Kyk na gister vir môre
Daar gebeur baie dinge in twintig jaar, maar dan is alles dieselfde as die klok twintig jaar later om middernag slaan.
Klasmaats van 1975 is klasmaats van 1995. As almal skoolbaadjies aangetrek het en in die geskiedenisklas hul boeksakke neergegooi het, sou hulle steeds asem opgehou het oor wanneer dieselfde vraag oor wanneer die slotgeweer die eerste keer uitgevind is, gevra word.
Waaroor daar min twyfel is, is dat die vraesteller dieselfde een sou gewees het. Die opstekers sou dieselfde gewees het. Die stoutes, skelm rokers en kwajongens sou dieselfde gewees het.
Nie eens die boepense en bleskoppe was ’n verrassing nie. Dit was met nabetragting al daardie tyd bestem wie die bleskoppe sal wees wanneer almal weer ontmoet.
Wat nie bestem is nie, was wie nie daar sal wees nie en die groot reis na die hiernamaals sou aangepak het.
Die enigste verrassing is dat ’n paar ander kandidate springlewendig rondgestaan het en met nog baie jare voor hulle. Roekelose jongmensjare het hulle blykbaar laat gedy en die vooruitsig dat hulle waarskynlik weer in die jaar 2015 ’n reünie sal hou, is ’n baie waar moontlikheid.
Dat so ’n byeenkoms nodig is, is ongetwyfeld. Dit bring ’n tyd van genoegdoening om te besef dat elkeen van ’n kleinerige versameling mense iets tot mekaar se lot bygedra het en dit is nie sonder genot om te lag oor dieselfde dinge wat ’n mens se lagspiere twintig jaar gelede geprikkel het nie.
Dit is wanneer dit duidelik word dat om te lewe ’n klein stonde is waarin nie veel verander nie, maar veel in ’n baie kort tyd vergeet word.
Daar waar die delftog in die verlede die afdraaipaaie uitwys wat verbygery is – party goeies en party minder goeies. En aan die einde wanneer die laaste groet teen die Ausberge vasklap, wil ons almal net onsself wees en is daar ’n gemeenskaplike dankbaarheid omdat ons nie anders is as wat ons is nie.
Met foute en al is almal se gekombineerde eienskappe dieselfde as twintig jaar gelede. Party kyk net langer in die kameelstompe se kole, terwyl ander nader skuif om warmte te kry teen die koue wat deur die deur van die lewe ongenaakbaar teen hulle aanwaai. Twintig jaar gelede se gisters is die môres wat mense nodig het om te onthou hoekom dinge is soos dit is.
Ook om te onthou om dankie te sê ons lewe en dit gaan goed. – 18 Julie 1995

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie