Annemarie Schullenbach
Annemarie Schullenbach

Leierskap vir leke – Die kulturele hutspot

“Ons sien die wêreld nie soos dit is nie, maar soos ons is.” – Stephen R. Covey, leierskapskrywer



Weens ons tragiese apartheidsgeskiedenis het min lande die kulturele uitdagings wat Namibië het.

In die proses om onregte van die verlede te herstel, staar leiers ernstige vraagstukke in die gesig, veral in die multikulturele hutspot van die werkplek.

Die grootste kwessie is soos Covey sê: Ons sien die wêreld deur ons eie lense, of dikwels soos die samelewing ons kondisioneer om dit te sien. Dis moeilik om ’n ander kultuur te verstaan en nog moeiliker om hand aan hand te werk.

Multikulturele leierskap fokus daarop om verskillende kulture se waardes in die werkplek te akkommodeer, te waardeer en te benut. Multikulturele leiers lei met kulturele intelligensie, inklusiwiteit en aanpasbaarheid om sodoende die verskillende kulturele bydraes as ’n stérkpunt te benut, eerder as ’n handbriek tot vooruitgang. Multikulturele leierskap is nie net van toepassing op ’n land se nasionale kulture nie, maar sluit ook kulturele mengelmoese van wêreldorganisasies in, byvoorbeeld in Namibië word ook buitelanders soos Chinese, Indiërs, Angolese of Nigeriërs in diens geneem. In hierdie tipe organisasies is nie net diverse werknemers nie, maar ook diverse leiers.

Kultuur word beïnvloed deur aangeleerde gelowe, waardes, norme en tradisies – ons besef dikwels nie dat ons vanuit ons babasokkies al ’n kultuurgebaseerde denkwyse saam met ons melk inneem nie. Hierdie denkwyse is só diep gewortel, dat dit die enkele bril vorm van hoe ons dink en redeneer. Dié primêre denkwyse vorm die grondslag van ’n etnosentriese waas waardeur ’n mens, gewoonlik onbewustelik, jou eie kultuur bo dié van ander ag. Sulke vooroordeel kan bande tussen mense laat noustrop trek.

Enige ingeligte hoef net navorser, Geert Hofstede, se naam te noem, om te weet hoe kompleks kultuur in werklikheid is. Die tema van kultuur en kulturele leierskap is so wyd en diep soos die wye, diepblou see, so laat ons fokus op die basiese multikulturele vaardighede wat leiers vandag benodig:

1. Kulturele empatie: ’n Begrip en sensitiwiteit vir mense van verskillende kulturele agtergronde met hul onderskeie waardes, kommunikasiestyle en werksoriëntering.

2. Selfbewustheid: Die selfkennis om te weet dat elke persoon sy eie kulturele, bevooroordeelde vensters rondra.

3. Die hutspot-benadering: Dis die insig en vaardigheid om kulturele diversiteit as ’n bate te beskou. Inklusiewe besluitneming gee spanne die geleentheid om probleme kreatief en innoverend aan te pak.

4. Aanpasbaarheid: Aanpasbaarheid behels die vermoë om jou benadering te wysig soos kontekste en inligting verander. Dis ’n aktiewe ingesteldheid wat op gelykheid en regverdigheid gefokus is.

5. Verhoudingsingesteldheid: Kulturele leiers bou vertroue óór grense deur respek, openlikheid en ontvanklikheid. In multikulturele organisasies is leierskap nie bloot ’n posisie nie, dis ’n verhouding.

Te veel leiers (veral in die politiek) is geneig om die holrug geryde “ons/hulle” retoriek te preek – die uiteinde is juis ’n verdeelde navolgerskap wat deur onderliggende mededinging en twis gekenmerk word. Sulke praatjies ondermyn die unieke geleenthede wat samewerking en diversiteit vir vooruitgang kan inhou. Multikulturele leiers bestuur nie net diversiteit nie, hulle benut dit ook. In hierdie opsig kan individuele verantwoordbaarheid en konsensus-gebaseerde besluitneming mekaar met oop arms omhels.



* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-09-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer