Wit bakkie ná NIMT-moorde gesien

Skoonmaker getuig

19 February 2021 | Howe
Ellanie Smit – ’n Getuie het gesien hoe ’n wit dubbelkajuitbakkie op die oggend van 15 April 2019 by die kampus van die Namibië Instituut vir Mynbou en Tegnologie (NIMT) by Arandis wegjaag waar twee direkteure doodgeskiet is.

Dié getuienis is gister in die Windhoek-hoërhof tydens die dubbele moordverhoor teen mnr. Ernst Lichtenstrasser gegee.

Lichtenstrasser, ‘n voormalige dosent by NIMT se Tsumeb-kampus, word daarvan beskuldig dat hy mnre. Eckhart Mueller (72) en Heimo Hellwig, onderskeidelik die uitvoerende en adjunkdirekteur van NIMT, vermoor het.

Die 61-jarige me. Carolina Tsuses, ‘n skoonmaker by NIMT se Arandis-kampus, het gister voor regter Christie Liebenberg getuig sy het ‘n wit man met ’n sonbril in ‘n wit bakkie sien ry op ‘n pad wat min gebruik word.

Tsuses sê sy het die oggend van die moord op die kampus geloop toe sy eers die bakkie op die perseel langs die koshuis sien ry het.

Volgens haar het dieselfde bakkie verby haar op die pad agter die dam en die pompstasie gery waar sy om 06:50 geloop het.

Volgens vorige getuienis is skote om 06:30 gehoor.

“Ek het ’n bakkie gesien wat deur ’n wit man met ’n sonbril bestuur is.”

Sy sê sy het die bakkie herken, want dit lyk soortgelyk aan die een wat behoort aan ene mnr. Steven, vir wie sy ken.

“Die bakkie het baie vinnig gery en ek kon nie die gesig herken nie.”

Sy sê sy het nie na die registrasiemerk gekyk nie.

Tsuses sê sy was geskok om ’n wit persoon op dié pad te sien, want dit word min gebruik.

Volgens haar is die betrokke pad baie oud en word dit slegs deur NIMT-werknemers gebruik om vullis weg te gooi.

“Ek het gewonder waarom ’n wit man op die pad ry.”

Foto’s van “mnr. Steven se bakkie” is aan Tsuses gewys en gevra of dit dieselfde bakkie is wat sy gesien het.

Sy het bevestig dit lyk dieselfde as die een wat sy die oggend op die pad gesien het met albei wat ysterstawe op die dak het, maar die een in die foto het ’n kappie op en die een wat sy gesien het, het nie ’n kappie opgehad nie.

Die staat het ook vir Tsuses versoek om na foto’s van Lichtenstrasser se voertuig te kyk waarop die polisie beslag gelê het en ’n vergelyking te tref.

Liebenberg het hierdie versoek geweier en gesê die hof kan sy eie gevolgtrekkings maak.

Tsuses het verder gesê sy het geen ander voertuie of mense op die pad gesien nie.

Sy het gesê die polisie het haar ondervra oor wat sy gesien het en sy het hulle na die presiese plek geneem waar hul paaie op die pad gekruis het. Hulle het foto’s geneem en sy het ’n verklaring afgelê.

Sy het om 06:55 by die werk aangekom.

Die verdediging het haar tydlyn bevraagteken. Sy het aangedui sy is om 05:30 by die huis weg en is gewoonlik om 07:00 by die werk en begin 07:30 werk.

VERLORE TOLK

Gister se verhoor het omtrent ’n uur laat begin, want die tolk was skoonveld en reëlings moes vir ’n nuwe tolk getref word.

Lichtenstrasser was ontsteld hieroor en het gesê dit is ’n taktiek van die staat om sy verhoor te vertraag.

“Dit is Namibië. Dit is ’n regverdige en spoedige verhoor. Terug na my stink tronkgat van hel weens ’n tolk.

“Ek wil ’n spoedige verhoor hê, want ek is onskuldig. Om te dink ek het my lewe op die spel geplaas vir die vryheid van die land,” het hy gesê.

’n Sigbaar groter polisieteenwoordigheid was gister in die hof, met ten minste agt spesiale reserwemagbeamptes teenoor die vorige dag se drie.

Adjunk-aanklaer-generaal Antonia Verhoef verskyn vir die staat en Lichtenstrasser word deur regshulpprokureur, mnr. Albert Titus, verteenwoordig.

Die verhoor gaan op 6 April voort.

[email protected]

Soortgelyk

 

Vrou woon in haar motor by hospitaal

6 ure gelede | Mense

Henriette Lamprecht – 'n Bejaarde vrou van die kus woon die afgelope week in haar motor in die parkeerterrein van 'n staatshospitaal in Windhoek om...

Toekoms van 77 Air Nam-vlieëniers onseker

6 ure gelede | Vervoer

Francoise Steynberg – Altesaam 77 vlieëniers van Air Namibia se toekoms is onseker. Boonop het bykans 75% van die redery se vlieëniers se lisensies verval...

Ses damme voller as 100%

6 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl altesaam sowat ses Namibiese damme tans 100% of meer water bevat, oorstroom die Zambezirivier sy walle, met water wat in die...

Weer vir 24 Februarie

6 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Wydverspreide donderbuie word in Ohangwena, Oshikoto, Otjozondjupa en Omaheke verwag. BINNELAND: Sonnig en warm in die Suide en Weste, andersins gedeeltelik bewolk en baie...

'Swak bestuur rede vir Meatco se krisis'

6 ure gelede | Byvoegsels

Ellanie Smit - Volgens ’n verslag wat aan die ministerie van staatsondernemings (SOE's) voorgelê is, staar Meatco likwidasie in die gesig indien hy nie kostes...

Hof kry Heritage Health voor stok

6 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die mediese fonds Heritage Health het 'n bloutjie in die hoërhof geloop nadat hy sy jaarlikse premies wou verhoog, maar dié stap...

'IEB in nuwe formaat is hier om te bly'

6 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht – Die nuwe leerplan vir skole in Namibië wat die Onafhanklike Eksamenraad (IEB)-stelsel volg, is vergelykbaar met die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat (SSS)...

#Indigiwalk Namibia in die pyplyn

6 ure gelede |

Augetto Graig – Die pad na 'n beter wêreld is eensaam en lank en mnr. Craig (Q7) Beckett, 'n Suid-Afrikaanse Khoisan-jagter, geneser en menseregte-aktivis, sal...

‘Geen personeel betrokke by stropery’

6 ure gelede | Ministeries

Francoise Steynberg Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het bevestig dat geen van sy personeel by wildstropery betrokke was nie en stropery het...