Hoë lof vir Nathan Chase se wêreldklas talent

Triathlon
Andrew Poolman
Namibië se talentvolle driekampatleet Nathan Chase het Sondag \'n uitstekende silwermedalje by die Xterra Jeugwêreldkampioenskap by die skilderagtige meer Molveno in Italië, behaal.

Ná sy bronsmedalje by die eerste wêreldjeugbyeenkoms by dieselfde venue verlede jaar, het die 17-jarige sy status as \'n toonaangewende vooruitsig in Namibiese triatlon verder gekonsolideer.

“Beste resultaat OOIT in Namibiese triathlon!” was van die onmiddellike kommentaar van Frank Bombosch, wat hoë lof van \'n uitgetrede nasionale kampioen-driekampatleet is.

Meer as 70 Jeug B-seuns (ouderdomme 16-17) het meegeding oor die Sprint-afstand van 750 meter swem, ‘n 16 km bergfietsrit en 5 km hardloop.

\'n Vasberade en goed beoordeelde wedren deur die belowende Namibiër oor die strawwe roete het hom in een uur 29 minute 31 sekondes laat klaarmaak – met net die Tsjeggiese Republiek se kampioen Ondrej Plic (1:28:01) voor hom, wat ook die vorige jaar die Xterra Jeug A-wêreldtitel (seuns 14-15) ingepalm het.

Chase, wat vroeër vandeesmaand 17 geword het, het die bronsmedaljewenner Finlay Goodman van Brittanje (1:31:24), sy landgenoot Ben Allen (1:33:17), Gabriele Gattino van Italië en Adrian Zrehus van Roemenië as sy naaste mededingers geklop.

Chase het ná 10 minute 03 sekondes in die vierde posisie uit die water gekom, ongeveer 20 sekondes agter die voorloper Plic en twee Italianers.

Teen die einde van die fietsskof was nog net die vlieënde Tsjeggiese atleet ongeveer 100 sekondes voor hom.

\'n Totaal van 59 atlete het die driekamp voltooi, wat 18 nasies verteenwoordig het – Tsjeggië, Namibië, Brittanje, Italië, Roemenië, Spanje, Frankryk, België, Slowenië, Duitsland, Australië, Verenigde State van Amerika, Republiek van Suid-Afrika, Ierland, Switserland, Portugal, Kanada en Frans-Polinesië.



Stryd teen die modder

Die jong Chase, wat deur sy pa Greg vergesel is, het agterna gesê dit was \'n moeilike wedren in toestande wat hy nog nie tevore teëgekom het nie.

“Ek was baie tevrede met die swem; ons het baie werk daar gedoen. Om so naby agter die voorste ouens uit die water te kom, was \'n goeie bewys van die werk wat ons gedoen het.

“Die fietsrit was regtig moeilik, met van die slegste toestande wat ek nog ooit in \'n wedren gesien het. Dit het baie hardloop vereis, want dit was net onmoontlik om deur daardie modder te ry, so dit was beslis baie uitdagend. Daarna het dit met die hardloopskof baie goed gegaan.”

Nathan sê hy beskou hierdie silwermedalje as die beste prestasie van sy loopbaan tot dusver.

“Ná verlede jaar se brons was ek hoopvol vir die oorwinning, maar ek het verwag om \'n goeie vertoning tussen die voorlopers te lewer en hopelik op verlede jaar se uitslag te verbeter.

“Vir die grootste deel het my wedren volgens plan verloop. Op die fiets kan niemand voorbereid wees vir toestande soos hierdie nie, so hierdie gedeelte was veel stadiger as verlede jaar.

“Op die tegniese gedeelte deur die woud wil jou fietswiele nie eens draai as dit eers vol modder raak nie, so ek het probeer om met die fiets deur die modder te hardloop. Oor die algemeen was dit eenvoudig bitter stadige vordering, en supertaai op jou bene om die fiets teen \'n steil bult op te stoot.

“Maar ek het my bes gedoen, en hierna het die hardloopskof redelik goed gegaan.”



Rugsteun

Nathan, wat in die FNB Skole-bergfietsliga sy skool St. George’s verteenwoordig, het \'n sterk afrigtingspan agter hom.

Genevieve Weber doen die algehele program en monitering; sy swemafrigter is Jörn Diekmann van MAC Swimming, terwyl Michael Falk van Mannie’s Sports Lab sy krag en kondisionering hanteer en die bekende atletiekafrigter Henk Botha aandag gee aan sy hardloop.

• Nathan Chase is verlede week bevestig as een van ses Namibiese ontvangers van Olimpiese atleetbeurse in die aanloop tot die 2028 Olimpiese Somerspele in Los Angeles, VSA.

Die ander vyf is Ester Abraham (stoei), Ndawana Haitembu (naelloper), Roger Surén (bergfietsry/padfietsry), die swemmer Jessica Humphrey en marathonhardloper Daniel Paulus.

Kommentaar

Republikein 2025-10-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer