No Image Caption

Leierskap vir leke – Die Gen Z-aanslag

“Die werksopset is besig om te verander en Gen Z voer die aanslag.” – Ashley Lechman, businessreport.co.za (September 2025)



Die Verenigde Nasies (2024) voorspel dat Afrikane-jeugdiges teen 2030, 42% van die wêreldbevolking gaan uitmaak.

Volgens ander voorspellings sal Generasie Z, of Gen Z, teen 2035 die grootste kohort van die werkerskorps uitmaak. Hierdie Gen Z’s is die groep wat tussen 1995 en 2010 gebore is – die eerste generasie wat geheel en al in die digitale era getoë is.

Dis ’n generasie jongmense met fone soos meganiese ledemate – vir wie “tik tok” oor video’s eerder as horlosies gaan. Gen Z’s deurkruis vastelande, nie met vliegtuie nie, maar met ’n web van veselverbindings. Hul waardes is gegrond op onmiddellike bevrediging, diversiteit, inklusiwiteit en aanpasbaarheid. Innovasie en tegnologie is die matriks waarbinne hulle funksioneer, met tyd en afstand wat krimp tot mikro-mates (of ten minste so lank soos dit neem vir ’n toepassing om te laai).

Vir sakeleiers beteken dit dat hulle waarskynlik in die nabye toekoms merendeels jonger spanne, as ouer werkers, sal lei. Vir organisasies beteken dit dat al meer Gen Z’s in leiersposisies sal intree. Sommige werkgewers kla dat hierdie generasie minder gedissiplineerd is, kortkom aan respek en vinniger by hoë titels en salarisse wil uitkom as wat dit neem om ’n WhatsApp-boodskap te stuur. Daarmee saam reken hedendaagse bestuurders dat Gen Z’s se digitale afhanklikheid en meer asosiale gedrag van hulle swakker spanspelers met minder interpersoonlike vaardighede maak.

Op die oog af kan dit voorkom asof Gen Z leierskap verwerp, maar die waarheid is dat hulle besig is om leierskap te herdefinieer. Moderne leiers het geen keuse as om moeite te maak om dié generasie te verstaan indien hulle talent (en kliënte) na die werksplek wil lok (en behou) nie. Die kern van hierdie meningsverskil is dit: Gen Z stel hoër vereistes aan leiers:

– Aanpasbaarheid en betekenis. Gen Z’s het geleer dat fisieke teenwoordigheid nie meer ’n vereiste vir werk is nie. Studies wys dat hulle buigsaamheid in die werksplek en betekenisvolle werk soek, eerder as moeitevolle arbeid ter wille van finansiële oorlewing alleen. Met soveel digitale plesier en kennis tot hul beskikking, vereis hulle ’n groter werk-lewe-balans.

– Voortdurende terugvoering wat met groei gepaardgaan. Gen Z soek terugvoering vinniger as ’n banktransaksie op ’n foon. In ’n wêreld van emoji-boodskappe, soek Gen Z informele kommunikasie buite onbuigsame en hiërargiese strukture. Terugvoering moet onmiddellik, maar gefokus op langtermyn-ontwikkeling en geleenthede wees – eerder as kwartaalliks vir ’n prestasie-evaluasie.

– Opregtheid en inklusiwiteit. Gen Z is gebore met ’n bewustheid van die samelewing se klimaatsuitdagings en maatskaplike ongelykheid. Hulle vereis dat werksplekke divers, inklusief en veilig is. Nie net fisiek veilig nie, maar ook geestelik en ekologies.

Gen Z se eise aan leierskap verander die idee van “werk”. Hulle soek kommunikasie wat digitaal en onmiddellik is, eerder as gestruktureerde, tydrowende vergaderings. Hul werksbetrokkenheid hang af van hoeveel kwaliteit terugvoering en mentorskap hulle ontvang, hoeveel hul geestelike gesondheid ondersteun word en of maatskappye hul waardes van maatskaplike en omgewingsbewustheid deel. Vir werksgewers is aanpassing kritiek, want wie nie aan hierdie verwagtinge voldoen nie, word vinniger as ’n ongewilde beïnvloeder gekanselleer.



* Annemarie Schullenbach is ’n navorsings-, besigheids- en bemarkingskonsultant met ’n meestersgraad in besigheidsleierskap en veranderingsbestuur van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie. Sy het meer as 20 jaar se professionele ondervinding in die private en openbare sektor, in leierskap, strategie en navorsingsbepaalde belangstellingsvelde.

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer