’n Man is onlangs dood in ’n laaigraafongeluk by ’n sandmyn buite Okahandja. Foto Augetto Graig
’n Man is onlangs dood in ’n laaigraafongeluk by ’n sandmyn buite Okahandja. Foto Augetto Graig

Bestuur reageer ná tragedie by sandmyn

Augetto Graig
Die vyftig werknemers by JT Freighting se filiaal, Super Sand, se sandmynboubedrywighede in die Swakoprivier buite Okahandja is erg getraumatiseer deur die tragiese dood van Tobias Takati op 25 Mei 2025, sê die maatskappy se bestuur.

Volgens die voorlopige polisieverslag het die bestuurder van ’n laaigraaf omstreeks 09:23 agteruitgery toe hy sy kollega, wat agter die voertuig was, omgery het.

“Hy het na bewering eers die liggaam op die grond opgemerk toe hy die laaigraaf gaan parkeer het. Die beseerde is na die Okahandja-staatshospitaal geneem, maar het aan sy beserings beswyk,” lui die polisie se verslag.

Volgens Super Sand en JT Freighting se Danco van der Merwe is dit die eerste sterfgeval by die sandmyn waar geen beserings deur die loop van die jaar plaasgevind het nie.

“’n Private ambulans is onmiddellik ontbied terwyl ’n noodhulpbeampte geroep is om die beseerde persoon by te staan. Daarna is die polisie ontbied,” sê hy.

Volgens Van der Merwe is die betrokke laaigraafbestuurder direk na ’n maatskaplike werker geneem nadat hy sy polisieverklaring afgelê het en het ’n grasieperiode vir die res van die week gekry om vir berading te gaan.

Hy is voorheen intern opgelei en het sy werk doeltreffend op die perseel gedoen, verduidelik Van der Merwe.

“Daar is geen lisensiebehoefte vir die bestuur van ’n laaigraaf in die veld nie,” voeg hy by.

“Die maatskappy het vir die hele begrafnis betaal en alle kostes gedek, insluitend die vervoer van die oorledene se oorskot na Gibeon. Uitgawes het die kis, grafsteen en kos by die begrafnis ingesluit,” het hy op navraag van Network Media Hub (NMH) gesê.

Sedert die voorval het al die bestuurders bykomende veiligheidsopleiding ontvang, terwyl ander prosedures op die perseel die gebruik van sekere masjiene tot sekere gebiede beperk, brei hy uit.

Alle werknemers is by die Maatskaplike Voorsorgkommissie (SSC) geregistreer, sê Van der Merwe, en dat eise by die kommissie ingedien is, met toekomstige uitbetalings wat ten gunste van die familie verwag word.

“Alle werknemers wat langer as twee jaar by die maatskappy is, word ook voorsien van ’n private

pensioenfonds, wat ook bykomende begrafnisvoordele vir hul gesinne insluit,” sê Van der Merwe.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-11-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer