Briewe uit die binneland – Penspersepsies
Liewe Genoot
Vandag se brief kom weer nie uit die binneland nie, maar hierdie keer uit die suidpunt van ons Afrika-kontinent.
Ons ry saam met Manlief se dogter van Mowbray af middestad toe met die motor, haal daar die My City-bus tot in Groenpunt, en vind ’n gesellige café, laasgenoemde, soos in sy Nederlandse betekenis van (onder andere) “bierhuis”, “drankgelegenheid met sfeer” of “eetgelegenheid met drankjes”.
Buite waai ’n ysige wind en reën is op die spyskaart vir die wedstryd tussen die Barbarians en die Springbokke. Oorkant die kroeg waar ek sit, lê ’n reuse-dinosaurus se nes. Maar daar is nie ’n eier in die nes nie. Net ’n klomp mens-miere in die Kaapstadse Stadion.
Hier binne-in die café is dit snoesig en drie TV-skerms sorg dat ek niks misloop nie. Tafels is gepak met mense daaróm en biere daaróp.
Dit rumoer van stemme. Atmosfeer. Maar musiek skep tog ook atmosfeer, en dié het ek al probeer verwoord . . . Die gevoel as pragtige musiek my oorweldig. My skouers word sag en val mooi terug tot net effens agter my nek. (Ek het agtergekom dat ek my maag dan ook terselfdertyd netjies intrek – ’n bonus – maar dit het min te doen met die ligtheid in die omgewing van my slape langs my voorkop – net asof ek helderder sien, maar nie met my kyk-oog nie. Dié word wel wasiger, maar iewers in my borskas loop iets oor – in een of ander spreekwoordelike beker. Dis nou wat mooi musiek aan my doen.
En waaragtig . . . daar val Kolbe oor die doellyn in die hoek! Die drie word vervyf of versewe. Of ver-sewe? Die bierglase ratel op die tafels, arms vlieg die lug in, vreugdestemme klink op! Ek voel dit. Maar nie soos musiek nie.
Nee, hierdie saak is anders. Atmosfeer?
Die Engelse woord “vibe” werk beter hier. Vibe is ’n ietsie anders as atmosfeer. Die teenwoordigheid van die mens – nee, mense – is onontbeerlik vir ’n vibe. Mense met ’n gemeenskaplike passie vir iets – in hierdie geval – rugby.
Liewe Genoot, het ons ’n ekwivalent vir vibe in Afrikaans? Dink asseblief. Ons het dit nodig.
Die grootste uitdaging as ek met woorde werk, is steeds maar om gevoelens te bewoord. Om lettertekens bymekaar te rangskik wat ’n gewaarwording uitdruk. Iets abstraks sonder buitelyne. En dan vind ek dikwels dat dit makliker is om te sê wat dit NIE is nie.
Die gevoel van opwinding tydens ’n rugbywedstryd is NIE dieselfde as die gevoel wat ongelooflike musiek in my siel agterlaat nie. Dit is anders. Dit is ’n gut-feeling-ding. ’n Persepsie diep uit die pens.
Ek soek die Italiaans op vir gut feeling en kom af op “sensazione viscerale”. Nou móét ek tog nader aan die waarheid kom. Italianers weet mos hoe om te VOEL. Ek soek “visceral” op en vertaal die Engelse betekenis in Afrikaans: “’n gevoel baie diep in jou psige wat moeilik is om te beheer of te ignoreer, en wat nie die resultaat van denke is nie.”
Dit pas perfek! “Onbeheerbaar” en “on-ignoreerbaar”! En daarby “ondenkbaar” in sy wydste nuanses . . . Geen wonder ek sukkel so nie. Is dit wat “Bauchgefühl” in Duits beteken, my Duitssprekende genote?
Sport . . . rugby. Is dit ’n bietjie soos oorlog? Oorlog gebeur as jy iets het om te verloor, of iets wil hê wat jy nodig het, maar wat ’n ander moondheid het. En sport? Die gemene faktor met oorlog is mededinging enersyds, en oortollige energie andersyds. Mense wat pal honger het, speel nie sommer rugby nie en kan nie oorlog maak nie.
Maar ek wil nie regtig oorlog in hierdie gesprek inbring nie, liewe Genoot. Vandag wil ek konsentreer op die beker-oorloop-ding, en dié ding dat die mens tot ’n mededingende spesie behoort wat sy of haar vaardighede aan medespesielede wil toets. En dan die uitslag wil vier as jy wen, of soos ’n . . . ’n vrou . . . te aanvaar as jy die knie voor jou teenstander moes buig.
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie