Kan ek jou ‘movie guy’ wees?

Iréne-Mari van der Walt
Dis geen geheim dat ek van flieks hou nie; soms kom dit dalk soos ’n obsessie voor.



Ek het vanjaar amper 300 flieks gekyk en nie omdat ek gevoel het ek moes nie, maar omdat ek regtig wou. Ek het elke liewe minuut daarvan geniet, al het ek ’n paar flieks gekyk wat ek regtig gehaat het.



Ek kyk flieks nie net vir vermaak nie, maar ook om iets te leer en hopelik om my ervarings te deel. Die storie van ’n fliek sal altyd die belangrikste deel vir my wees.



Ek wil iets voel – dit kan geluk, hartseer, woede of selfs vrees wees. Ek wil net iets voel en soms heeltemal in die storie verdwyn (net nie in gruwelflieks nie).



Ek wil in die skoene van ’n karakter stap en hul motiverings en struwelinge ­verstaan. Ek is nie ’n akteur nie, maar ek hou daarvan om myself as deel van ’n fiktiewe wêreld op die skerm te sien.



Ek hou van stories en storievertelling. Ek hou daarvan om nuwe wêrelde te verbeel én ek hou daarvan om nuwe wêrelde deur flieks te ontdek.



So, kan ek jou “movie guy” wees? Ek belowe om regverdig en eerlik te wees wanneer ek ’n fliek resenseer. Ek verstaan dalk nie al die tegniese dinge nie, maar ek dink ek weet genoeg oor stories en karakters. Ek dink ook ek weet genoeg oor kinematografie en klankontwerp om te weet wanneer dit goed of sleg is. Ek weet ook dat ’n goeie klankbaan en musiek ’n goeie fliek in ’n puik een kan omskep.



Wanneer dit by die produksie kom, dink ek ek weet genoeg oor spesiale effekte om dadelik te sien wat sleg lyk. Wat jy op die skerm sien, is net so belangrik soos hoe die storie jou laat voel.



Sommige flieks kan ’n gemiddelde storielyn hê, maar visueel asemrowend wees (ek dink almal kan raai na watter fliek ek verwys). Dan is daar flieks met goeie storielyne, maar die wêreld waarin hulle leef, voel soos iets uit ’n ou videospeletjie.



Ek hou nie net van flieks nie, ek hou van die bioskoop! Ek sal altyd ’n voorstander van die rolprentteater wees. Ek dink – nee, ek weet – meeste flieks is beter as jy hulle eers in die bioskoop kyk. Dit gaan nie net oor om iets te kyk nie; dit gaan oor die hele ervaring: die reuk van spring­mielies, die koue slushies en die Astros wat ons soms insmokkel.



Dit gaan oor die “magic” van die silwerdoek. Dit gaan daaroor om eerste ’n fliek te kyk en dan daaroor by die skool, werk, of selfs by die kerk te spog. Dit gaan daaroor om in ’n ander werklikheid in te stap en jouself toe te laat om heeltemal daarin te verdwyn.



Ek is dankbaar vir die bioskoop-ervaring. Ek waardeer almal wat op die skerm en agter die skerms werk om ons hierdie flieks te bring.



Een laaste ding, kan ek jou “movie guy” wees? Ek belowe om altyd te sê wat ek dink of voel, ongeag of dit goed of sleg is. Ek wil net hê almal moet die bioskoop-ervaring net soveel soos ek geniet. Flieks is regtig fantasties.



[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer