Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Goeie reënval, ’n rare seën

Wiesie Kotzé – Vandag verjaar iemand baie besonders en sy word 40.

Sy is in baie opsigte my mentor en iemand by wie ek al ongelooflik baie geleer het hierdie laaste 14 jaar. Party mense is skrikkerig vir die groot vier-nul, maar sy hou vol dis net nog ’n nommer. Sy het my die laaste paar jaar – vanuit ’n besigheidsperspektief – gedra deur tye toe dit nie baie goed met my gegaan het nie.

’n Vrou van staal, wat eintlik ook maar net ’n mens is. En dít is wat ek van haar respekteer; dat sy wel balans kan handhaaf. Vriendin, ek is dankbaar om jou in my lewe te mag hê. Mag die volgende 60 jaar geseënd wees.

Ek is seker nie die eerste persoon wat die laaste paar weke kommentaar oor die slaggate lewer nie. Maar anders as in sommige dele van Suid-Afrika, doen City of Windhoek moeite om die paaie ná die reënseisoen weer begaanbaar te maak.

En dit is iets wat ons as stedelinge kan waardeer. Nou die dag toe ek takties moes maneuver om ’n slaggatveld met amper geen ryvlak meer nie, het die Engelse begrip “Running the gauntlet” by my opgekom.

Dít is hoe dit voel om die slaggate in die paaie te navigeer. En steeds hou die reën nie op nie. Wat my laat wonder het waar die begrip sy oorsprong gekry het. Ek het Google Translate ingespan vir ’n Afrikaanse weergawe en dit het ’n lagwekkende “hardloop die handskoen” opgelewer. Vals!

Maar tog gee dit ’n mens ’n gevoel vir wat ek volgende ontdek het. “Running the gauntlet” is glo ’n militêre straftegniek waarin die persoon tussen twee rye mense hardloop, elk met ’n stok wat hulle gebruik om hom mee te slaan. Nogal rof, né? Maar ja, dit voel omtrent of ’n mens moet koes vir die slaggate soos ’n mens ry.

Die reën het intussen weer hier in die agtergrond begin – die weervoorspelling-toep het gister nog gereken dit reën eers weer van Donderdag af. Kyk, ons weet die weer is eintlik net ’n raaispeletjie, maar wanneer die toeps nie eens meer regtig weet wat aangaan nie, dan kan jy maar weet dat die weer ordentlik op sy kop is. En dit is pleinweg salig.

Jare gelede, rondom 2011, het ek as Suid-Afrikaner die fout gemaak om te wonder wat Namibiërs motiveer om paaie deur riviere te bou, soos in Klein Windhoek, net om die paaie te laat verspoel. Ná daardie groot reënseisoen vier of vyf jaar later, kon ek eers die skaarste van die reën leer waardeer.

Ook in 2011 het ek en ’n mede-Suid-Afrikaner na Swakopmund gereis waar die Swakoprivier deurgebreek het in die see. Ons het strandlangs gestap, die gevoel van opwinding beleef, gesien hoe almal in die water baljaar en met die groot gebeurtenis reg voor ons oë, nie besef hoe skaars dit is dat die Swakoprivier tot in die see vloei nie, of dat die rivier se invloei die groot oorsaak van die opwinding was nie. Ons het iets soos ’n sportgeleentheid verwag.

Ewe jonk en naïef het ek my arme Namibiese vriend gespot eenkeer toe ons Suid-Afrika toe gereis het en hy opgewonde geraak het oor die riviere wat daar vloei. Vandag weet ek van beter. In die oorvloed van die tye waarin ons leef, is dit eintlik ’n voorreg om aan so ’n skaarste blootgestel te word, dat ’n mens waardering kan leer vir dit wat nie volop beskikbaar is nie.

Dankie Here vir hierdie seën, hou ons asseblief dankbaar vir die reën. Amen.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer