René Hugo
René Hugo

Ein Herz für Kinder

Kinders word in ’n “grootmenswêreld” gebore.

Hulle het hulp nodig om in hierdie plek, met al sy skerp punte, lokvalle en gevaarlike afgronde, te oorleef.

Ouers is die eerste en logiese hulpverskaffers. Maar ongelukkig is daar baie kinders wat juis hier nie hulp kry nie. Dink maar aan die sesjarige Joshlin Smith wie se ma haar vir R20 000 verkoop het. Daar is vandag só baie voorvalle van verwaarlosing en uitbuiting van kinders deur hulle ouers, dat ons kan vra: het ons ’n hartelose gemeenskap geword?

Gelukkig is daar heelparty “veiligheids-vangnette” in ons samelewing wat bedoel is om te verhoed dat kinders seerkry wanneer hulle ouers nie hierdie rol kan of wil vervul nie.

Die eerste vangnet bestaan uit lede van die groter familiekring. Kinders word selde in ’n lugleegte gebore. Daar is altyd grootouers, ooms en tannies wat hier ’n rol kan speel. Ek lees dat, in die dae van groot gesinne, (terloops, ’n goeie voorbeeld is president Paul Kruger wat 16 kinders gehad het!) daar dikwels ’n kind gebore is wat die ouers werklik nie kon grootmaak nie. Sulke kinders is dan informeel deur ander ouerpare in die familie oorgeneem en met liefde as “ons grootmaakkind” by ’n bestaande gesin ingeskakel.

In Namibië bestaan daar selfs ’n wetlike erkennning (Kindersorg en Beskermingswet van 2015) vir ’n soorgelyke begrip, genoem verwantskapsorg. Die familie-vangnet impliseer dat familielede ’n plig en ’n oop hart het sodat daar omgesien kan word na kinders wat in hulle ouerhuis beseer of verwaarloos word. ’n Mens wonder waarom Joshlin se familie-vangnet haar nie gered het nie?

Die tweede vangnet wat kinders kan beskerm, word gevorm deur mense wat in die omgewing van die ouerhuis woon. Ons kla so maklik as die bure se motors raserige uitlate het, of dat hulle TV en musiek te luidrugtig is. Maar let ons op of die buurkinders veilig is?

In ons omgewing is daar ’n ouerpaar met twee baie “sosiale” tienerseuns. Die huis is dus gedurig met maats en vriende van vriende gevul. Die ma vertel my dat sy eendag ná werk by haar huis gekom het en die dogtertjie van ’n gesin wat sowat drie huise ver bly op haar bed, aan die slaap, gekry het. Later het die meisiekind verduidelik dat haar eie vier boeties so baie geraas het dat sy bietjie vrede by die bure se huis kom soek het!

Vir my is dit ’n voorbeeld van ’n wonderlike warm huis waar kinders gemaklik en veilig voel. Ek weet hierdie ouerpaar sal ook sensitief wees vir buurkinders wat dalk hulp nodig het. Ek wil vra: waar was die bure van Joshlin se huis?

’n Derde vangnet is die skool. Onderwysers en alle skoolpersoneel is in ’n ideale posisie om kinders raak te sien wat hulp nodig het.

Die skoolhoof van ’n bekende hoërskool het ’n goeie stelsel ontwerp om kinders wat hulp nodig het, te identifiseer. Nadat ’n sekere leerling se naam drie keer onder sy aandag gekom het, besluit hy om self huisbesoek te doen. Dit blyk toe dat haar ouers eenvoudig net die pad gevat het – en hulle 16-jarige dogter alleen agtergelaat het. Die afgelope twee weke is die huis se elektrisiteit afgeskakel (weens wanbetaling) en was sy snags alleen in ’n donker huis. Daarbenewens was voedselnood ’n werklikheid. Gelukkig het die skoolvangnet gewerk en kon die meisie hulp kry. Nou vra ek weer: waar was Joshlin se skoolvangnet dan?

Kinders moet en kán gered word. Die stelsels wat harte het vir kinders, bestaan. Kom ons neem aktief hieraan deel.

Só kan ons verseker dat Matteus 19:14 elke dag waar is: “Maar Jesus sê: Laat die kindertjies na my toe kom en verhinder hulle nie; want aan sulkes behoort die koninkryk van die hemele.”

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-07-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer