Nuwe GIPF-behuisingskema werk só, sê uitvoerende hoof
N$900 miljoen begroot
Tucna betreur die feit dat slegs twee maatskappye administrasiewe dienste vir die lenings sal verskaf.
Altesaam N$900 miljoen word opsy gesit vir staatsamptenare om uit hul pensioengeld te leen om nuwe huise te bou of te koop.
Só het die uitvoerende hoof van die staat se pensioenfonds (GIPF), Martin Inkumbi, vandeesweek bevestig.
Nadat die Vakbondkongres van Namibië (Tucna) vroeër vandeesmaand kommer uitgespreek het oor die GIPF se jongste plan om pensioengeld vir behuising aan sy lede beskikbaar te stel, het Inkumbi Maandag antwoorde verskaf.
Tucna se president, Mahongora Kavihua, is vasbeslote dat die pensioen-gesteunde behuisingskema nie verder moet bydra tot die hoë ongelykheid wat die Namibiese samelewing teister nie.
Volgens hom behoort pensioenfondse, wat saamgestel is uit geld wat deur werknemers verdien word, aansporings te bied vir ’n meer gelyke Namibië.
“Maar dié benadering van die GIPF is in hierdie geval gemik op ’n uitkoms wat teenstrydig is met die ideaal van billike verdeling van welvaart,” het Kavihua gesê.
Hy maak kapsie teen die GIPF se plan om slegs twee maatskappye as administrateurs toe te laat vir die geld wat aan lede beskikbaar gestel sal word vir die bou of aankoop van huise.
Om net First Capital Namibia of Kuleni Financial Services toe te laat om die geld te bestuur, sal volgens Kavihua die “lelike verskynsel van die oormatige sentralisering van welvaart in die hande van ’n paar laat, en sodoende hul winste ten koste van die werkers vermeerder”.
Kavihua sê die vakbond beplan om die eerste minister met meer volhoubare voorstelle te nader en hom te oortuig om die skema in beginsel te verwerp.
Inkumbi sê die GIPF wag net vir die eerste minister, Elijah Ngurare, om ’n Memorandum van Verstandhouding (MoU) te onderteken sodat die skema kan voortgaan.
Die MoU sal onder meer voorsiening maak vir die direkte aftrekking van die terugbetaling van huislenings waarvoor die GIPF tot ’n derde van lede se pensioenvoordele beskikbaar sal stel.
Inkumbi stem nie saam dat die eksklusiewe mandaat vir First Capital en Kuleni daarop gemik is om die twee maatskappye te verryk nie.
Hy verwys na die feit dat die geld wat terugbetaal word terug na die lid se GIPF-rekening gaan, sodat hulle hul volle pensioen met aftrede kan geniet.
Verder is die rente op die lening billiker as lenings van handelsbanke, spesifiek bereken teen die Bank of Namibia (BoN) se koers plus 2,5%, wat tans neerkom op 6,75% plus 2.5% en gelyk is aan 9,25%. Handelsbanke se uitleenkoerse is 10,5%, en 11,25% word oor die algemeen op verbandleningskoerse toegepas.
Die administratiewe koste van N$30 per maand is ook redelik, sê hy.
Kuleni is 100% in besit van die GIPF, terwyl First Capital reeds ’n verhouding met die GIPF het aangesien dit huisverbande vir GIPF-lede bestuur.
Die nuwe skema sal nie ’n huisverband behels nie, brei Inkumbi uit, en daarom sal die versuim om die lening terug te betaal net die beskikbare derde van die pensioenvoordele in gevaar stel, eerder as die beslaglegging op die betrokke eiendom.
Die aftrekkingsooreenkoms met die regering as werkgewer sal wanbetalings voorkom, voeg hy by.
Ander kostes sluit in ’n eenmalige waardasiefooi in verband met die aankoop van ’n bestaande huis, of ’n bou-inspeksiefooi in verband met die konstruksie van ’n nuwe huis. Terugbetalings word oor ’n maksimum tydperk van 20 jaar bereken.
“Die skema is meer gefokus op konvensionele baksteen-en-sement-konstruksie,” sê Inkumbi toe hy gevra is oor die toelaatbaarheid van alternatiewe laerkostebehuising.
Die lening is ook bedoel vir ’n primêre woning, hoewel dit vir lede moontlik is om twee primêre huise te hê, volgens die GIPF se beleggingsdienstebestuurder, Cacious Siboleka.
Huise in dorpe of ongeproklameerde gebiede kan goedgekeur word, voeg hy by.
Grondeienaarskap of bewyse van reg tot grondbesetting sal egter ’n vereiste wees.
Kyk hier ’n samestelling van die twee standpunte: q.my.na/4FWS.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie