Wonderwerk ontwykend

Krieket

19 October 2021 | Sport
Andrew Poolman – Die Namibiese hoop dat die Eagles as debutant vir 'n wonderwerk kon sorg deur teen die hoogs ervare Sri Lanka 'n opskudding in hul openingswedstryd by die T20 Wêreldbeker te lewer, is gister in Abu Dhabi se Sheikh Zayed-stadion uitgeblus.

Die klam en bedompige toestande het die skaal van meet af in die Sri Lankane se guns geswaai – veral toe hul kaptein Dasun Shakana 'n belangrike loot gewen en die Namibiërs eerste laat kolf het.

Die uiteinde was dat Sri Lanka met sewe paaltjies gewen het, deur Namibië vir 'n beskeie 96 lopies uit te boul en daarna met 100/3 in net 13.3 boulbeurte te antwoord.

Stephen Baard (7 van 11 balle, een vier) en Zane Green (8 van 13 balle) kon hulle nie ingrawe nie en selfs Craig Williams en Gerhard Erasmus kon daarna in Namibië se beste periode nie die kolftempo op die gewenste vlak kry om 'n kompeterende totaal daar te stel nie.

Williams het die enigste twee sesse van die beurt geslaan in sy 29 lopies van 36 balle, terwyl Erasmus twee viere behaal het in sy 20 van 19 balle.

Daar was hoë verwagtinge toe twee van die span se voorste mokermanne bymekaar gekom het, maar David Wiese is been-voor-paaltjie uitgee op 6 van 7 balle. JJ Smit was uiteindelik nie uit nie op 12 van 15 balle, waarin hy nie 'n enkele grenshou kon slaan nie.

'n Deel van die Namibiërs se doodsteek was die draaiboulwerk van Maheesh Theekshana, wat as speler van die wedstryd bekroon is vir sy 3/25 in vier boulbeurte.

Namibië het uiteraard te min lopies op die bord gehad om die eilandspan onder enige betekenisvolle druk te plaas, hoewel die Eagles vroeg met drie paaltjies toegeslaan het vir 26/3 ná 5.1 boulbeurte.

'n Blitsbal van Ruben Trumpelmann het Kusal Perera (11) verras en 'n bal in die rigting van die raakvatter JJ Smit gestuur, voordat sy aanvangsmaat Pathum Nissanka net in die volgende boulbeurt deur Bernard Scholtz b.v.p. betrap is.

Dinesh Chandimal is kort daarna deur Zane Green van Smit se boulwerk uitgevang, maar van hier af het Avishka Fernando (30*) en Bhanuka Rajapaksa (42*) kalm gebly en die oorwinning verseker.

“Ons is vandag deur 'n beter span geklop, maar ons sal hergroepeer en die positiewe aspekte vorentoe neem in die twee wedstryde wat voorlê. Sri Lanka het 'n puik boulaanval en ek sal nie verbaas wees as hulle die groot spanne skrikmaak in hierdie toernooi nie,” het die Namibiese kaptein Gerhard Erasmus agterna gesê.

Die Namibiërs het vandag om met planne vorendag te kom voordat hulle môre (vanaf 12:00) teen Nederland te staan kom, met Ierland wat Vrydag voorlê.



IERLAND KLOP NEDERLAND

In die vroeër wedstryd gister het Ierland se naatbouler Curtis Campher behoorlik die aandag op hom gevestig deur binne vier balle vier paaltjies te neem en die hart uit Nederland se aanslag te ruk.

Campher, gebore in Johannesburg, het boonop as kolwer die wenlopies aangeteken en is as speler van die wedstryd bekroon op 'n dag wat hy beslis nie gou sal vergeet nie.

Nederland is vir 106 uitgeboul en Ierland het met sewe paaltjies gewen, met 29 balle oor.

FOTO’s Getty Images

Soortgelyk

 

Plaaslike aktrise wen ‘Afrika-Oscar’

2 ure gelede | Kuns en vermaak

Die plaaslike aktrise Hazel Hinda het op 28 November die toekenning vir die beste aktrise in ’n ondersteunende rol by die African Movie Academy Awards...

Skole sluit vroeër ná vraestelle lek

4 ure gelede | Onderwys

Die ministerie van onderwys, kuns en kultuur sê skole gaan vroeër sluit as wat aanvanklik aangekondig is, om streke in staat te stel om voor...

Derde dosis Sinopharm goedgekeur

5 ure gelede | Gesondheid

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het by monde van sy uitvoerende direkteur, mnr. Ben Nangombe, bevestig dat Namibiërs wat reeds twee dosisse van...

Geen sterftes, 11 nuwe gevalle

5 ure gelede | Gesondheid

Die Covid-sterftes bly op 3 573, terwyl 11 nuwe gevalle gister aangeteken is. Dit is 'n positiewe koers van 0,6% en sluit een leerlinge en...

Diplomaat van Namibië toets positief vir Omicron in Japan

6 ure gelede | Gesondheid

Japan se hoofkabinetsekretaris Hirokazu Matsuno het bevestig 'n diplomaat van Namibië in sy dertigs het positief vir die Omicron-variant getoets. Die man het Japan via...

Nog stemme van verset teen inhokking

18 ure gelede | Gesondheid

Henriette LamprechtTerwyl gevalle van die Omicron-variant van Covid-19 in talle oorsese lande bevestig word en midde 'n groot waarskynlikheid dat die variant reeds op eie...

Plaaseienaar aangekla ná raakskoot

18 ure gelede | Misdaad

Elvira HattinghDie vlaag van veediefstal in die Grootfontein-omgewing is die afgelope naweek opnuut tot 'n spits gedryf toe 'n plaaseienaar 'n vermeende veedief met 'n...

Amutse wins 2021 Bank Windhoek Doek Literary Visual Arts...

18 ure gelede | Mense

Monique AdamsBorn in Walvis Bay, Namafu Amutse attended Immanuel Ruiters primary school. She then moved to Swakopmund in 2007 and attended Swakopmund Primary School.Amutse completed...

Veldbrand nog nie in bedwang

18 ure gelede | Ongelukke

Tanja BauseDie veldbrand wat sowat 'n week gelede naby Okahandja begin het, woed steeds voort. Volgens mnr. Corne Kruger het die vlamme aan die einde...