Parlementslede het voorgestel dat die ECN sy eie bates aankoop en huurkontrakte moet afskaf. Foto verskaf
Parlementslede het voorgestel dat die ECN sy eie bates aankoop en huurkontrakte moet afskaf. Foto verskaf

Wetgewers ontstig oor ECN se ‘huurgewoontes’

Versoek beoordeling van uitgawes
Lede van die parlement het die ECN se neiging om toerusting te huur, bevraagteken.
Nikanor Nangolo
Parlementslede het die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) se volgehoue afhanklikheid van die huur van eiendom en toerusting voor elke verkiesingsiklus en die volhoubaarheid van hierdie model bevraagteken.

Tydens die ECN se begrotingsdebat het lede die entiteit versoek om eerder in sy eie bates te belê om sodoende sy koste op die lang termyn te verminder en bedryfsdoeltreffendheid te verbeter.



OPPOSISIELEDE

Inna Hengari van die Popular Democratic Movement (PDM) het bevraagteken waarom ’n entiteit wat die mandaat het om een van die land se mees kritieke demokratiese funksies uit te voer, nie permanente infrastruktuur en toerusting het nie.

“Vir ’n liggaam wat die mandaat het om so ’n kritieke nasionale oefening elke verkiesingsiklus uit te voer, moet daar verwag word dat hulle voertuie, toerusting en kantoorruimte nodig sal wees.

“Is die huur, hetsy eiendom of toerusting, ’n volhoubare langtermynstrategie vir so ’n belangrike instelling?” het sy gevra.

“Neem byvoorbeeld kerke: in plaas daarvan om elke Sondag instrumente soos kitare, mikrofone of klawerborde te huur, koop hulle geleidelik hul eie aan.

“Hulle gebruik hul tiendes, miskien selfs van die minister van justisie, en sit fondse opsy om in permanente toerusting vir hul koor te belê.

“Waarom kan die ECN nie dieselfde doen nie, belê in toerusting en bates wat hulle weet elke verkiesingsiklus benodig sal word, eerder as om dit herhaaldelik te huur?

“Dit sal geld spaar en operasionele betroubaarheid verhoog,” het sy bygevoeg.

Die leier van die Body of Christ Party, Festus Thomas, het sy kommer uitgespreek en die ECN se gebrek aan deursigtigheid rondom voertuighuurkoste tydens verkiesings gekritiseer.

“Elke verkiesing huur die ECN ’n groot aantal voertuie teen ’n koste wat nie bekend gemaak word nie.

“Hoekom kan hulle nie net hul eie vloot koop in plaas daarvan om herhaaldelik groot bedrae aan huurgeld te bestee nie?

“Dit lyk ook nie of hulle hierdie gehuurde bates goed bestuur nie. So, wat gaan werklik aan?” het Thomas gevra.

“Dit is hoekom ons sê hierdie begroting moet terugverwys word. Ons moet presies weet waarheen die geld gaan. Wat doen hulle met die fondse? Of is daar ’n versteekte kanaal waar geld invloei en stilweg weggevoer word?” het hy gevra.

Die Affirmative Repositioning se George Kambala het sy stem by die debat gevoeg en voorgestel dat versekeringspolisse vir private voertuie wat deur die ECN gehuur word, hersien en opgeskerp moet word.

“Die ECN versoek elke jaar voertuie van die publiek, maar wanneer voertuie beskadig word, weier versekeringsmaatskappye om die koste te dek.

“Dus moet die ECN óf verantwoordelikheid neem vir die skade, óf ons moet die versekeringsdekking vir hierdie voertuie verhoog,” het Kambala gesê.

Vir die 2025-’26-boekjaar is N$647 813 000 aan die ECN toegeken. Hiervan is N$69 348 000 vir personeeluitgawes, terwyl N$578 465 000 vir niepersoneelkoste geoormerk is, wat daaglikse sake- en verkiesingsbedrywighede dek.

Hengari het ook die idee verwerp dat daar nie genoegsame fondse aan die ECN toegeken word nie (underfunded).

“Ek glo byvoorbeeld tydens die vorige verkiesings is ’n bedrag van N$47 miljoen spesifiek bewillig om jeugdeelname aan die verkiesingsproses aan te moedig.

“Toe, nader aan die verkiesing, is aangekondig dat die ECN ongeveer 2 172 voertuie benodig om materiaal en personeel te vervoer,” het sy gesê.

“Dus, terwyl ’n mens dalk op die begrotingsyfers en -toewysings wil fokus, is dit ewe belangrik om introspeksie te doen: Wat presies het tydens die laaste verkiesing met die fondse gebeur wat aan die ECN toegeken is?

“Eerstens het ons stembriewe by sekere stemlokale opgeraak. Tweedens was sommige kiesers gefrustreerd en het besluit om huis toe te gaan sonder om te stem. Dit is ernstige operasionele mislukkings,” het Hengari beklemtoon.

“Daarom glo ek nie die oplossing lê daarin om bloot meer geld na die ECN te gooi nie.

“Ons het ’n eerlike en ernstige beoordeling nodig of die entiteit se strategie strook met sy primêre doelwit, naamlik om regverdige, toeganklike en geloofwaardige verkiesings te hou waar alle burgers geregtig is om hul stemreg vrylik uit te oefen.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer