Net 28 geregistreerde sielkundiges in Namibië

2024-’25-begrotingsjaar: 11 400 in hospitale opgeneem
Elizabeth Kheibes
Namibië staar ’n nypende tekort aan geestesgesondheidspersoneel in die gesig, met slegs 28 geregistreerde sielkundiges wat ’n bevolking van meer as drie miljoen mense moet bedien.



Tydens ’n debat Dinsdag in die parlement oor die wetsontwerp op geestes­gesondheid het die parle­mentslid en ­adjunkminister van ­stedelike en landelike ontwikkeling, Evelyn ­!Nawases-Taeyele, gewaarsku die land se geestesgesondheid­situasie het ­“­epidemiese ­afmetings” bereik en vereis ­dringende optrede.



Vroeër vanjaar het die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Esperance Luvindao, tydens ’n simposium oor die bewusmaking van geestesgesondheid in Windhoek gesê Namibië het meer as 91 500 geestesgesondheidskonsultasies vir buitepasiënte en 11 400 opnames in die hospitaal gedurende die 2024-’25-boekjaar aangeteken.



Volgens !Nawases-­Taeyele het die Sielkun­dige Vereniging van Namibië (PAN) gesê van die 28 sielkundiges wat tans geregistreer is, net tien onafhanklik prakti­seer. Die meeste is in Windhoek gebaseer, wat ’n groot deel van die land sonder gespesialiseerde sorg laat.



Die adjunkminister het aan die parlement gesê dat slegs een psigiater op Oshakati gestasioneer is, ’n ander in Swakopmund, en dat ’n enkele psigiater by die Windhoek ­Sentrale Hospitaal se eenheid vir geestesgesondheid werksaam is, wat tussen die Katutura- en die ­Sentrale Hospitaal roteer.



Network Media Hub (NMH) kon teen druktyd nie onafhanklik die totale aantal sielkundiges wat tans in Namibië werk, ­verifieer nie.



STRUIKELBLOK



­!Nawases-Taeyele het verder ­beklemtoon dat die gebrek aan ­ambulanse en vervoer by die Windhoek Sentrale ­Hospitaal se eenheid vir geestes­gesondheid “’n ­beduidende struikelblok vir behandeling bied” en stigma laat voortduur.



“Sulke omstandighede beperk nie net toegang tot kritieke sorg nie, maar versterk ook die skadelike opvatting van geestesgesondheid wat in ons samelewing heers,” het sy gesê.



Die adjunkminister het die feit betreur dat befondsing vir geestesgesondheid minimaal bly en minder as 5% van die nasionale gesondheidsbegroting uitmaak – ver onder die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) se aanbevole toewysing.



Sy het gesê die beperkte hulpbronne en ’n gebrek aan opgeleide personeel “vererger die krisis”.



“Ons moet die bevordering van waardigheid en regte binne geestesgesondheidsorg prioritiseer.



“Geestesgesondheid beïnvloed elkeen van ons; ons is almal kandidate vir geestesgesondheidsuitdagings, of dit nou in hierdie Huis, ons werkplekke of ons huise is,” het sy aan haar medewet­gewers gesê.



PARADIGMASKUIF



Haar opmerkings het die kommer weerspieël wat deur Luvindao geopper is, wat verlede maand die nuwe wetsontwerp op geestesgesondheid in die parlement ter tafel gelê het.



Die minister het gesê die wetsontwerp poog om die verouderde Wet op Geestes­gesondheid van 1973 te vervang, wat fokus op ­institusionalisering en beheer eerder as rehabilitasie en regte.



“Die wetsontwerp verteenwoordig ’n paradigma­verskuiwing van beheer en inperking na ’n regtegebaseerde, pasiëntgefokusde en gemeenskapsgeoriënteerde stelsel van geestes­gesondheidsorg.



“Dit verseker dat geestesgesondheidsdienste nie net in Windhoek toeganklik is nie, maar oraloor die streke van die land,” het Luvindao gesê.



Die nuwe wetgewing stel die stigting van onafhanklike hersieningsrade, gedesentraliseerde sorg en wetlike waarborge voor om pasiënte se regte te beskerm. Dit beklemtoon ook gemeenskapsgebaseerde behandeling, insluiting en waardigheid, in lyn met Namibië se verpligtinge ingevolge die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede.



Wêreldwyd skat die WHO dat een uit elke vier mense op een of ander stadium in hul lewens ’n geestes­gesondheidsversteuring sal ervaar – ’n statistiek wat !Nawases-Taeyele gesê het “ons ­kollektiewe verantwoordelikheid ­beklemtoon om op te tree”.



Sy het die regering aangespoor om meer te belê in geestesgesondheidsinfrastruktuur, opleiding en bewusmakingsveldtogte, veral in landelike gebiede waar dienste steeds skaars is.



“Ons optrede moet by ons woorde pas. Deur geestesgesondheid in ons beleide en begrotings te prioritiseer, kan ons ’n ­samelewing bou waar elke individu met respek, sorg en ondersteuning behandel word,” het sy afgesluit.”



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-10-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer