No Image Caption

Onderwys – Leesvaardighede en die lesers se opinies

Die kwessie oor leesvaardigheid het heelwat kommentaar uitgelok.

Met die aanvang van hierdie rubriek het ek die verwagting gehad dat dit in ’n tweerigting-kommunikasie tussen lesers en lesers en lesers en koerant (of Facebook) sou ontwikkel. Ek is verheug die minister se verklaring en my rubriek het soveel belangstelling ontlok. Hoe groter die deelname aan dialoog, hoe groter is die moontlikheid dat meer lig op probleemareas gewerp en haalbare oplossings gevind sal word.

Dit is Izaak Walton wat opgemerk het: “Good company and good discourses are the very sinews of virtue.”

Van die lesers is van mening die onderwyser-leerder-ratio’s is te groot vir doeltreffende onderwys. Ons nasionale ratio van 25 leerders per onderwyser is eintlik van die laagste in Afrika. Kavango-Oos is die hoogste met 29.4 en Oshana die laagste met 23. Nou moet ek vining noem dat die laer ratio’s in private skole in ag geneem is met die berekening hiervan. Dan moet mens onthou bepaalde demografiese faktore oefen ook ’n invloed uit. Maar hoë ratio’s in baie gebiede is die werklikheid en ons sal eenvoudig daarmee moet handel.

Die vraag is of ons onderwyseropleiding deur ons tersiêre instansies en onderrigleiding in ons skole gerat is om onderwysers hiermee te help. My ervaring is ook dat die organisasie van klas- en vakgroepe by sommige skole nie met baie bestuursvernuf en ywer aangepak word nie. Maar, die outeur van die kommentaar, is van mening dat goedkoper tersiêre onderwys ’n meer kostedoeltreffende opsie sou gewees het as gratis tersiêre onderwys. Besparings kan dan aangewend word om meer klaskamers op te rig en laer ratio’s te bewerkstellig.

Verder dink ek nie die algehele vervanging van die huidige leerplanne is haalbaar nie. Die koste van kurrikulum-ontwikkeling is in terme van geld, tyd en kundigheid ekstensief. ’n Intensiewe studie van die betrokke kurrikulum sowel as die implementering daarvan, sal wel die gebreke blootlê en lyk ook meer haalbaar.

Nog ’n leser is van mening die toelating van studente vir opleiding vir die junior primêre fase moet meer selektief wees en dat die vereistes vir die aanstelling van onderwysers en vakadviseurs vir hierdie fase, gelig moet word. Hiermee kan ek akkoord gaan; ons moet slegs die uitblinkers by hierdie fase betrek.

’n Ander gooi sommer die net wyd; die skooltermyne is te lank, kinders daag onvoorbereid en honger by die skool op, die ouers is onbetrokke en afwesig, koshuise is te min en tegniese onderwys kry nie sy regmatige plek in die skoolopset nie. Ek dink hierdie is werklik geldige bekommernisse waarna daar gekyk kan word.

Daar is ’n oorbeklemtoning van akademiese vakrigtings ten koste van tegniese opleiding en ouers moet meer betrokke wees, veral by die kinders in die junior primêre fase. Ek dink ouers kan probeer om ten minste 15 tot 30 minute per dag aan die verbetering van hul kinders se leesvaardighede te bestee.

’n Ander aspek wat na my mening nie baie aandag in ons primêre skole geniet nie, is multigraad-onderwys (multi-grade teaching). Dit is veral geskik vir die platteland waar daar nie ’n gebrek aan klaskamers is nie, maar wel aan kinders. As gevolg hiervan word kinders van verskillende grade of ouderdomme in een klasgroep geplaas. Dit voorkom dat kinders lang afstande na skole moet aflê of in koshuise geplaas word.

Een leser pleit vir die terugkeer na die Cambridge-stelsel en die rottang. Die Cambridge-stelsel is water onder deur die brug en die rottang is ’n besliste nee!

(Hierdie aflewering dra ek op aan Clothilda Steenkamp wat so mooi erkenning aan haar ou meester gee. Dankie Clothilda)

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer