Indiese welpies ’n teken van Project Cheetah se sukses

Beveilig genetikapoel
Die werpsels van Namibiese jagluiperds wat in die Kuno Nasionale Park gebore is, mag 'n teken van hierdie projek se sukses wees.
Iréne-Mari van der Walt
Die medestigter van die N/a'an ku sê-stigting, Marlice van Vuuren, is van mening dat die jagluiperdwelpies wat as deel van Project Cheetah in Indië gebore is, ’n teken van die projek se sukses is, ondanks die sterfte van ’n elfde jagluiperd sowat twee weke gelede.

"Diere kan beheer en bepaal in die omgewing of hulle kan kleintjies kry. As dit nie ’n geskikte omgewing is nie, gaan hulle nie kleintjies kry nie, want hulle moet daardie kleintjies versorg.

"As die jagluiperds wat vrygelaat is in Indië begin kleintjies kry, kan jy al klaar baie boksies afmerk en sê dit begin werk. En daar is nie net een werpsel gebore nie, daar is klomp werpsels al gebore," het sy in gesprek met Kletskompas gesê.

Van Vuuren verduidelik dat daar geen handleiding is wat kan rigting kan gee aan hervestigingsprojekte soos Project Cheetah nie. "Soos wat jy diere begin rehabiliteer, skryf ons die handboek. Ons moet in ag neem dat hulle soos ons mense is. Hulle verskil individueel, hulle het onderliggende siektes waarvan jy nie van weet nie. Dan sit jy hulle onder stres en dan kom daar ’n siekte uit wat jy nie van weet nie, want jy het nie geskiedenis nie," sê sy.

Die sukses van hervestigingsprojekte kan volgens Van Vuuren gesien word wanneer ’n dier begin jag en kleintjies kry en, in die geval van sosiale diere, maatjies maak.

"Jy gaan foute maak, maar as daardie dier nie geskiet en hy nie vergiftig is nie en hy is nie in konflik dood nie, dan merk hy in my bewaringsbrein al klaar baie boksies af, want dit is die probleme waarmee ons sit in Namibië," sê sy.



VIR BEWARING

Die manier waarop konflik waarby jagluiperds betrokke is, hanteer word, is volgens Van Vuuren ’n bedreiging tot die spesie se voortbestaan.

"Namibië sit met die grootste bevolking wilde jagluiperds, maar ons gaan nie lank meer daardie kaartjie kan swaai nie, want ons beheer nie ons konflik nie," sê sy.

Die kwynende bevolkingsyfers is duidelik aan die minder versoeke om bystand. "Ons het ten minste twee keer ’n maand oproepe gekry vir konflik met jagluiperds – ons kry dalk nou twee ’n jaar. Waar is die jagluiperds heen? Het hulle minder geword?

"Het ons dit te moeilik gemaak van ’n regulasiepunt af dat mense nie meer wil bel nie, want hulle kan in die moeilikheid kom, of skiet hulle net en bly stil?" vra sy.

Sou Namibië op hierdie paadjie bly, sal dit van uiterse belang wees om die genetika van Namibiese jagluiperds elders te beveilig, soos in Indië.

"Jou probleem gaan wees dat hierdie ikoniese spesie gaan uitsterf, want ons kry dit nie beheer nie. Ons het 6 000 oor in die wêreld. Ons gaan moet kyk na buite waar daar areas is waar jy ’n genetiese poel kan beveilig en seker wees hulle gaan nie in konflik betrokke raak nie – en as hulle in konflik betrokke raak, dat dit kan beheer word," sê Van Vuuren.

Kyk vandag om 12:30 in Kletskompas die volledige onderhoud op NTV, DSTV kanaal 285 en GoTV kanaal 25, of op oneuptwo.com. Die program herhaal weer vanaand om 20:00.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer