Onderwys – Kunsmatige intelligensie-programme

Enkele jare gelede was die wêreld in die skrikwekkende kloue van die Covid-19-pandemie vasgevang.

Nabyheid, aanraking en liggaamlike kontak, almal noodsaaklike elemente van menswees, was nou taboe. Die siekte is hoogs aansteeklik en die handhawing van afstand het nou die nuwe normaal geword. Kerkdienste, sportklubs en byeenkomste soos troues en begrafnisse moes hierby inval. Natuurlik het dit ook vir onderwys gegeld. Onderwys is ’n basiese mensereg; dit verskerp denkvermoëns, gee diverse perspektiewe, bied vryheid en verbeter sosioëkonomiese status. Onderwys moes die nodige aanpassings maak, maar dit moes aangaan! In terme van ’n kabinetsbesluit moes skole eers sluit, maar is met die verslapping weer toegelaat om onderwysaktiwiteite te hervat; hierdie keer met minder onderrigtyd en beperkings op aktiwiteite. Die grootste uitdaging was om te verhoed dat te veel onderrig- en leertyd verlore gaan. In die meeste lande, arm en ryk, is besluit op aanlyn onderrig met rekenaars en slimfone, en tuisonderrig met ouers, sibbe en ander familielede as die onderwysers. Ek het nie hierdie opsie destyds teengestaan nie, maar het ’n hele paar eiers hieroor te lê gehad.

My grootste beswaar teen aanlyn onderrig was die beskikbaarheid van die noodsaaklike implemente in landelike en arm gemeenskappe. Dit het die ongelykhede net verder beklemtoon.

Die Stellenbosche professor, Jonathan Jansen, wys in sy navorsingstuk op die keuse wat baie ouers moes maak tussen brood en data. Maar, ons is nou hier, die ontwikkeling van die inligtingstegnologie geskied soos ’n trein wat weghardloop en die uitdagings neem toe.

’n Nuwe kunsmatige intelligensie (KI)-gedrewe gogga, naamlik ChatGPT (met sy boeties Copilot, Gemini en Chatbot AI), is nou al vir ’n tydjie op die mark. Ek is g’n rekenaar-“boffin” nie, maar ek verneem dat die goed glo wonderlike dinge kan doen.

Volgens Tim Cook, uitvoerende direkteur van Apple, is die potensiaal van hierdie KI-programme oneindig. Natuurlik hou die aanwending daarvan vir basiese en hoër onderwys geweldige moontlikhede in. ChatGPT kan op versoek opstelle skryf, navorsingsprojekte doen, wiskundige probleme oplos, musiek komponeer, sketse teken en vele meer doen. En dis in hierdie vermoë wat ’n klomp etiese kwessies verskuil lê.

Ons het op skool geleer dat jy jou eie werk moet doen. Kinders moet leer om skoolopdragte sover as moontlik selfstandig aan te pak en antwoorde op hul eie stoom te vind. Ons wil tog hê dat hulle in onafhanklike, selfstandige, eerlike, opregte en beginselvaste volwassenes ontwikkel. Probleemoplossing moet prioriteit op skool kry; hulle moet tog eendag die uitdagings van die lewe selfstandig kan aanpak en oplos. Daarom moet hulle vroeg leer om nie ander se werk af te skryf nie en in die eksamenlokaal slegs aangewese is op dit wat hulle geleer het. Maar, wat verhoed leerders en studente om opdragte wat met die hulp van ChatGPT gedoen is, aan onderwysers en dosente voor te lê? En, hoe sal die onderwysers en dosente weet dat dit nie hul eie werk is nie?

Daar is ook ander ernstiger etiese kwessies wat na vore spring en aandag moet kry. Nou onlangs is op een van die TV-programme gerapporteer dat ’n jongeling selfdood met behulp van een van die K1-programme gepleeg het. Die jongeling het na bewering die program gevra hoe om selfdood te pleeg. Hy is stap vir stap na die tragedie gelei. Sy ouers het nou ’n siviele eis teen die eienaars van die program ingestel. Talle ander vrae kan ook gevra word en selfs kinders in die donker wêreld van misdaad laat beland.

Ons sit met ’n probleem wat ons nie Gods water oor Gods akker kan laat loop en vir die beste hoop nie. Eerstens sal ons die voorsiening van hierdie tipe vermoë aan skole en openbare biblioteke ietwat moet beperk.

Tweedens sal die leerders en studente gemaan word om dit nie onoordeelkundig te gebruik nie. En derdens sal onderwysers in die gebruik daarin opgelei moet word; dit behoort as ’n aparte module tot hul opleiding gevoeg word.

En laastens, ouers behoort deeglik oor hierdie K1-programme ingelig te word. Dit is uiters belangrik dat die ouers se samewerking gekry word.

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer