mediese toerusting ter waarde van N$239 miljoen onderneem en het sedert Desember 2025 altesaam 2 307 gesondheidswerkers gewerf.

’n Pamflet met algemene vrae (FAQ) wat NMH onder oë gehad het, dui aan dat Fase 1 op senior staatsamptenare en openbare ampsbekleërs gemik is.

Diegene wat ingesluit is, is die president, visepresident, eerste minister, adjunk- eerste minister en kabinetsministers. Die fase sluit ook die prokureur-generaal, die direkteur-generaal van die Nasionale Beplanningskommissie, adjunkministers, presidensiële adviseurs, die perssekretaris, die hoof van protokol, parlementslede, streekgoewerneurs en die kabinetsekretaris in.

Uitvoerende direkteure, die sekretaris van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad, die hoofverkiesings- en referendumbeampte, die kommissaris-generaal van Korrektiewe Dienste, die inspekteur-generaal van die polisie, die hoof van die weermag en die Speaker in.

Die amptenare sal dienste ontvang by sewe aangewese geriewe: Windhoek Sentrale Hospitaal, Katutura Intermediêre Hospitaal, Oshakati Intermediêre Hospitaal, Rundu Intermediêre Hospitaal, die Swakopmund/Walvisbaai-kompleks, Onandjokwe Intermediêre Hospitaal, en Keetmanshoop-distrikshospitaal.

By dié geriewe, sal dienste onder meer nood- en ambulanssorg, intensiewesorgeenhede, teaterdienste, mediese beeldvorming en gespesialiseerde behandeling soos onkologie, kardiologie, ortopedie, kraamdienste, rehabilitasie en dialise insluit, wat onder meer deur apteekdienste ondersteun word.

Die geïdentifiseerde hospitale is bestem vir groot opgraderings wat infrastruktuur, moderne mediese toerusting, bykomende gesondheidswerkers, verbeterde medisynevoorsiening en opgegradeerde IT- en faktuurstelsels insluit.


PRIVATE DOKTERS

Volgens die pamflet sal private dokters toegelaat word om na hul pasiënte wat by enige aangewese hospitaal opgeneem is, te behandel.

“Aangesien private spesialiste tans toelatingsvoorregte het by verskeie private hospitale waar hulle nie permanent in diens is nie, sal soortgelyke regte aan hulle toegestaan word om hul pasiënte by staatsgesondheidsgeriewe op te neem en te behandel.”

Die pamflet lui ook dat, indien enige van die geïdentifiseerde topamptenare hulself in ’n gebied sonder aangewese gesondheidsgeriewe bevind, hulle van private gesondheidsgeriewe gebruik mag maak.

Waar ’n spesifieke vlak van sorg of spesialisdiens nog nie by openbare gesondheidsgeriewe binne ’n streek beskikbaar is nie, bly bestaande verwysingsmeganismes, insluitend die gebruik van private verskaffers, van krag.

Psemas-lede sal steeds gefaktureer word, met inkomste wat gegenereer word uit ​​eise wat voorbehou word (retained claims), wat herbelê word om die openbare gesondheidsorgstelsel te versterk.

Medisyne sal deur ’n gemengde model vir binne- en buitepasiënte versprei word, insluitend voorskrifte wat deur gemeenskapsapteke gevul word, met medisyne wat direk aan geriewe vir binnepasiënte afgelewer word.

Die regering het ook kommer oor voorkeurbehandeling getakel en gesê standaard-bedryfsprosedures is in plek om doeltreffende pasiëntvloei oor die sewe geriewe te verseker. Owerhede het beklemtoon dat opgraderings, insluitend CT-skanderings en MRI-masjiene en verbeterde dienste alle pasiënte sal bevoordeel, nie net Psemas-begunstigdes nie.

Fase 2 sal na verwagting in 2027 begin, met ’n presiese datum wat nog bevestig moet word.

Die volgende fase sal op Fase 1 voortbou en na bykomende geriewe uitbrei, met die fokus op dienslewering op distriksvlak, veral nood-, chirurgiese, diagnostiese en moedergesondheidsdienste, terwyl verwysingskapasiteit versterk en druk op hoërvlakhospitale verlig word. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-05-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer