• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Briewe uit die binneland – Piet, jy moet leer om Russies te praat (Deel 2)
Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Piet, jy moet leer om Russies te praat (Deel 2)

Liewe Genoot

Verlede week se verslag oor Piet Heyns se buurtannie, ene Sandra Werner, het geëindig waar sy met haar vier kinders die vlugtog oor ’n paar honderd kilometer aangepak het nadat die Russiese bevelvoerder haar en haar kinders na ’n soutmyn in Siberië toe wou verban. Maar wat het gebeur nadat sy en die kinders by hul ou woning in die Ruhrgebied aangekom het ná die vier maande van snags vlug en bedags wegkruip in ’n oorloggeteisterde Duitsland? En hoe het hulle op Stellenbosch beland?

Ons moet ’n stukkie voorgeskiedenis byhaal om die drade bymekaar te bring, oor Sandra se Skotse oupa, James Campbell (ongeveer 1800-1875). (Onthou, alle vanne is fiktief.) As jongman vertrek hy uit Skotland as sendeling na Madagaskar, maar moes ná die dood van Koning Radama die eiland verlaat omdat die nuwe koningin met alle geweld die eiland wou skoonmaak van buitelandse invloed. James vlug en beland in die Kaap.

Hy trou met Ellen Anderson wie se familie uit London na die Kaap gekom het, via St Helena. (Hulle het op die eiland gewoon in dieselfde tyd as wat Napoleon daar was.) As professor in Klassieke Tale word James een van die stigters en registrateur van die Suid-Afrikaanse Kollege, voorloper van UCT. Sy dogter was Mary (Sandra se ma), en sy kunstenaar-seun Hugh, was persoonlike sekretaris van die eerste minister. Hugh (1835 -1918) is nooit getroud nie. As dogter het Sandra dikwels by haar ouma Ellen en oom Hugh gekuier. Sandra was vir Hugh soos ’n eie dogter.

Terug (of liewer vorentoe) na Sandra en haar vier kinders in Duitsland by hul ou huis (wat gedurende die oorlog erg verniel is): Hulle omstandighede was benard. Boonop sterf haar oom Hugh tydens die oorlogsjare in Kaapstad, maar in die oorlogverskeurde Duitsland bereik die nuus haar nie. Hy laat vir haar ’n beskeie erfenis na.

’n Mens kan haar nie kwalik neem dat sy bittergraag weer terug in die Kaap wou wees nie. ’n Welwillende Britse kolonel wat deel was van die besettingstroepe in die Ruhrgebied, ken haar verhaal en skryf namens haar ’n brief aan generaal Smuts in Suid-Afrika. Binne maande ontvang sy die emigrasiedokumente, en kort daarna vertrek sy en die kinders vanaf Southampton met die Union Castle Kaap toe. Daar hoor sy toe van haar oom se nalatenskap, en beland uiteindelik op Stellenbosch waar die Heynse later hulle bure word.

Op 20 Junie 1951 verskyn daar ’n berig in die koerant: “CHANGE OF NAME, SECTION 9 OF THE ALIENS ACT 1937: It is hereby notified that His Excellency, the Governor-General ... is pleased to authorise ... that Sandra ... and minor children, ... residing in Dorp Street Stellenbosch assume the surname of ... Werner-Campbell.” Behalwe dat Sandra op hierdie manier erkenning gegee het aan haar oom Hugh, is daar nog ’n rede vir die vansverandering.

Die Rooikruis maak in ’n stadium kontak met Sandra en stel haar in kennis dat haar man ná die oorlog van Rusland af na Duitsland teruggekeer het. Toe hy sy gesin nie by sy pa se hospitaal-cum-huis in Berlyn vind nie, neem hy aan dat hulle in die bomaanvalle omgekom het. Hy vind ’n nuwe liefde en trou met haar. Die Rooikruis bewerkstellig egter kontak, en tydens ’n telefoongesprek besluit die twee om hulle huwelik wat nog steeds geldig is, te laat vaar en dat elkeen verder met sy/haar nuwe lewe sonder mekaar sal voortgaan.

Dankie Piet vir hierdie verhaal wat die begrippe ontsag en respek vir my in ’n ander, hoër betekeniskategorie geplaas het.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer