WHS stuit Tsumeb – nou vir die Naartjies

WHS, wat drie dae tevore nog teen Affies die knie gebuig het, het Saterdag met 'n klinkende oorwinning teen Tsumeb Gimnasium reggeruk vir die uitklopfase wat nou voorlê.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Samsung Windhoek Hoërskool se eerste rugbyspan, die Koedoebulle, het Saterdag op die FNB Vegkopstadion 'n topklas vertoning in sy laaste groepwedstryd van die 2019 Momentum o.19-premierliga gelewer om die onoorwonne Rubicon Tsumeb Gimnasium aarde toe te bring.

Die sege met 46-20 was sekerlik die Koedoebulle se beste vertoning vanjaar, waarin elke speler soos 'n generaal gespeel het deur sy 110 persent op die verdediging en aanval te lewer. WHS het die besoekers nie net fisiek op elke gebied van die spel genadeloos aangevat nie, maar was dié keer ook aan die regte kant van die strafskoptelling van 9-3.

Hoewel Pieter Daan Kok, die besoekers se lang seweflank, met 15 minute verstreke in die eerste helfte sy span se eerste van vier drieë gedruk het, het WHS agt minute later met sy eerste vyfpunter deur heelagter Geraldo Beukes teruggeslaan.

Die gasheer het die voortou met 7-5 geneem en het dit enduit gehandhaaf, insluitend met rustyd toe die telling 14-10 in WHS se guns was.

Tsumeb se tweede drie in die eerste helfte kom van sy sterk haker Frikkie Engelbrecht, gevolg deur die vaskopstut Thinus van Wyk en loskopflank Andries Steenkamp in die tweede helfte wat die gasheer se doelgebied besoek. Ongelukkig kon Bothma Keyser as die noordespan se skopper nie met een doel- óf strafskop slaag nie.

Ná Beukes se blitzkrieg teen die linkerkantse kantlyn af het hy sy eie doelskop waargeneem en later ook suksesvol met die doelskoppe van haker Daniel Opperman, stut JC Rossouw, buitesenter Maandero Haimbodi en regtervleuel Patrick Karstens se drieë geslaag.

Nadat een vorige poging ietwat van koers was, klits Beukes 'n onverwagte skepskop oor en slaag met 'n strafskop om sy bydrae op 21 punte vir die dag te laat staan.

Die laaste spyker in Tsumeb se kis was straks die netjiese onderskepdrie wat Karstens uit die lug gepluk het om sierlik oor die doellyn te gaan duik. SJ Louw, Tsumeb se buitesenter, verdien 'n onbesonne geel kaart toe hy met sy knieë eerste op Karstens val wat reeds die drie gedruk het.

Beide spanne het Saterdag die tipe spel opgedis waarvan rugbyfoendi's net kan droom. Tsumeb is 'n goed gedrilde eenheid onder afrigter Wouter Niehuas en het nie verniet boaan die ligaleer geëindig nie. Hulle sal in die een semifinaal speel teen die wenner van die uitspeelwedstryd tussen die spanne wat vierde en vyfde op die puntelys geëindig het.

Indien die WHS Koedoebulle (vierde) komende naweek die Naartjies van Namib Diesel Walvisbaai Privaat Hoërskool (vyfde) in die enigste o.19 premierliga kwarteindstryd klop, sal Tsumeb Gim wéér vir WHS uitdaag om 'n plek in die eindstryd oop te speel.

Die oranje truie van Walvisbaai sal egter weer die kus se naam in die hoofstad moet kom verdedig, nadat hulle in Meimaand se openingsnaweek juis met drie punte (26-23) op Vegkop gewen het.

In die tweede semifinaal sal Affies (tweede op die puntelys) die Leeus van die Schoemans-groep Windhoek Gimnasium (derde) die komende naweek by die Hage Geingob-stadion in Windhoek pak.

Henry Kemp, hoofafrigter van die Koedoebulle, sê sy spelers het die naweek besef dat hul lot in hul eie hande is en dat die resultaat van hul karakter afhang.

“Die seuns het geweet dat hulle vandag gefokus sal moet wees op hul eie spel en wedstrydplan en nie op die skeidsregter of die opponente nie. Tsumeb is 'n fantasiese, groot, fisieke eenheid wat met 'n plan gekom het, maar ons het dit geweet.

“Die manne het deurentyd by ons planne gehou en baie goed op die spanpraatjie gereageer wat ons rustyd gehou het. Tsumeb het ons wel met hul klipharde fisieke voorspelers aangevat waar Pieter Daan Kok weereens uitstaande was. Hy het ons baie besig gehou; hy bly maar 'n ou yster wat ook die speler van die wedstryd was,” het Kemp gesê.

Erik Strauss, kaptein en matriekleerling van WHS, het Saterdag sy laaste rugbywedstryd op sy tuisveld gespeel.

“Ek is baie trots op die ouens. Ons het Woensdag hier teen Affies verloor, maar ons het karakter gewys en opgestaan deur die onoorwonne voorlopers op die ligaleer te klop,” het die talentvolle slot gesê.



AFFIES EINDIG STERK

Die verdedigende kampioenspan KMC/JCC Windhoek Affies het op sy tuisveld in Pionierspark 'n oorwinning met 35-21 teen die besoekende PSG Pro-Ed Akademie van Swakopmund behaal.

Affies se agtsteman Bernhardt Wessels het twee drieë gedruk – net soos drie dae tevore in die sege teen WHS. Die wenspan se ander drieë het van die vlugvoetige losskakel Jeandré Loubser en skrumskakel Louis Karsten gekom.

Loubser het ook as stelskopper twee strafdoele en twee doelskoppe bygevoeg, terwyl heelagter Keanu Engelbrecht met die laaste doelskop van die dag getref het.

• Outjo se trots, OK Foods Moria Privaatskool, kon nie soos laas jaar vir die semifinale kwalifiseer nie en sal vanuit die sesde posisie sy aanspraak op die Momentum o.19A-liga se kroon van stapel moet stuur.

Moria het nietemin Saterdag met 'n oorwinning van 62-14 teen die moedige De Duine van Walvisbaai klaargemaak, deur tien drieë teen een te druk.

• Die Naartjies van Walvisbaai Privaat Hoërskool was op hul tuisveld ook gans te sterk vir Pupkewitz Haval Elnatan van Stampriet en het die groepfase met 'n sege van 51-0 afgesluit (sewe drieë teen nul).

• Die nege skole in die Momentum o.19 premierliga eindig soos volg ná agt wedstryde elk:

1 Tsumeb Gimnasium (66)

2 Windhoek Affies (65)

3 Windhoek Gimnasium (60)

4 WHS (59)

5 Walvisbaai (50)

6 Pro-Ed Akademie (41)

7 Moria (40)

8 Elnatan (30)

9 De Duine (25)

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Brighton 0 vs 4 Manchester City | Manchester United 4 vs 2 Sheffield United | Everton 2 vs 0 Liverpool | Crystal Palace 2 vs 0 Newcastle | Wolves 0 vs 1 Bournemouth LaLiga: Real Sociedad 0 vs 1 Real Madrid SerieA: Frosinone 3 vs 0 Salernitana | Udinese 1 vs 2 AS Roma European Championships Qualifying: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City English Championship: Queens Park Rangers 4 vs 0 Leeds United | Coventry City 2 vs 3 Hull City Katima Mulilo: 16° | 33° Rundu: 16° | 33° Eenhana: 16° | 35° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 17° | 35° Tsumeb: 18° | 32° Otjiwarongo: 14° | 31° Omaruru: 16° | 34° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 18° | 30° Henties Bay: 15° | 22° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 11:03, High tide: 05:02, Low Tide: 23:14, High tide: 17:32 Swakopmund: 15° | 18° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 05:00, Low Tide: 23:12, High tide: 17:30 Walvis Bay: 16° | 26° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 11:01, High tide: 04:59, Low Tide: 23:12, High tide: 17:29 Rehoboth: 17° | 31° Mariental: 20° | 34° Keetmanshoop: 22° | 34° Aranos: 20° | 33° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 35° Oranjemund: 17° | 30° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 18° | 27° Lubumbashi: 11° | 25° Mbabane: 13° | 17° Maseru: 9° | 23° Antananarivo: 14° | 27° Lilongwe: 14° | 26° Maputo: 18° | 25° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 15° | 27° Durban: 17° | 22° Johannesburg: 15° | 23° Dar es Salaam: 23° | 31° Lusaka: 17° | 26° Harare: 14° | 26° #N/A #N/A