Foto ter illustrasie/NWR
Foto ter illustrasie/NWR

Egpaar sterf in ongeluk ná hengeluitstappie

Adam Hartman

'n Bejaarde egpaar wat van 'n hengeluitstappie naby Myl 108 teruggekeer, het Woensdagmiddag in 'n trompop botsing op die C-34-grondpad noord van Hentiesbaai gesterf.

Die 74-jarige David Ian Smith, en sy vrou, Maria (ook 74), het op die toneel aan hul beserings beswyk.

Na bewering het 'n 30-jarige Suid-Afrikaanse man 'n dubbelkajuit met ’n Walvisbaaise registrasienommer vanaf Hentiesbaai na die Ugabmond-hek met twee passasiers bestuur en nog 'n wit Toyota Hilux met ’n Windhoek-registrasie het in die teenoorgestelde rigting gery, maar glo in die baan van aankomende voertuie.

Die Namibiese polisie het gesê die bestuurder wat in ’n noordelike rigting gery het, het glo na regs uitgeswaai om 'n tromop botsing te vermy, terwyl die ander voertuig glo in dieselfde rigting uitgeswaai het, wat 'n botsing tot gevolg gehad het.

Die Smith-egpaar in die Windhoekse voertuig, wat glo by Myl 108 tydens ’n hengeluitstappie gekamp het, is deur LifeLink-paramedici op die toneel dood verklaar en hul naasbestaandes is in kennis gestel.

Die insittendes van die Walvisbaaise voertuig het ligte tot ernstige beserings opgedoen en is in 'n Swakopmundse hospitaal behandel.

’n Saak van strafbare manslag, sowel as roekelose of nalatige bestuur, word deur Nampol ondersoek.

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer