Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Beloftes en profesieë

Ek was nog altyd verwonderd oor my mede-Christene wat oor God en sy beloftes praat.

Daar is so baie beloftes wat God in die Ou Testament aan sy volk gemaak het. Ook in die Nuwe Testament is daar beloftes wat deur Jesus en die dissipels aan die gelowiges van daardie tyd – namens God – gemaak is.

Wanneer ek Christene rondom my hoor praat van die beloftes wat God in hul lewens gemaak het, kyk ek gewoonlik maar die saak met groot oë aan. In my lewe is daar sover nog min sulke dinge om oor te vertel.

Hoe weet ’n mens dat sekere dinge wat rondom jou gebeur of in jou lewe gebeur ’n belofte van God is? En soms is daar mense wat dinge in ’n mens se lewe spreek en dan wonder ’n mens of dit net die mense se wens vir jou in daardie situasie is, en of dit werklik iets soos ’n belofte of ’n profesie is.

1 Tessalonisense 5:20-23 (83 vertaling) sê: “Moenie profesieë geringskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.”

En in Deuteronomium 18:21 (83 vertaling) is daar weer die ou testamentiese riglyn wat sê: “Wanneer jy jou afvra: Hoe sal ek die woorde kan uitken wat die Here nie met die profeet gepraat het nie? Moet jy weet: As ’n profeet iets in die Naam van die Here aankondig en dit kom nie uit nie en dit gebeur nie so nie, dan het die Here nie met die profeet gepraat nie. Dan het die profeet hom dit aangematig en hoef jy jou nie aan hom te steur nie.”

Dus is die toets van ’n ware profesie die toets van tyd. In watter vorm ook al ’n mens die boodskap gehoor het. Toets dit eers teen tyd en kyk of dit wel gebeur om te sien of dit waar word voor jy dit glo.

Dit herinner my so bietjie aan Sagaria wat direk van ’n engel van die Here gehoor het dat hy ’n pa gaan word. Sagaria was skepties omdat sy vrou reeds oud was. Die engel het hom “stomgeslaan” en hy kon nie oor die saak praat totdat die belofte vervul was nie. Dit was waarskynlik om hom teen homself te beskerm. Hoe dit ook al sy.

Toe die belofte vervul is, kon Sagaria sy getuienis oor die saak bydra deurdat hy weer kon praat. En dit was toe ook die regte tyd vir die storie om uit te kom.

Dalk sal ek iewers vorentoe die voorreg hê om een van hierdie beloftes wat in my lewe gebeur het met julle te deel, dalk nie. Die gedagte of belofte word op die oomblik nog eers getoets en ek bly “stomgeslaan” daaroor. Net tyd sal leer.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-07-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer