Theresa van Zyl
Theresa van Zyl

Vandag – die eerste dag van die res van ons lewe!

Die feit dat ek hier in letters op papier met jou kan gesels en dat jy nou met die koerant in jou hande of op ’n skerm besig is om hier te lees – dis ’n herinneringsteken van God se genade.

Ons lewe nog hier aan die begin van Junie 2025. En weet jy waaraan wil dit ons herinner? Nou, op hierdie oomblik?

Die Godgegewe doel waarvoor jy gebore is, waarvoor ek gebore is – is nog nie volbring deur ons lewens nie. Voor die grondlegging van tyd het Hy jou en die gawe wat jy binne jou dra, beplan om ’n sekere plek in Sy volmaakte en goeie Plan in te kleur soos wat nét JY kan doen. Jy met jou persoonlikheid, jou uniekheid, jou talente en besondere manier van dink en droom en doen. Niemand anders kan dit soos jy doen nie, of vír jou doen nie. Net jy kan. Elkeen van ons is soos die steke in ’n trui wat aan mekaar vasgeweef is om almal sáám die voltooide patroon te vorm. Elke steek tel, want daarsonder het die volgende een, of die vorige een geen anker nie en die volmaakte eindproduk sal nie moontlik wees nie.

Besef ons werklik hoe kosbaar elke oomblik van ons lewens is? Oomblikke wat vorm tot minute en ure – geskenk-ure wat elk ’n uitnodiging en ’n uitdaging is om vol te maak met dít wat tel, wat ’n verskil gaan maak. Om te gebruik ter volvoering van ons skeppingsdoel, om daardie droom wat God in jou hart en jou verstand geplaas het, te gebruik.

En wat dan nou as ons vandag, hier aan die begin van die winter, met le? kruike voor God staan? Leeg met die wete dat ons nié voorkeur gee aan die gebruik van ons gawes nie. Leeg te midde van volgestopte ure, omdat dit waarvoor ons weet ons geroep is, laaste in die ry staan en te dikwels nie aan die beurt kom om ons tyd, ons aandag en ons toewyding te kry nie? Daardie wete dat nóg ’n dag of week of maand, selfs jaar verby is, sonder dat jy uitgekom het by dít waarna jou siel hunker?

Jou kuns, jou aanleg, jou gawe, jou droom, die bron van jou inspirasie . . . Wanneer gaan daardie idee, die plan, die droom oor in dade om vorm aan te neem in die realiteit van ons lewe vir ander om ook daarby te baat, vir jou om vervulling te ken en werklik te voel hoe dit is om voluit te lééf?

My kop sak saam met joune met ’n hartseer wat pluk vanuit die onvervulde droom, die afsprake met jouself wat nie nagekom is om jou gawe uit te leef nie.

En vanuit hierdie oomblik wil ek jou nooi om saam met my die o? van jou hart en jou siel op te lig. Die oorwinning begin by erkenning van ’n situasie, van ’n leemte. Dit het ons klaar gedoen, so kom ons gaan nou van hier af vorentoe. Kom ons begin vandag om weer te begin. Jy weet waarmee jy moet begin, net soos ek weet. Ons het nog tyd, want ons het nog lewe. Kom ons wag nie hierdie keer vir ’n groot stuk beskikbare tyd voor ons begin nie. Kom ons vat tyd vas, soos dit kom – in brokstukke van minute. Elke groot reis begin met die eerste tree, hoe klein of hoe wankelrig, maak nie saak nie. Dan die volgende een en die volgende een. . .

Ons kán dit doen, want ons is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee. Ons kán die afleidings wat ons tyd wil steel, die onbenullighede wat ons visie probeer versmoor en die skimgedagtes van “wat as ek nie kan nie” oorwin deur weer léwe en entoesiasme in ons droom aan te blaas deur dit ’n prioriteit te maak. Maak afsprake met jouself en kom dit na en na elk van daardie skeppende afsprake, gaan jy meer jý word. Deur te doen waarvoor jy in die eerste plek op hierdie aarde is, gaan jy meer word as wat jy tans is, want jy gaan besig wees met jou werk van ewigheidswaarde en jy gaan jou mooiste en beste self ontdek en leer ken.

Kom ons maak vandag die eerste dag van die res van ons lewe . . . ’n gedenkteken-dag, want dit is die dag waarop ons gaan ophou om net te bestaan. Jy en ek gaan voluit begin lééf!

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-06-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer