Namibië probeer weer die handel in renosterhorings wettig. FOTO ARGIEF
Namibië probeer weer die handel in renosterhorings wettig. FOTO ARGIEF

Namibië pleit weer vir wettige handel in renosterhoring

77% van witrenosters in private besit
Die groeiende koste vir sekuriteit van renosters veroorsaak dat talle private eienaars van hul bevolkings ontslae raak.
Ellanie Smit
Die wettiging van die handel in renosterhoring sal die binnelandse vraag na lewende renosters laat styg, waarskynlik selfs die onwettige markopbrengste oorskry, wat uiteindelik private eienaarskap van witrenosters stimuleer en hul habitatte landswyd sal uitbrei.

Só voer Namibië aan in sy voorstel aan die 20ste sitting van die Konferensie van die Partye (COP20) by die Verenigde Nasies se Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) om die aantekening van sy bevolking van suidelike witrenosters binne Cites Aanhangsel II te wysig. Volgens die dokument wat by Cites ingedien is, sal dit uitsluitlik wees om internasionale handel in lewende diere vir in situ-bewaring, jagtrofeë en handel in renosterhoringvoorrade van oorspring in die land wat deur die regering en private grondeienaars besit word, toe te laat.



SLUIT NIE GEKONFISKEERDE HORINGS IN

Dit sal gekonfiskeerde renosterhoring en dié van onbekende oorsprong uitsluit.

Die dokument verklaar dat Namibië se witrenosterbevolking steeds onder voortdurende bedreiging van onwettige stropery verkeer, hoofsaaklik gedryf deur die hoë waarde van renosterhoring.

Ongeveer 77% van Namibië se witrenosters kom op grond in private besit voor.

“In reaksie op die groeiende stroperyrisiko’s het hierdie private grondeienaars hoë sekuriteitskoste gedra, insluitend opgegradeerde heinings, veldwagterpatrollies en toesigstelsels.”

Die dokument lui dat baie eienaars gedwing is om hul kuddes te verminder of heeltemal van die hand te sit.

“Ongelukkig, wanneer private eienaars renosters van hul eiendomme verwyder, daal die totale hoeveelheid witrenosterhabitat in Namibië.”

Die dokument lui verder dat private grondeienaars wat wel witrenosters aanhou, tipies staatmaak op drie moontlike inkomstestrome – toerisme, trofeejag en lewende diereverkope – om beskermingsuitgawes te dek.



INKOMSTE SKIET TE KORT

“Tog, selfs in kombinasie, skiet hierdie inkomstebronne dikwels te kort,” lui die dokument met gevolglik 12 miljoen hektaar private grond wat vir witrenosters geskik is, wat grootliks in ongebruik bly vir bewaring.

“Sonder sterk ekonomiese aansporings het private grondeienaars min rede om hierdie waardevolle habitat aan renosters toe te wy of uit te brei.”

Volgens Namibië se voorstel kan die huidige swartmarkpryse vir renosterhoring ongeveer US$20 000 per kilogram (N$354 000 teen die huidige wisselkoers) bereik.

Dit beteken dat ’n enkele groot renosterhoring tussen US$80 000 en US$120 000 (sowat N$1,46 miljoen tot N$2,12 miljoen) werd kan wees.

In vergelyking hiermee, is ’n lewende witrenoster se waarde gewoonlik slegs sowat US$10 000 (N$177 000) – ’n verskil van agt tot 12 keer minder.

“Hierdie verskil dryf onwettige jag aan, aangesien stropers aansienlik meer kan verdien deur ’n renoster te stroop as wat ’n grondeienaar kan kry deur dit te verkoop of te bewaar.”

Aangesien plaaslike handel in witrenosters byna nie in Namibië bestaan nie, het private grondeienaars nie die finansiële aansporings om hulle aan te hou nie, aangesien ekonomiese winste steeds onrealisties bly, lui die dokument.



GROEIKOERS OP 6,7%

Namibië het die tweede grootste witrenosterbevolking ter wêreld het, naas Suid-Afrika.

Vanaf 2024 staan die bevolkingsberaming op 1 500 witrenosters, gebaseer op helikoptertellings, data van onthoringsoperasies en verslae van private eienaars aan die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme. Rekords word geverifieer deur verkope, uitvoere, jagpermitte en plaasinspeksies.

Tussen 2005 en 2024 het die algehele groeikoers jaarliks op 6,7% gestaan, insluitend invoere uit Suid-Afrika.

Tans is 1 161 witrenosters in private besit, terwyl 339 in staatsbesit in vier beskermde gebiede is.

Volgens die dokument word die menslike verbruik van witrenosters tans nie in Namibië toegelaat nie, en ook nie die handel in renosterhorings nie.

Na bewering is toerisme-inkomste wat verband hou met renosters moeilik om te isoleer en neem nie tipies met hoër renosterbevolkingsvlakke toe nie.



43 IN TWEE JAAR GEJAG

“Omdat sekuriteitskoste en stroperyrisiko’s skerp styg met groter bevolkings, hou baie eiendomme minimale getalle renosters aan of glad nie.”

Tussen 2022 en 2024 is 43 witrenosters in Namibië gejag, gemiddeld sowat 14 per jaar – gelykstaande aan slegs 0,9% van die bevolking, heelwat laer as die jaarlikse aanwinssyfers.

Volwasse bulle word soms onthoring vir veiligheid of bestuur, wat potensiële trofeejagte beperk.

Namibië het ook sedert 2022 124 witrenosters na Angola, Suid-Afrika, Zambië en die Amerika uitgevoer.

Die voorstel meen dat gewettigde horinghandel, bestuur onder streng permitstelsels, DNS-verifikasie en kwotas, renosterbewaarders sal motiveer om hul renosterbevolkings te behou en uit te brei, wat die ekonomiese balans weg van stropery en na wettige, lewende bewaring sal verskuif.

“Die regering van Namibië stel ’n aanvanklike, noukeurig gemonitorde fase voor, beperk tot 200 kilogram horing per jaar.”

Owerhede sal volgens die voorstel stroperysyfers, renosterbevolkingstendense en handelsvolumes dophou.

“Indien negatiewe gevolge ontstaan, – soos ’n toename in stropery – is die regering bereid om kwotas op te skort of te hersien. Hierdie aanpasbare benadering verminder risiko’s terwyl die potensiaal vir ’n transformerende bewaringstrategie getoets word.”

Die Cites-beraad sal van 24 November tot 5 Desember in Oezbekistan plaasvind.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer