No Image Caption

Onderwys – Veerkragtigheid

Die koerantopskrif, “Mynbou toon veerkragtigheid”, herinner my aan ’n navorsingsartikel, getiteld “The Resiliency of the Status Quo”, gebaseer op navorsing wat ek en ’n konsultant, dr. Suzanne Grant Lewis, in die 90’s gedoen het.

Ons het dit ook by ’n internasionale onderwyskonferensie in Kingston, Jamaika, voorgelê en sy het gesorg dat dit in ’n internasionale joernaal gepubliseer is. Ons het veral gekyk na hoe skole in die ou Keetmanshoop-onderwysstreek teruggegryp het na onderwyspraktyke van die destydse Administrasie vir Blankes. Een van ons bevindinge was dat die inskakeling van hierdie skoolgemeenskappe by die nuwe inklusiewe dispensasie, maar taamlik skoorvoetend was. Miskien is dit een rede vir die opskiet van Afrikaanse private skole ná 1990.

Veerkragtigheid (resilience) kom van die Latynse werkwoord “resilire” wat “om terug te spring” beteken. Dit is soos ’n siek persoon wat met mediese hulp en ysere determinasie en motivering sy gesondheid herwin. ’n Organisasie, soos ’n swak presterende skool, kan homself regruk en “terugspring” na die glorie van weleer. Ek het al verwys na hoe skole in die Oranje-Vrystaat, ná ’n reeks ingrypings, hul ou presterende status quo herwin het.

Ek skryf hierdie rubriek veral met die agteruitgang van onderwys in die ||Kharasstreek in gedagte. Vir baie jare was hierdie streek een van die toppresteerders in die land. Die graad 12-graduandi van die streek het ook van die beste simbole in die finale eksamen behaal.

PK de Villiers, Karasburg Sekondêr en Suiderlig Hoër het van die beste presteerders gelewer. Baie van hierdie skole se oudleerders wat toelating tot universiteite gekry het, werk vandag in hoër inkomste-omgewings. Vandag tel van hierdie skole, indien nie almal nie, onder die swakste presteerders in die graad 12-eksamens.

Die streek het nog altyd oor goed gekwalifiseerde onderwysers, ’n redelike onderwyser-leerling-ratio en voldoende fisiese fasiliteite beskik. Die streek sukkel nou al vir etlike jare en beskik eenvoudig nie oor die kapasiteit om terug te bons na die “goeie ou dae” nie. Die streek is nie eens ’n skaduwee van wat dit toentertyd was nie.

Maar, waarom is dit so moeilik vir ’n organisasie om ’n ommekeer na die presterende status quo van die verlede te maak?

Volgens die Harvard Review weier 42% van bestuurders in derglike situasies om die heersende status quo uit te daag. Altesaam 32% erken hulle doen dit somtyds en 23% dat hulle dit nou en dan doen. Slegs 3% erken hulle doen dit op ’n gereelde grondslag. Nou waarom?

Eerstens, weier die meerderheid van bestuurders om hul eie aandeel in die swak prestasie van hul organisasies te erken. Hulle weier eenvoudig om aanspreeklikheid te aanvaar. Mea culpa, mea maxima culpa bestaan nie in hul leksikon nie.

Tweedens, ’n wesenlike element van veerkragtigheid is verandering. Sommige bestuurders het ’n hengse vrees vir die uitdagings wat met verandering gepaardgaan. Hierdie is ’n verskynsel wat ons in baie skole en selfs in kerkgemeentes waarneem; ou tradisies en gebruike mag nie versteur word nie.

Derdens, hoor baie bestuurders die klok lui, maar weet nie waar die klepel hang nie. Hulle wil graag verbeter, maar tas in die duister rond.

Vierdens, is organisasies weens die onvermoë en onwilligheid van hul bestuurders om die gepaardgaande uitdagings te konfronteer, eenvoudig nie gerat vir verandering nie. Verder sê die Review dat sulke leiers weier om te prioritiseer; hulle het nie ’n benul nie of weet nie hoe om dit te doen nie. Hulle delegeer nie, weier om op rooi ligte ag te slaan en gooi maklik tou op. As ’n reël is hulle nie voorstaanders van verandering nie en is geensins toekomsgerig nie.

Daar is ’n paar strategieë wat bestuurders, veral skoolhoofde, kan aanlê om ’n omdraai-aksie te bewerkstellig. Eerstens behoort skoolhoofde te fokus op idees wat gekoppel word aan die kwaliteit-aanduiders (indicators), beter finansiering, groter ouerbetrokkenheid en beter eksterne verhoudinge.

Tweedens, skoolhoofde kan poog om mense wat die sosiale opset ken en sosiale invloed het, betrokke te kry. Derdens, moet hulle kennis neem van alle suksesstories en relevante data; hierdie kennis kan vir ekstra motivering sorg.

Vierdens, tou op gooi is nie ’n opsie nie. Maar, as die rooi ligte flikker, moet hulle van rigting verander.

(Hierdie een is vir Sue Grant Lewis van wie ek so baie geleer het.) – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer