No Image Caption

Noem my maar ‘oom’

Adam Hartman
Ek het in ’n huis grootgeword waar respek nie net gepreek is nie, maar geleef is.

Ons is geleer om ouer mense as “oom” en “tannie” aan te spreek – in Engels sou dit “uncle” en “auntie” wees. Dit was ononderhandelbaar, dit was ’n teken van respek.

So het ek dit van kleins af gedoen. En tot vandag toe, wanneer iemand ouer as ek is, glip die “oom” of “tannie” sommer vanself by my mond uit. Dis soos ’n refleks – amper soos om “bless you” te sê as iemand nies.

Maar daar het ’n dag gekom toe ek skielik self “oom” begin word het. Die eerste keer wat ’n kind my so genoem het, het ek amper geskok teruggestaan. Ek was seker ek was nog te jonk vir daardie titel. Ek het vinnig geantwoord: “Nee, nee, noem my net op my naam.” Dis mos hoe jong ouens dink – ons glo ons kan die tyd terughou deur eenvoudig te weier om ouer te lyk.

Maar tyd is nie ’n stukkie kougom wat jy net verder kan rek nie. Die jare stap aan en ek het later op ’n punt gekom waar ek dit eintlik snaaks gevind het as iemand my oom noem. Ek het dit begin aanvaar, selfs geniet.

En toe, ironies genoeg, het ek in ’n nuwe stadium ingegaan: nou voel ek half geïrriteerd wanneer jongmense net my naam gebruik. Dan dink ek by myself: “Hoe durf jy? Ek het mos nou my stripes verdien!”

Dis snaaks hoe die wiel draai. Dit laat my dink aan die sportprogramme wat ek soms kyk – soos American Ninja Warrior. Jy sien hierdie deelnemers oor die jare. Hulle begin jonk, vinnig en ongelooflik sterk. Kommentators praat vol bewondering oor hul atletiese vermoëns. Maar tyd se ratte draai stadig en dieselfde deelnemers word ouer. Skielik begin die kommentators dinge sê soos: “Hy is nog net so fiks, maar jy kan sien die ouderdom begin wys.”

En dit tref my, sommige van hulle is jonger as ek, maar die wêreld sien dit: ons liggame verander, al glo ons breine ons is nog dieselfde. Jou kop voel dalk nog 25, maar jou knieë stem nie saam nie.

Ek sien dit nou ook in my seun. Hy is in die fleur van sy lewe – hy lyk soos ’n sjampoemodel, trek die meisies se aandag en is vol selfvertroue. Ek onthou hoe dit gevoel het om jou jongste, aantreklikste self te wees.

Maar ek sien ook my vriend wat voorheen ’n aantreklike branderplankryer was, vandag kla hy oor sy rug, oor hoe sy tande minder word en dat hy nie meer kan doen wat hy vroeër gedoen het nie. Dis nie tragies nie, dis net die lewe.

Ek onthou toe ek ’n meme gesien het: ’n klein seuntjie kyk in ’n spieël en in die spieël kyk ’n ouer weergawe van hom terug. Die ouer weergawe sê: “Tel jou dae.” Dis dubbelsinnig – jy tel jou dae, maar jou dae tel ook.

Dit herinner my aan die woorde van Dawid in die Bybel: “Leer my om my dae te tel, dat ek wysheid mag bekom.”

Ons tel nie net die dae om telling tot die einde toe te hou nie, maar om waarde uit elkeen te haal.

En dis die les wat ek nou sien: daar is niks daarmee verkeerd om ouer te word nie. Dis ’n mooi ding. Dis deel van die siklus – geboorte, groei, volwassenheid, ouderdom en uiteindelik die einde.

Elke fase het sy eie skoonheid. Ons moet die jonger generasie waardeer en ons moet die ouer generasie eer. En ons wat nou self die ooms en tannies is, moet dit met trots dra.

Ons was daar. Ons het die lewe gesien, dit geleef en ons het stories om te vertel. Dis die geskenk van tyd – nie om vas te hou aan hoe dit was nie, maar om te geniet waar ons nou is.

So ja, noem my maar oom, ek het dit verdien.

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer