• Tuisblad
  • Toerisme
  • Gerhardus se reise – Pandas, peper en kognitiewe dissonansie

Gerhardus se reise – Pandas, peper en kognitiewe dissonansie

’n Reis van teenstrydighede
In die Sichuan-provinsie is jou tong die toerleier. Tussen die sterk pikante smake wag daar ook 'n sagte, swart-en-wit-hartsoomblik: die panda.
Gerhardus van Grootfontein – In Suidwes-China, oos van die Himalaja-bergreeks, lê die Sichuan-provinsie.

Hierdie provinsie is bekend vir sy vrugbare grond, ryk geskiedenis verbind aan die ou sy-roete, pandas en alombekende Sichuan-peper. Die hoofstad van die provinsie is Chengdu.

Chengdu word as ’n “rustige” Chinese stad beskou. Ouer mense speel bordspeletjies in die parke; die winkels maak later oop en die luilekker ritme van die stad word aan die inwoners se kleredrag en temperament gesien. Hierdie ritme word vasgevang in Zhao Lei se bekende ballade Chengdu: “Stap saam met my in die strate van Chengdu tot die ligte verdoof. By die deur van ’n klein kroegie in Yulinstraat, vloei ons gedagtes, woorde en liefde”. Luister dit gerus op Spotify of YouTube.

Rustigheid is vir Namibië. In Chengdu soek ek nie vrede nie. Ek soek vonke. Ek wil hê die wêreld moet my sintuie wakker maak en uitdaag. In Sichuan is jou tong die toerleier. Tussen die sterk pikante smake wag daar ook ’n sagte, swart-en-wit-hartsoomblik: die panda.

So begin ’n reis van teenstrydighede.

Chengdu is bekend vir sy unieke geurprofiel en kos. Een delikatesse is geroosterde haaskop – nie weens die aardigheid daarvan nie, maar oor die tipe peper wat in die voorbereiding gebruik word.

Hierdie tipe peper, die Sichuan-peper, het ’n beduidende invloed op die ontwikkeling van die Chinese smaakprofiel oor die eeue gehad. Anders as die Westerse palet (soet, suur, sout en bitter) het die Chinese ’n vyfde sensasie: má – ’n tintelende, verdowende gevoel. Klassieke Chengdu-geregte soos Mapo Tofu, Dan-Dan-noedels en Kung Pao-hoender gebruik Sichuan-peper met die sterk má-geur.

Weens Sichuan-peper se diep kulturele wortels en geurerfenis het ’n museum in Chengdu ontstaan waar kostradisies en tong-tintel verken en vertoon word.

Die Sichuan-kosmuseum is ’n interessante plek. Ná ek op die internet daaroor gelees het, daag ek met ’n leë maag op. Gaste word ontvang by ’n kosmark met sowat 15 stalletjies wat kenmerkende Sichuan-disse bedien – in klein bakkies en by die ingangsfooi (ongeveer N$150) ingesluit. Die varkkluitjies in Sichuan-sous is bobaas!

Ek eet die lekkerste Málàtàng by stalletjies. Málàtàng beteken verdowende, pittige sop. Die geurprofiel is Sichuan-peper en rooirissies. Die tofuskil in die sop is die ideale kostipe waar die geure op mekaar verlief raak en dan word daar troue in jou mond gehou! Ek is oor die algemeen ’n emosionele eter, maar hierdie smake bied vir my soveel meer liefde en aanvaarding as alledaagse trooskos.

’n Mens besef vinnig hoe groot en divers die museum is. In die opelug gedeelte is daar rye en rye kleikruike. Van die kruike het grasdakbedekkings waar ander keramiekdeksels het. In die kruike met die grasdakbedekkings word sojasous op ’n tradisionele manier vervaardig en die ander kruike bevat rissiepasta. Die kruike moet vir 6 tot 12 maande buite staan vir die fermenteringsproses om te voltooi. Besoekers kan van hierdie brousels gedurende die fermenteringsproses proe. Dit is glad nie sleg nie, hoor!

’n Ander demonstrasie wat my aandag getrek het, was die voorbereiding van die naaldoog-noedels. Naaldoog-noedels is ’n buitengewone kulinêre prestasie in Chinese kookkuns. Hierdie noedels is so fyn gesny dat hulle letterlik deur die oog van ’n naald gedruk kan word. Dis nie ’n spesifieke soort noedel nie, maar eerder ’n vaardigheid en tegniek, veral in seremoniële kookkuns. Op ’n tafel is ’n blok noedeldeeg en ’n dame word geblinddoek. Met ’n hakmes kap sy haarfyn noedels teen die spoed van lig. Daarna word dit deur die oog van ’n naald gedruk en aan die brand gesteek om die egtheid en broosheid van die noedels te beklemtoon.

Daar is vele uitstallings wat die evolusie van die Chinese kombuis oor die eeue uitbeeld. Die mees dekadente porselein word ook uitgestal. Wat vir my opvallend mooi is, is die porselein wat gebreek het en weer met goud gelas is. Ek onthou so paar jaar gelede, op die internet, is hierdie proses as analoog gebruik om mense bewus te maak van die mooi in die emosionele en psigologiese genesingsproses. Die kruike met die goud-geaksensueerde krake wys werklik dat ons menslike krake die mooi in ons individualiteit en karakters is.

Iets eie aan die krake in my karakter, is my affiniteit vir diere. Nie soseer troeteldiere nie, maar diere oor die algemeen. Ek sukkel geweldig met die idee van jag en soms eet ek vir maande nie vleis nie. Dit gesê, ’n vleispasteitjie is lekker! En, ek het nog nooit van my pa se kerrieskaapskenkels weggestap nie. So, ten spyte van die Kung Pao-hoender en haaskoppe waaraan ek smul, lei my kognitiewe dissonansie die eerbare diereliefhebber na die Chengdu Panda Reservaat.

By die ingang van die pandareservaat staan groot geskryf: “The greatness of a nation and its moral progress can be judged by the way its animals are treated. Ghandi.”

Die pandas word soos koninklikes behandel: hulle kos word vir hulle aangedra; hulle het klimrame en hangmatte wat kleuters opgewonde sal maak; daar is gespesialiseerde veeartse 24 uur aan diens en spesiale broeikaste vir die babas. Al hierdie fasiliteite en geld is daar om die voortbestaan van die spesie te verseker en te bevorder. Weens die afnemende natuurlike habitat en lae geboortesyfers (pandawyfies is net vrugbaar vir 2 to 3 dae per jaar), is dit noodsaaklik vir menslike ingryping.

Die lomp teddiebere is werklik oulik. My binneste giggel en smelt wanneer ek hulle sien klim, val en rol. Pandas gedra hulle op sekere maniere soos vyfjarige kinders. Dit is wetenskaplik bewys. Hulle is nuuskierig, hou daarvan om te speel, raak geheg aan mense wat hulle versorg en kan eenvoudige probleme oplos. Gedurende hulle sosiale- en gedragsoriëntering in die reservaat, moet hulle soos kleintjies sit en video’s op ’n televisie kyk; en hulle geniet dit!

Maar diep in hierdie kostelike diere se oë is daar ’n universiële siel. ’n Siel wat leef in honde, hase, koedoes, varke en dalk mense.

Rustige Chengdu het vir my meer innerlike vonke en uitdagings gegee as waarvoor ek beding het. Die plesier van tradisionele (vleis)-disse staan in sterk kontras met die kinderlikheid van die panda. Tussen peper en pels, praat my kognitiewe dissonansie die duidelikste. Ek weet nie. Dalk moet ek tussen my sintuie en my gewete leer om ’n bietjie gemakliker met ongemak te wees. Of nie. . . – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer