Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – Dankie vir die terugvoering!

Liewe lesers, julle terugvoering oor die rekenaarterme het intussen my vermoedens oor sekere terminologie – danksy julle reaksies – versterk. (En sekere dinge wat ek getoets het, het my laat besef dat ek my ooraktiewe verbeelding moet temper. En dit is goed so.)

Ek glo ook dat alles nie noodwendig verafrikaans móét word nie. Die akroniem AI het weer ter sprake gekom.

Ter illustrasie hoe verwarrend dinge kan word, die volgende: Soos reeds verlede week geredeneer is, sou die Engelse “artificial intelligence” in Afrikaans “kunsmatige intelligensie” of “kunsmatige inligting” kon word wat beide as “KI” afgekort sou word. Maar ons weet dit sal nie werk nie, want koeie kry KI en nie mense nie. En mens wil ook nie na artifisiële intelligensie toe gaan nie (en koeie ook nie), want dit ruik anglisisties. AI bly dan tog maar die beter keuse. Ek vra toe vir Elvira Hattingh of sy dink dat lesers AI op sy Afrikaans sal uitspreek, as byvoorbeeld “aa-ie”. Sy twyfel egter of dit sal gebeur want, sê sy, die landbouers praat gemaklik van “waivers” as hulle verwys na die kwytskeldingsdokument van die regering as dit by plaasverkope kom. Sy verduidelik verder: Dus, as die minister van landbou die “waiver”-dokument teken, “waive” of doen die regering afstand van hierdie reg (om die plaas te koop) en kan dit aan enige ander private persoon verkoop word. Maar ek bly karring oor die alewige AI, en Elvira, (en ook van die ander lesers) sê dat sy graag sou wou sien dat ’n Afrikaanse ekwivalent vir AI geskep word en stel voor dat mens van die werkwoord “naboots” af werk na iets soos nagebootste intelligensie wat dan NI kan word. Daarvan hou ek.

Liewe leesgenote, oor ’n hele paar terme het julle ongeveer dieselfde mening gehad. Vir “browse” is sonder uitsondering ooreengekom op die Afrikaanse ekwivalent “soek”. So ook het die woord “kieslys” gewen as die Afrikaans vir “menu”, “opdateer” vir “update”, “afmeld” vir “log out”, “uitvee” vir “delete” en “ontdoen” vir “undo”. Ek persoonlik hou nie so baie van die “kieslys”-variant nie. Dit klink soos iets waarop ’n paar politieke kandidate hulle verskyning kan maak. Maar heel moontlik sal die konteks tog die situasie red.

Waar ek gedink het die woord “dokument” sou beslis gekies word vir die Engelse “file”, het ek die pot misgesit, want “lêer” het meer aftrek gekry. Vir die Engelse “draft” is beide “konsep” en “plan” genoem, vir “troubleshooting” het “foutsoek” en “foutopsporing” aftrek gekry. So is daar vir die Engelse “bullet”, die variante “kolletjie” en “kolpunt” gekies, en vir “drag and drop” is “sleep en los” gekies en ook “trek en los” voorgestel. En vir “spreadsheet” (hoekom laat dit my so aan Marmite dink) het “spreitabel” en “sigblad” gewen. Ek het intussen gewonder of “spreiblad” nie ook sou werk nie. Dit is korter.

En dan iets interessants: het dié lesers wat die vier-lettergrepige “foutopsporing” bo die twee-lettergrepige “foutsoek” gekies het, gedink aan ’n moontlike kans dat “foutsoek” verwar kan word met die reeds gevestigde betekenis van foutsoek soos in “Hoekom soek jy altyd fout”?

En hoe interessant werk kommunikasie nie, want ek merk toe op dat Elvira van landbouers praat en ek van boere. Ek dink toe daaroor en besef die moontlike rede daarvoor. Dankie Elvira, ek verstaan nou. Maar ek het hier ’n verskuilde agenda: ek wil graag dat die woord boere gemaklik gebruik word sodat dit kan help om die ou apartheidsmakie wat daaraan kleef, af te skud.

Ek sluit eers hiermee die gesprek oor rekenaartaal af en ek moet bieg: my “doos” – wag, ek wil duideliker en ordentliker praat – my keuse “doos” vir “folder”, het minder aftrek gekry. Daar is loshande gekies vir “vakkie”. Maar ek het dit oorleef. As jy jou vir ’n toffie wil uitgee, dan moet jy weet. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-06-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer