Reën se mooi help met droogte

Henriette Lamprecht
In ‘n seisoen van oorvloed van groen en water met reën wat groot dele van ‘n diep dorstige Namibië in ‘n paradys verander het, word die mooi en voorreg van goeie neerslae nou gebruik om dié te help wat steeds deur droogte geteister word. Danksy die inisiatief van ‘n plaaslike boervrou is ‘n unieke verjaardagkalender saamgestel met ‘n van die mooiste kiekies van ‘n dankbare Namibië ná strome van seën om broodnodige fondse vir Droogtehulp Namibië in te samel. Die saadjies vir die unieke kalender is geplant naday sy op die groep Weerinligting Namibiërs se pragfoto’s raakgesien het. Met die toestemming van die fotograwe is 18 uitsonderlike foto’s gekies en in ‘n unieke verjaardagkalender omskep. Die foto’s, geneem deur plaaslike boere en lede van die gemeenskap, is sonder enige digitale manipulasie ‘n ware ’n weerspieëling van die realiteit op Namibiese plase. Tot dusver is ongeveer N$19 400 reeds geborg, wat gebruik sal word om die eerste 300 kalenders te druk. Die opbrengs van verkope gaan 100% direk aan die Droogtehulpfonds om boere wat swaar kry en nog geen reën ontvang het nie, te ondersteun. Die hoop is dat verdere verkope ’n noemenswaardige finansiële hupstoot vir die fonds sal wees. Die projek is ‘n duidelike bewys dat ‘n enkele en dikwels eenvoudige idee met die samewerking van die gemeenskap, ’n groot verskil kan maak. Die kalender sal binnekort beskikbaar wees vir bestellings teen N$200 per kalende. Bestellings en navrae kan gerig word aan Lizette Lotter op 081 272 3856.

Kommentaar

Republikein 2025-07-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer