No Image Caption

Wees braaf – en klim op daai trem!

Wees braaf. Dis nie net ’n slagspreuk of ’n projek vir my nie – dis my persoonlike handelsmerk.

Dis die voorbeeld wat ek vir my kinders wil wees. As ek terugkyk op my lewe, was dit nog altyd moed (en ’n bietjie waansin) wat my gehelp het om my drome te bewaarheid. Moed is daardie verskil tussen “ek wens ek het” en “ek het dit gedoen!”.

Om braaf te wees beteken nie jy is nie bang nie. Glad nie! Laat ek julle vertel van my jongste “wees braaf”-avontuur hier in Ierland. Ek het pas ’n nuwe werk begin, sommer in die hart van Dublin se sakewêreld – dink Wall Street, maar met reën, trems en duur koffie!

Nou, parkering in Dublin? Vergeet daarvan! Vir 3 uur se parkering betaal jy 12,50 euro – dis so N$250! Ek het besluit ek sal liewer daai geld gebruik om brood en melk te koop (of wyn, as ons eerlik is).

So, plan B: Trein en trem. Die trein is darem lekker – Wi-Fi, kragproppe, tafeltjie – ek voel half soos ’n sakevrou in ’n Netflix-reeks. Maar toe kom ek in Dublin aan. Dis chaos. Dis mense oral. Drie-honderd-nege-en-negentig mense (ek het hulle getel, glo my) storm van die trein af asof daar gratis sjokolade uitgedeel word.

En nou moet ek op die regte trem kry. Dublin het meer trems as wat ek selfvertroue gehad het daardie oggend. En dis ’n eenrigtingstelsel, so as jy die verkeerde afdraai vat – sterkte! Jy is in ’n vreemde deel van die stad met mense wat lyk of hulle almal ’n doel het. . . behalwe jy.

Ek het vir ’n oomblik gedink, “nee wat, ek vat môre weer die kar – ek is ’n volwasse vrou, ek hoef nie hierdie trauma te beleef nie”. Maar toe dink ek weer: Op die trein kry ek vier uur se werk gedoen (ek bly in Waterford, 2 uur van Dublin af en hoef net twee dae per week in die kantoor te wees – dankie tog!). Ek kan vroeër huis toe gaan. Ek hoef nie te bestuur nie. En ek sien die mooiste Ierse landskap elke oggend, want die trein ry deur al die landskappe.

So ek het my oë toegemaak, my Dublin-vriend geSMS en gesê: “As ek verdwaal, bel die polisie.” En toe klim ek. En raai wat? Dit was eintlik heel eenvoudig!

Nou ry ek al amper ’n maand so, en ek voel soos ’n pro. Ek spaar geld, sien die land en is vroeër by die huis – alles omdat ek daai een dag dapper genoeg was om die trem te vat.

Dis snaaks hoe die dinge wat ons die meeste vrees, later die dinge word wat ons nie meer eers oor dink nie. Dis altyd onmoontlik, totdat dit gedoen is.

So, as jy nou daar sit met iets wat jou bang maak – of dit nou ’n nuwe werk, ’n moeilike gesprek, of selfs net ’n nuwe roetine is – onthou: jy hoef nie sonder vrees te wees om braaf te wees nie. Jy moet net deur die vrees beweeg. En wie weet, dalk ry jy ook eendag op jou eie trem van oorwinning!

– Gasskrywer

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-03-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer