Databeskerming: Konsepwet ‘wéér in parlement’
Iréne-Mari van der Walt
Sowat 12 jaar nadat die eerste werk aan die konsepwet op databeskerming begin het, sal dit na verwagting volgende maand wéér in die parlement ter tafel gelê word.
Só het die minister van inligting en kommunikasietegnologie, Emma Theofelus, gister by Standard Bank se konferensie teen finansiële misdaad in Windhoek gesê.
’n Navorser verbonde aan die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), Frederico Links, sê egter hy hoop die kwessies wat hy en die IPPR in 2023 beklemtoon het, word in die jongste weergawe van die wetsontwerp aangespreek.
“Ons het nog nie gesien of daar enige wysigings aangebring is aan die wetsontwerp wat in 2023 bespreek is nie. Totdat ons die jongste weergawe onder oë gehad het, bly ons redes tot kommer dieselfde as in 2023 – dat dit nie die regte van dataonderwerpe, soos ek en jy, behoorlik aanspreek nie,” sê Links.
Hy verduidelik ’n gedeelte uit ’n vorige weergawe van die wetsontwerp, wat hierdie kwessie aanspreek, is in 2020 verwyder en is nog nie weer wesenlik teruggevoeg tot die jongste weergawe van die wetsontwerp waarvan hy bewus is nie.
“Ons kommer is dat dit te kort sal skiet in vergelyking met die beste praktyk. Ons hoop egter ons sal nog kan bydra nadat die wetsontwerp ter tafel gelê is, maar as ’n wetsontwerp ter tafel gelê word, beteken dit gewoonlik dit is op die kortpad na inwerkingtreding,” sê hy.
“Hierdie wetsontwerp is ’n hoeksteen van Namibië se digitale bestuurstrategie. Dit sal verseker dat persoonlike data beskerm word, privaatheid gerespekteer word en digitale transaksies veilig is.
“Benewens die beskerming van individuele regte, sal die wetsontwerp die publiek se vertroue in digitale platforms versterk, ’n veiliger omgewing vir aanlyn sake skep en Namibië in lyn bring met internasionale beste praktyke
oor databeskerming.
“Dit sal ook vernuwing ondersteun deur duidelike riglyne vir die etiese gebruik van data te verskaf, wat beide openbare instellings en private ondernemings bemagtig om tegnologie verantwoordelik te gebruik,” het Theofelus oor die wetsontwerp gesê.
FINANSIËLE MISDAAD
Sy het ook tydens die konferensie gesê die Finansiële Intelligensiesentrum (FIC) het meer as N$96,9 miljoen in die afgelope boekjaar gevries, wat na bewering winste uit onwettige bedrywighede was.
Die FIC het ook die afgelope jaar kragte met die Namibiese polisie en die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) saamgesnoer om 148 klagtes te ondersoek en het sodoende 50 slagoffers en 128 persone van belang geïdentifiseer.
“Finansiële misdade; insluitend bedrog, geldwassery en verduistering – is verantwoordelik vir ’n beduidende deel van ekonomiese verliese, wat beide die openbare en private sektor raak,” het Theofelus gesê.
Die regering het oorspronklik beoog om finansiële transaksies en databeskerming ingevolge een wet te reguleer, maar in 2019 is die besluit geneem om die konsepwet op finansiële intelligensie en die konsepwet op databeskerming te skei. Die konsepwet op finansiële intelligensie is sedertdien tot wet verklaar en staan nou bekend as die Wet op Finansiële Intelligensie van 2012. Die FIC is ingevolge laasgenoemde wet gestig.
Theofelus het ook gesê die regering beplan om elektroniese handtekeninge in Februarie volgende jaar van stapel te stuur ingevolge die Wet op Elektroniese Transaksies van 2019.
“Hierdie handtekeninge sal dieselfde wetlike gewig dra as handgeskrewe handtekeninge, wat veilige, doeltreffende en wetlik bindende digitale transaksies moontlik maak.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie