René Hugo
René Hugo

Dis virrie voëls

René Hugo – Laas week staan ek by die kassiere van ’n winkel in Windhoek.

Langs my betaal ’n tannie ’n groot bedrag vir ses 10 kilogram-sakke “wildevoëlsaad”. Ek loop lank hieroor en dink. Waarom so baie kos, vir watter soort voëls, en veral: hoekom moet of wil sy die voëls kos gee?

Namibië is ’n spesiale land met diverse en unieke ekosisteme wat ’n lewensomgewing vir wonderlike voël- en diersoorte skep. En deur die eeue het baie mensegroepe (waarvan die Himbas ’n goeie voorbeeld is), geleer hoe om ten beste saam met ons plaaslike fauna en flora te leef.

Maar as ek na die tannie met die karretjie vol voëlkos kyk, dan wonder ek of ons van Europese afkoms nie miskien ’n bietje die kluts kwyt is nie?!

Ons het almal grootgeword met kennisgewings in nasionale parke wat waarsku: MOENIE DIE WILD KOS GEE NIE. Maar is dit regtig so verkeerd? In ’n ekstreme sin word die voeding van wilde diere as dieremishandeling gesien omdat daar so baie nadele aan verbonde is.

Eerstens, lok dit diere uit hulle natuurlike omgewings na plekke waar mense is. Hulle vergader naby parkeer- of kampterreine, paaie en asblikareas. Hier is die gevaar dat hulle maklik raakgery of seergemaak word deur dinge soos skerp blikke, plasieksakke en stukkende glas. Daarbenewens kry hulle ook “vreemde” tipe bakterieë in hulle kos wat die natuurlike verteringsprosesse benadeel.

Ons weet dat dit nie die regte ding is om te doen nie, maar tog doen ons dit! Hoekom? Daar is al heelwat hieroor gespekuleer:

– As ek wilde diere kos gee, voel ek weer deel van die natuur en die wildernis.

– Die mens wil graag wilde diere kry om hom te vertrou (kyk maar na die wildtemmer en sy leeus in die sirkus) en glo dat as hy vir diere kos gee sal hulle die vrees vir mense oorwin.

– Daar is ekstremiste wat beweer – “as ek diere kos gee vra ek verskoning vir die feit dat ek hulle doodmaak vir my eie kos!”

– Laastens, vir sommige is die voeding van wild ’n geestelike ervaring: “By feeding or befriending nature we brush against our Creator.”

Maar om terug te kom na my tannie met haar “wildevoëlsaad” – geld die beginsel dat ons nie wild moet voer nie ook vir voëls?

Ek verstaan die voeding van voëls tydens die Covid-tyd het erg toegeneem. Die rede hiervoor is duidelik: voëls in jou omgewing (veral in die kaal, sementagtige, stedelike omgewings van aftreeoorde en woonkomplekse) bring mense in kontak met die natuur en beveg eensaamheid.

Vir die voëls is daar natuurlik ook voordele. Kosgee help hulle om voort te bestaan in moeilike omstandighede soos winterkoue, bewolkte dae, bevrore waterbronne en (so tipies van Namibië) droogtetye.

Maar die nadele van die voer van wilde voëls oorskry ongelukkig die voordele. Die belangrikste hiervan is dat die kos dikwels ’n bron van siekte en infeksies is. Dit gebeur veral as kos te lank buite lê, voerplekke nie skoongemaak word nie en kos met huisafval gemeng word.

’n Tweede groot probleem is dat voëls wat kos kry weer diere lok, soos rotte, slange en selfs roofvoëls. Dit skep dan ’n gevaar vir troeteldiere en mense in die omgewing. Wetenskaplike navorsing het ook ander nadele uit die voeding van wilde voëls gevind:

– Getalsterkte voëltipes word onnatuurlik bevoordeel – “at the expense of declining species”.

– In Engeland is bevind dat die kuikens van voëls wat gevoed word kleiner is, minder beweeg en ook swakker vlieg.

– Voeding verander soms voëls se gedrag: hulle verwerp die natuurlike soekproses na kos, wat weer migrasiepatrone kan verander.

Tannie met die wildevoëlkos: kom ons dink weer bietjie oor:”MOENIE DIE WILD KOS GEE NIE!”

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer