Briewe uit die binneland – Ik ben lekker stout!

Genoot, ná my aftrede neig my bemoeienis met poësie al hoe meer na die podium se kant toe. En dan is die Nederlandse digter, Annie M.G. Schmidt (1911-1995), koningin van die Nederlandse kinderliteratuur, se werk vir my ’n goudmyn. Ek doen graag van haar gedigte, en het dan die voordeel dat, indien ’n Nederlandse woord vir die Afrikaanse gehoor onbekend sou wees, ek dit met ’n alternatief kan vervang ter wille van die behoud van begrip, en wanneer ek Afrikaanse gedigte in Nederland of Vlaandere doen, volg ek dieselfde beginsel.

Een van Schmidt se gedigte wat my betref ideaal is vir voordra, is getiteld “Ik ben lekker stout”, waar die ek-sprekertjie in geen onduidelike terme sê wat sy graag wil doen en beslis ook wat sy NIE wil doen nie:

“Ik wil niet meer, ik wil niet meer! /Ik wil geen handjes geven! / Ik wil

niet zeggen elke keer: /Jawel mevrouw, jawel meneer. /Nee, nooit meer in mijn leven! / Ik hou m’n handen op m’n rug / en ik zeg lekker niks terug!”

Maar daar is méér wat sy te sê het: sy wil (onder andere) “heel hard stampen in een plas / en dan m’n tong uitsteken / en morsen op m’n nieuwe jas / en ik wil overmorgen pas weer / met twee woorden spreken! / Ik wil alles wat niet mag, / de hele dag, de hele dag!”

Genoot, jy wonder seker nou hoekom ek na dié kind as vroulik verwys. . . Kom ons sê maar dat wanneer ek terugdink aan my kleintyd, ek my met soortgelyke situasies kan vereenselwig. (Deesdae moes ek al by meer as een niggie of neef wat ek laas in my laerskooldae gesien het, en nou na al die jare weer teëkom, hoor: Haai, Chrisna, jy het darem tog nie te sleg uitgedraai nie. (Dan ’n knipoog.) Toe jy klein was. . . En dan onderbreek hulle hulself summier ter wille van diplomasie. Die verskil is net dat ek as kind werklik nooit gedink het dat ek stout was nie. En al het ek die drang ondervind om al die dinge te doen wat in Annie Schmidt se gedig staan, het ek dit – meestal – nie durf doen nie en beslis ook nie durf sê nie. (Ek was dalk stout maar beslis nie stom-onnosel nie, en het geweet wat vir my goed was.)

Ek wil my nie oor kinderopvoeding uitspreek nie. Ek het self vier grootgemaak en is nie seker hoe goed ek aldag gevaar het nie. En my oudste het hoeka vir my op vyfjarige ouderdom gesê dat ek ’n boggerop van sy opvoeding maak en dat hy dit van toe af self sou doen.

Dit gaan vir my meer oor die waarde van poësie. Al wat ek weet, is dat dit vir my heerlik is om so ’n gediggie te hoor en om dit voor te dra. Teater is ’n geduldige medium, en daar mág mens rolle vertolk. En dan het die digter natuurlik die voordeel dat sy haar baie beter kan uitdruk op papier as die jonge kind wat haar wil uitspreek op die ingewing van die oomblik. Sy het op vier- of vyfjarige ouderdom immers nie die literêre vaardighede om haar gevoelens so uit te druk soos Schmidt nie. Die volwasse digter is volledig in beheer oor die produksie en verpakking van haar kinderliteratuur, en dan is dit weer ander volwassenes wat dit interpreteer en beoordeel wanneer dit gepubliseer word. Van die boeke word bekroon en so word (nog weer ander) grootmense beïnvloed om die boeke te koop. ’n Mens sou wel wil glo dat hierdie skrywers hulself in die kind se leefwêreld kon inleef sodat die boek uiteindelik vir die kind ’n aha-ervaring kan wees – wanneer dit uiteindelik by haar uitkom. Maar ek vra myself af of die pap nie soms tussen die lepel en die mond op die grond beland nie.

Tog voel dit vir my Annie M.G. Schmidt was beslis aan die kind se kant. Nie noodwendig téén die grootmense nie – anders het dit nie die winkelrak gehaal nie. Maar Genoot, is dit nie ironies nie: Grootmense geniet dit om die gediggie te hoor, maar om as die kind die aksies in die werklike lewe uit te voer, is dit dikwels ’n ander verhaal. Is daar fout? Of is dit bloot ’n kwessie van ongerief?

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer