Leierskap vir leke – Laat die slimmes óns lei
“Dit maak nie sin om slim mense aan te stel en dan vir hulle te sê wat om te doen nie; ons stel slim mense aan sodat hulle vir ons kan sê wat om te doen.” – Steve Jobs, stigter van Apple.
En met daardie één sin gee Steve Jobs vir ons ’n uitsonderlike meestersklas in leierskap en navolgerskap.
So dikwels word leierskap as ’n enkele domein beskou, eksklusief tot uitverkore bestuurders in magtige maatskappye; terwyl die rol van die volgelinge as ’n blote nagedagtenis opeindig – soos ’n tiener wat die hoop vuil skottelgoed in sy kamer ignoreer. Tog het navorsing bewys dat net 20% van organisasies se sukses aan leiers se optrede toegeskryf kan word, terwyl 80% aan die optrede van die navolgers te danke is. Navorsers het ook bewys dat werknemers, wat ontevrede is met hul leiers, téén die organisasie terugveg omdat hulle nie direk teen hul leiers kan optree nie. Vergeldende optrede deur werknemers kan in enige vorm kom: werkers wat laat opdaag en vroeg huis toe spaander, werkers wat ekstra papier uit die drukker vir hul private sake gebruik, of selfs werkers wat uit weerwil teen leiers se negatiewe gedrag, winkelvoorraad of skryfbehoeftes huis toe neem. Dis hierdie klas van optrede wat tot organisasies se swak prestasies bydra of selfs die ondergang van besighede tot gevolg kan hê.
Kry navolgers genoeg erkenning in die leierskaprol? Nee. Om die waarheid te sê, kundiges kan nie eens werklik ooreenkom of “navolgerskap” ’n “ding” is of nie – tot so ’n mate dat daar selfs nie oor die definisie van “navolgerskap” saamgestem word nie. Tans fokus navolgerskap-studies op die verhouding tussen leiers en hul volgelinge en hoe hulle mekaar beïnvloed. Aan die einde van die dag en ter wille van vooruitgang in die studie-area, kan ons seker net eers erken dat navolgerskap ’n proses is waardeur individue die invloed van ’n leier tot ’n gemeenskaplike doel aanvaar. Sommige navorsers beskou navolgerskap as ’n strategie wat verseker dat individue (die volgelinge) in groepe kan saamwerk, meestal omdat hulle self nie oor leierskapvermoëns beskik nie.
Wat beteken dit vandag vir ons in ’n wêreld waar samewerking en gelykheid die kern van suksesvolle samelewings vorm?
Kortliks beteken dit dat:
– die fokus nie meer net op leiers is nie, maar op die interaksie tussen leiers en hul navolgers om die sukses van ’n projek te verseker. Die “status” of magsposisie in die verhouding word nie meer tot leiers beperk nie, maar ook in die hande van volgelinge of werknemers geplaas.
– leierskap nie bloot ’n “bo-na-onder”-enkelroete is nie. Leiers moet daarvan bewus wees dat hulle gedrag die konteks skep waarbinne navolgers optree – of nié optree nie (eina!).
– “wortels” en “slaanstokke” onvoldoende geraak het. Die dae waarin werkers op belonings of strafmaatreëls alleen gereageer het, is verby. In ’n moderne, individualistiese gemeenskap wil werknemers gehóór, gesíén en verstaan word.
Dit bring ons terug na Steve Jobs se woorde: leiers kan slegs suksesvol wees as hulle met genoeg nederigheid lei en hul navolgers inspireer om te doen wat húlle die béste doen. Die mees ideale navolgers is diegene wat hulself kan bestuur, vir hulself kan dink, onafhanklik kan werk en eties en moedig kan optree. Dit is ook volgelinge wat nie sal skroom om eerlik met hul bestuurder te kommunikeer wanneer hulle nie met die leier se optrede saamstem nie. Dus gaan die prys van die dag aan die slimmes, wat deur hul navolging, die diamante in leiers se krone sit!
*Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie