Ek sê maar net - Veiligheid en vrede
Veiligheid en vrede
Charlotte Beukes-Muundjua - [email protected]
Môrrô my minse! Julle ken mos almal daai bordjie teen die meeste sitkamermure in die 70’s - Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder?
As sy en ouma wegval, word ons ontwortel, ‘n onverklaarbare onrus, ‘n klein hartkamer-brein-oorlog. Dan besef jy die onskatbare waarde van vrede en veiligheid. Nou kring ek verder uit - Wat is ‘n land sonder vrede en veiligheid? Futiel. Onlangs is ons klein land geruk deur die ontvoerings, verkragtings en moord van dogters in die primêre skool. Net eergister is die liggaam van ‘n jong seun in Suid-Afrika voor hul woonstel se deur gevind ná ‘n onverklaarbare verdwyning. Dít in ‘n kompleks wat veronderstel is om ‘n veilige woonplek te wees. In Suid-Afrika hoor jy daagliks van bendeopstande, moord in die middestad helder oordag. Vuurwapenbesit het geen perke nie en het deelgeword van ‘n student se rugsak. Laasweek het 49 Suid-Afrikaners Amerika toe gevlug. Almal was op die spotterswa hieroor (ek inkluis). Totdat ek besef het hoe net twee emosies die mees geleerde, welaf mens kan ‘rattle’ - vrees en onveiligheid. Jy maak jou ‘social media’ met ‘n knop in die keel oop, want oral is onmin, verdrukking en opstand. En vra ‘wanneer is dit my beurt?’ Kyk maar na die nadraai van kinders uit ‘n onstabiele huis in sy volwasse lewe. Agterdogtig, senuweeagtig, bang, menssku of andersins aggressief, aanvallend, verbitterd. Hierdie is die vrug van ‘n boom sonder vrede en veiligheid. Gedurig in ‘fight or flight mode’. Dan kan mens net indink die sielkundige skade wat ‘n onveilige land aan sy mense doen. Bure raak geïsoleerd want die oortreders het nie ‘n gesig nie, hulle kom dan in snyerspakke. Skole is nie meer ‘n veilige plek vir ons kinders nie. Die booswigte weet dan juis hoe om hierdie ‘veilige’ plek te omseil. Dié wat in ‘n veilige omgewing grootgeword het, sit maar jou klippe terug. Jy verstaan nie die daaglikse folterende gevoel van vrese om elke hoek en draai nie. Ons lewe in ‘n era van spoed, ‘terabytes’ het alle vorige ‘bytes’ verby gespring. Dit raak erger en dit lyk asof die kategorie van ‘serious crime’ aangepas is. Waar vuurwapengeweld in ‘n buurt voorheen hoog op die lys van onwaarskynlikhede was, skuif dit nou na die middel, want geweld het die skole oorgeneem. ‘ Uitspannaweek op ‘n plaas is ver van veilig. Pensioenarisse op hul plaas is lankal nie meer veilig nie. Toentertyd het ons wilde diere gevrees, maar nooit kon reken dat die wreedste dier op twee bene loop nie – ons eie spesie. As jy vir die hele week nét vrede in jou woonbuurt gehad het, salige veiligheid beleef het, reken jouself as geseënd. Wat is ‘ huis sonder vrede? Hoe te meer ‘n land sonder vrede? In watter onvrugbare grond het Lucifer die saad van vrede en veiligheid begrawe? Is dit altemit ‘n ‘wake-up call’ vir ons om te besef dat elke dag ‘n seëning is? Repos Ailleurs, sê die digter. Carpe diem sê die filosoof. - Gasskrywer

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie