Swak beplanning rede vir oorvol skole, sê Amupanda

‘Regering prioritiseer skole wat goed vaar’
Sou niks verander by skole wat oorvol is en weinig hulpbronne het, loop 'n hele generasie die risiko om agtergelaat te word.
Phillipus Josef
Die leier van die Affirmative Repositioning (AR), Job Amupanda, het op Rundu gesê Namibië se onderwysbeplanning hou nie tred met die bevolkingsgroei nie, wat gevolglik tot haglike omstandighede vir onderrig lei.

In ’n onderhoud met Network Media Hub (NMH) het hy gesê Windhoek is die land se mees digbevolkte stad, gevolg deur Rundu, maar skole in gebiede met ’n hoë bevolking het steeds ’n reusegebrek aan hulpbronne.

Sy opmerkings volg ná ’n weeklange besoek verlede week aan skole in die Kavango- en Zambezistreek.

Een van Amupanda se besoeke was aan die Primêre Skool Ndama-Oos op Rundu, wat net 14 gekwalifiseerde onderwysers vir 552 leerlinge van preprimêr tot graad 6 het.

Die meeste klasse vind onder bome plaas omdat daar nie genoeg klaskamers is nie. Die skool het ook geen lopende water, elektrisiteit of toiletgeriewe nie, wat beide leerlinge en onderwysers dwing om die omliggende bosse te gebruik.

“Ek kon dit aanvanklik nie glo nie. Jy dink jy is in Namibië, maar 552 leerlinge word onder bome onderrig sonder basiese geriewe. Dis onaanvaarbaar,” het Amupanda gesê.

Ouers by Ndama-Oos het ook kommer uitgespreek oor herhaalde besoeke deur ministers, raadslede en beamptes wat nog nie tot betekenisvolle verbeterings gelei het nie.

Talle ouers, sommige in hul 70’s en 80’s, het gesê die regering gaan voort om skole te prioritiseer wat goed in stand gehou word, terwyl diegene in dringende nood verwaarloos word.

’n Berig deur NMH verlede week het na sukkelende skole met weinig hulpbronne tot hul beskikking oraloor die Kavangostreek verwys waar leerlinge en onderwysers noodgedwonge puttoilette as hul enigste vorm van sanitasie moet gebruik, terwyl honderde kinders oorvol klaskamers moet deel.

Dié berig het gevolg op ’n besoek saam met die parlementêre staande komitee oor onderwys, jeug, burgerlike betrekkinge en gemeenskapsontwikkeling aan skole in dié twee streke. Hoewel die komitee sekere positiewe aspekte erken het, het hulle gemaan dat die haglike toestande dienslewering belemmer en leerlinge se waardigheid skend.

By die Ngcove Junior Primêre Skool op Ndama, Kavango-Oos, is meer as 400 leerlinge afhanklik van slegs twee puttoilette en het geen lopende water nie.

Die skoolhoof Bernolda Munkanda het die situasie as “ondraaglik” beskryf en gesê klaskamers is oorvol, met tot 92 leerlinge wat in sinkstrukture gehuisves word.

Ander skole, insluitend die Mupapama Gekombineerde Skool, die Tuhingireni Sekondêre Skool en die Siguruguru Primêre Skool, staar soortgelyke toestande in die gesig.

In ’n aparte verslag in April het Christine Shilima, die direkteur van onderwys in Kavango-Oos, die wydverspreide infrastruktuurkrisis by skole erken. Dit sluit vervalle klaskamers en onvoldoende toiletgeriewe by oorvol skole in.

Volgens Shilima sal dit langer as vyf jaar duur om die probleme op te los en het verwys na skole soos Sikanduko Junior Primêr op Rundu waar meer as 1 000 leerlinge lesse buite klaskamers moes bywoon, omdat die dakke weens swaar reënval gelek het.

Sy het gesê die ministerie beplan ’n nuwe hoërskool om die situasie weens oorvol klasse te verlig. Onmiddellike bekommernisse en kwessies bly egter steeds onopgelos.

“Ons kan nog nie sê hoeveel klaskamers beskikbaar sal wees nie, aangesien ons eers die verskuiwing moet voltooi.”



‘SISTEMIESE MISLUKKING’

Amupanda het die skerp kontras uitgelig tussen skole wat in sommige streke sluit weens lae inskrywings en oorvol skole op Rundu en gesê dit illustreer ’n sistemiese mislukking in onderwysbeplanning.

“Beplanning moet ooreenstem met waar die leerlinge is. Hier doen dit nie,” het hy gesê en die situasie as ’n weerspieëling van breër kwessies in onderwysleierskap en toewysing van hulpbronne beskryf.

Hy het ook die neiging van regeringsamptenare gekritiseer om dikwels skole wat goed in stand gehou word tydens besoeke ten toon stel terwyl hulle diegene in dringende nood verwaarloos. Een bejaarde ouer het hom selfs gevra om ’n boodskap aan die eerste minister oor te dra en die leierskap aan te spoor om toestande eerstehands te aanskou.

Amupanda het vir dringende ingrypings gevra om te verseker dat leerlinge in digbevolkte gebiede voldoende ondersteuning en toegang tot behoorlike geriewe ontvang.

“As niks verander nie, loop ’n hele generasie die risiko om agtergelaat te word,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-09-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer