Briewe uit die binneland – Gedigte is soos kos
Liewe Genoot, het jy iewers ’n gedig op jou selfoon, of ’n notaboek waarin jy sêgoed of vrye verse neerkrabbel? Dit kan rou of gepoleer wees. Dit kan eenvoudig ’n uitsê van ’n waarneming wees, of ’n kragtige refleksie van emosies wat ’n medesiel aan sy kraag nader ruk.
Poësie is vir my ’n werktuig in my hand wat ek op die verhoog wil uitspeel. Ek is verlief op gedigte wat voorgelees kan word en wat mense aangryp om. . . ja, verskillende redes. Dit is beslis nie swaar en ingewikkelde poësie nie, maar mens-poësie wat mense raak. As ek dit met kos moet vergelyk, sou dit ongeveer ’n roerbraai kan wees wat lig in die pan rondgeswiep word met net die nodige speserye en hitte en dan opgedien word met ’n stuk varsgebakte brood.
Ek wil sover gaan om te sê dat poësie los is van wette en reëls. Behalwe dat jy uiters ekonomies met woorde moet omgaan, en met so min woorde soveel as moontlik sê. Anders as stories of prosa dwing poësie my om my aandag aan die taal te gee, amper sin vir sin, of eintlik lettergreep vir lettergreep of klank vir klank. Die ritme en klank maak my sintuie gevoelig vir hoe ek die betekenis daarvan as’t ware in my liggaam aanvoel. Dit dwing my om aanwesig te wees in die nóú, en om halt te roep en die versoeking te weerstaan om spronge te maak na die volgende verwagting wat ek van die lewe het.
Tematies is die reikwydte egter so groot soos die Here se genade. Of jy oor die natuur dig, of oor verlore liefde, of die dood, of oudword, of oor die kat wat langs jou sit, die moontlikhede bly oneindig. Wat vir die leser die ervaring kragtig maak, is dat jy iets van die gees en hart van die kunstenaar daaragter te wete kom. En iets leer. Dikwels oor jouself.
Gedigte het hul eie anatomie met hul eie unieke stringe DNA waarin die evolusie van die mens as stippel in die heelal opgesluit is. Dit openbaar jou vandaankom, jou diepste vreugde, en ja, jou Achilles-hiel. Maar dit vertel ook van die tussenin-geleenthede waar jy die lewe in sy doodgewone gang ervaar.
Poësie gaan nie oor wat jy sê nie, maar oor hoe jy dit sê. Wat my voete soms totaal onder my uitslaan, is wanneer ’n alledaagse verskynsel uit sy normale konteks losgemaak word en ’n gedig daaroor geskryf word. Sodanige voorbeelde vind mens in die Nederlandse poësie van die laaste helfte van die 1900’s.
Die digter C.J. van Geel, byvoorbeeld, sien ’n hond iewers water drink uit ’n helder plassie en skryf die volgende: De hond drinkt uit zijn / spiegelbeeld / het hele plasje leeg.
So ontsettend gewoon, maar op so ’n ontsettend ongewone manier gesê. Dit is asof jy sien hoe die hond se spieëlbeeld stadig verdwyn soos wat hy die plassie water oplek. En nou, Genoot, probeer ek sowaar om dit aan jou te verduidelik, en die verduideliking is so pateties in vergelyking met die gedig self! Die gedig sê so duidelik wat daar bedoel word, dat ’n verduideliking onnodig is. En dan is die titel van hierdie klein driereëlige gediggie ’n kleine woord met vyf letters: “fatum”, waarvan die betekenis ongeveer gelyk is aan noodlot, godheid of die onafwendbare. Die uiteinde vir die hond in ons gedig is die oorsaak van sy daad. Hy lek al die water uit die plassie op en sy beeld verdwyn. Dis nie negatief nie; dit is ’n waarneming van ’n lid van die Homo sapiens-spesie.
Poësie soos hierdie gryp my aan en laat my op ’n ander manier na iets doodgewoons kyk, op ’n manier waaraan ek self nog nooit gedink het nie. Maar dit gaan ook oor transformasie, want dit laat my na myself kyk vanuit ’n ander, nuwe hoek. Dit word vir my bewys dat ek steeds groei en verander. Ten goede.
– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie