• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Leierskap vir leke – Die tien geskenke van goeie leierskap
Annemarie Schullenbach
Annemarie Schullenbach

Leierskap vir leke – Die tien geskenke van goeie leierskap

“As jy jouself wil oplig, lig iemand anders op.”

– Booker T. Washington, opvoeder, skrywer, leier.



Goeie leiers beskou leierskap soos ’n hysbak – wanneer jy ander laat uitstyg, styg jy ook saam met hulle uit. Die teenoorgestelde sal jou ook oor die kop slaan – leiers wat ánder afdruk, gaan dikwels sáám met hulle gevolg onder.

Barbara Kellerman is ’n politieke wetenskaplike en leierskapsnavorser wat al jare lank oor die rol van volgelinge in leierskap skryf. Sy is bekend vir haar Kellerman-tipologie waarin sy volgelinge op ’n kontinuum van “betrokkenheid” (engagement) plaas. Aan die lae ent van die kontinuum is die geïsoleerde volgelinge wat glad nie by die spanwerk betrokke is nie. Dan is daar die “bystanders” wat bewus is van wat aangaan, maar nie baie gemotiveerd is om betrokke te raak nie. Deelnemers lê in die middel – hoewel hulle betrokke is by die projek of organisasie, tree hulle meestal in eie belang op. Hoër op die kontinuum vind jy die aktiviste – dié werkers wat energiek en gretig deelneem.

Die verste en uiterste punt van die kontinuum is die navolgers wat só onversetlik en oortuigend hul leiers volg, dat hulle selfs obsessief of fanaties kan begin optree.

Die beste leiers is diegene wie se volgelinge in die “aktiviste”-kategorie val – hierdie volgelinge voel sterk oor hul leier en hulle is oortuig van hul eie standpunte. Die navolgers is betrokke by ’n projek of organisasie en hulle is propvol gees, energie en doelgerigtheid.

Maar wat is dit wat leiers kan doen om hul navolgers in aktiviste te omskep?

Hier is tien “geskenke” wat leiers hul navolgers kan gee om hulle (soos ’n hysbak) op te lig:

1. ’n Naam – letterlik. Wéét wie jou volgelinge is, en gee hulle geleenthede om gesién te word. Laat hulle voel hulle maak ’n bydrae.

2. Hulpbronne. Gee volgelinge die basiese hulpbronne wat hulle nodig het om hul take te kan verrig – ’n veilige omgewing, die nodige toerusting, ’n hanteerbare werkslading en regverdige vergoeding.

3. Reëls en regulasies. Volgelinge moet weet wát die spel is en hóé dit gespeel moet word. Verskaf aan hulle genoegsame leiding en ’n raamwerk waarbinne hulle kan funksioneer.

4. Terugvoering. Help navolgers om te groei deur eerlike, opregte kommentaar. Laat hulle uit hul foute leer.

5. ’n Platform. Gee volgelinge die kans om hul idees en opinies te lig – en wanneer nuwe idees geopper word, implementeer dit waar moontlik.

6. ’n Span. Laat volgelinge voel hulle is deel van ’n groter span waar één se sukses, almal s’n is.

7. Belonings. Volgelinge moet op tasbare maniere vir hul suksesse vergoed word. Dit kan finansiële belonings, pryse, toegewings of toekennings insluit.

8. Vertroue, selfvertroue en erkenning. Volgelinge moet voel hulle word vertrou en hul eie selfvertroue moet opgebou word. Beloon suksesvolle werk deur erkenning (hetsy in groepe of een-tot-een).

9. Motivering. Laat navolgers voel hulle word bemagtig om te groei. Leiers moet hul volgelinge goed genoeg ken om te weet wát hulle inspireer en hoe om hulle te help om hul drome te verwesenlik.

10. Geleenthede. Goeie leiers is bewus van elke volgeling se unieke behoeftes en belangstellings en dryf hul navolgers tot hoër hoogtes deur meer geleenthede vir leer of selfs meer verantwoordelikheid te skep.

Per slot van rekening, suksesvolle leierskap kan net aan die sukses en prestasies van die span gemeet word!



*Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

Kommentaar

Republikein 2025-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer