Die voormalige meester-jaggids, Brian Roodt. FOTO ARGIEF
Die voormalige meester-jaggids, Brian Roodt. FOTO ARGIEF

Brian Roodt dié keer in sjef se sop

Francoise Steynberg
Die vermeende wildmisdadiger en voormalige meesterjaggids wat kort-kort in die hof is, Brian Roodt van Quality Hunting Safaris, is weer in die sop, dié keer spreekwoordelik in ’n sjef s’n.

Raymond Thourob, ’n 37-jarige sjef op die plaas Kaross in die Kamanjab-distrik, het gister ’n klag van aanranding teen Roodt by die Namibiese polisie op Kamanjab aanhangig gemaak.

Die plaas Kaross behoort aan die vermeende Britse miljardêr en moordbeskuldigde, Harvey Boulter, waar Roodt volgens Boulter gejag het.

Roodt is tans op borgtog van N$30 000 vrygelaat nadat hy op verskeie aanklagte in verband met onwettige jag van wild in verskeie howe verskyn het. Intussen is sy meester-jaggidslisensie in Julie verlede jaar al teruggetrek.

Die jongste voorval spruit uit ’n rusie tussen die sjef en Roodt oor vuil skottelgoed in die wasbak.

“Dit is jou werk om die f****n skottelgoed te was,” het Roodt volgens Thourob se eedsverklaring aan die sjef gesê.

“Brian het toe op my afgestorm en my aan die hemp gegryp en gesê as ek ’n probleem met hom het, hy my sal slaan.

“Brian het my met sy gebalde regtervuis op die wang geslaan. Nadat ek myself uitgeworstel het, het hy my aan die hare gegryp en in die proses het hy een van my rastalokke uitgetrek,” lui Thourob se verklaring.



‘RASSISTIESE AANMERKING’

Volgens die verklaring het Roodt ook rassistiese aanmerking teenoor Thourob gemaak.

“Ek sal daai dagga uit jou swart lyf uitslaan, b*****m.”

Dreigemente het glo tussen die twee rondgevlieg waarna Roodt glo later met ’n vuurwapen, versteek onder sy hemp uit sy kamer gekom en weer vir Thourob gekonfronteer het.

Volgens die verklaring het Roodt gesê “laat ek van hierdie plaas weggaan voordat ek ’n tweede Harvey word” met verwysing na die skietvoorval waarin Boulter se voormalige plaasbestuurder, Gerhard van Wyk, gesterf het. Boulter staan tereg op Van Wyk se moord.

Thoroub het toe glo die saak by die polisie aangemeld, maar nie ’n klag aanhangig gemaak nie.

Op 13 April was daar volgens Boulter ’n argument tussen Roodt en die personeel oor ’n vet fooitjie vir die personeel.

“Die kliënte was baie gelukkig. Hulle het US$800 as fooitjie gelos. Brian het dit gesien en die koevert gegryp en die geld gevat. Hy het US$20 vir elke personeellid gegee en die res vir homself gehou,” het Boulter gister telefonies aan Network Media Hub (NMH) gesê.

“Hy het die plaaswerkers bedrieg. Hulle is nie ryk nie en hulle het baie hard gewerk. Die kliënt het gesê ‘dit is so ’n skande dat die man [Roodt] mense so misbruik,” het Boulter gesê.

Volgens Thourob se verklaring het Roodt hom gedreig en gesê “ek sal jou seermaak as ek jou buite hierdie lodge kry”.

Die sjef het sy verklaring afgesluit: “Ek het nie die reg of toestemming aan enigiemand gegee om my aan te rand nie, daarom versoek ek ’n polisieondersoek en vervolging in hierdie saak.”

Boulter het ook aan NMH bevestig dat hy ’n siviele klag teen Roodt aanhangig gaan maak.



SKULD BOULTER NOG GLO N$83 000

“Ten spyte daarvan dat hy [Roodt] sy volle kommissie vir die jag gevat het, het hy geweier om die plaas te betaal en slegs 60% van sy faktuur vereffen, wat ons nou noop om ook ’n siviele saak te open om die N$83 000 wat steeds aan die plaas verskuldig is, te verhaal,” het Boulter bevestig.

Roodt, wat ook ’n finalis in die Mnr. Supranasionaal 2023-kompetisie was, is vir die eerste keer op 24 Desember 2023 in hegtenis geneem waarna hy vir verskeie wildmisdaadsake op Dordabis, Outjo en in Windhoek verskyn het.

Die Outjo-saak behels die onwettig jag van ’n impala, bergsebra, vlaktesebra, Damara dik-dik, waterbok, steenbok, rooihartebees, gemsbok, springbok, koedoe, blesbok en rooikat op ’n bekende boer se plaas.

Roodt en sy kliënt het volgens die gesamentlike beskermde hulpbronne-eenheid van die Namibiese polisie en omgewingsministerie wel jagpermitte gehad, maar nie vir dié spesifieke plaas nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer