• Tuisblad
  • Rubrieke
  • Briewe uit die binneland – As ’n rekenaar ekke was . . .
Chrisna Beuke-Muir
Chrisna Beuke-Muir

Briewe uit die binneland – As ’n rekenaar ekke was . . .

Liewe Genoot

Ons weet die woord outomaat vewys na ’n rekenaaragtige iets wat geprogammeer is om ’n spesifieke taak uit te voer – gewoonlik deur data te verwerk wat in sy sisteem ingevoer is.

As leek wil ek dit vergelyk met ’n langafstandatleet wat sekere kosse moet inneem om lank en aanhoudend te kan hol.

Eers iets oor rekenaarterme. Ek is meer as een maal in my professionele loopbaan gekritiseer oor die feit dat “suiwer Afrikaans” nie hoog genoeg op my prioriteitsleer staan nie. Daaroor voel ek in ’n sekere sin nog dieselfde, want ek wil graag sien dat Afrikaans ontwikkel en sy eie loop loop, en nie in te streng ratte tot stilstand knars nie. Maar wat ek graag sou wou sien gebeur, is dat ons in Afrikaans ons rekenaarterminologie ontwikkel sodat dit deel word van ons alledaagse woordeskat.

En ek glo dit is moontlik, omdat selfs ons sestigplussers dit elke dag gebruik. Ons kan daaraan gewoond raak.

Die Afrikaans vir Artificial Intelligence is Kunsmatige Intelligensie; dus sou ons kon praat van KI. Maar dan sou ek hom wou uitspreek as “kaa ie” – so op sy Afrikaans. Nou my vraag: sal dit werk as iemand iets sê soos byvoorbeeld: Vandag het KI my weer ondergekry. Sal die toehoorders dadelik weet waaroor dit gaan, of stil wonder: Mis ek iets, of . . .? Sou dit beter wees om in hierdie geval by die meer internasionale term AI te hou? Tog begin ’n ander woordjie, naamlik toep vir die Engelse app nou veld wen in Afrikaans. Waarom nie KI nie?

Maar, Genoot, waarby ek eintlik wil uitkom, is die boek wat ek gekoop het omdat ek weet dat ek en jy moet bybly as ons in vandag se wêreld sinvol wil bly kommunikeer. Penguin het die boek Simply AI: Facts made fast uitgegee, en ’n hele boel skrywers en analiste het saam daaraan gewerk. En hulle begin by die begin: as jy ’n masjien wil leer hoe om slim te wees, moet jy eers “slim” of ‘‘intelligent’’ definieer.

’n Engelsman, Alan Turing (1912 – 54) het ’n toets ontwerp om te bepaal of ’n masjien soos ’n mens intelligent kan wees. Sy toets het gefokus op numeriese intelligensie. ’n Klompie jaar terug het ons gelukkig ook begin hoor van emosionele intelligensie, EI. Daaroor was ek baie bly, want dit het my laat voel dat ek dalk dáárin nie te akkies is nie. Dit was vóór ek dié boek gelees het.

In Simply AI lees ek toe oor ag tipes intelligensies. Twee van hierdie ag, die sensoriese en die reflektiewe intelligensies, vang eerste my oog.

Toe ek oor die sensoriese intelligensie lees, oorval ’n AHA-ervaring my, en ek besef dat dit in mý geval híér is waar die pôpô die fan straaik lat jy net sien pitte waai. Dit gaan oor, so glo ek, die fisiese interaksie met jou omgewing.

En nou verstaan ek waarom ek in my kort leeftyd al ’n totaal van meer as veertig steke in my vingers moes kry. En snaaks genoeg, al my vingers het deurgeloop, behalwe my duime en pinkies. As ek kosmaak, wil ek met ’n skerp mes werk. (En Chrisjan wéét hoe.) Die pinkie is die verste van die mes af as ek sny, maar dat my duime nog geen littekens het nie, is pure liefdevolle genade. My langeraad en wysvinger (maal twee) het tussen die vier van hulle die meeste van die veertig steke. En dit maak vir my sin. Ek is sensories – laat ek sê – effens dom. Of dalk te haastig of te gretig? Die vraag is: Wat kan ek daaraan doen?

Dáároor gaan ek eers slaap. En dan hopelik wakker word met die idee dat . . .

Maar liewe Genoot, AI-..., nee KI-masjiene lyk asof hulle ’n verstand van hulle eie het. MAAR: daar moet nog een gebou word wat haar eie aksies kan beheer. Ook ek moet dit nog onder die knie kry.

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-08-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer