Wat nou WhatsApp?

Nuwe bepalings, voorwaarwaardes

22 January 2021 | Tegnologie
Prof. Basie von Solms - Die sosialenetwerk-toepassing WhatsApp het aangekondig dat hy sy bepalings en voorwaardes gaan verander. As gebruiker laat dit jou met net twee keuses.

Jy aanvaar die nuwe bepalings en voorwaardes en alle veranderings en byvoegings is dan op jou van toepassing. In beginsel, minstens op kort termyn, lyk dit nie of die gewone manier waarop jy WhatsApp nog altyd gebruik het, drasties sal verander nie.



Of jy weier om die nuwe bepalings en voorwaardes te aanvaar en verloor die vermoë om WhatsApp te gebruik.

Vir die oorgrote meerderheid van WhatsApp-gebruikers is daar eintlik nie werklik ’n keuse nie. Die toepassing het so ’n deel van ons alledaagse lewe geword, dat ’n mens net eenvoudig nie daarsonder kan klaarkom nie.

Die meeste gebruikers is deel van een of meer WhatsApp-groepe vir noodsaaklike kommunikasie wat absoluut nodig is vir daaglikse aktiwiteite.

Sulke groepe hou dalk verband met jou werk en jou werkgewer verwag dat jy deel moet wees van die gesprekke. Ander groepe hou weer verband met die kommunikasie tussen skole en ouers van leerlinge en onderling tussen leerlinge self. Baie onderwysers aanvaar gewoonlik outomaties dat dit die plek is waar inligting uitgeruil word. Daarsonder gaan belangrike inligting jou nie bereik nie.

Daar is soveel voorbeelde van hierdie gespreksgroepe dat die term “WhatsApp-groepie” al selfs deel van ons daaglikse spreektaal geword het.

Geïntegreerd in ons lewe

Die realiteit is dus dat WhatsApp in beginsel ’n onontbeerlike gerief geword het wat ons persoonlike en professionele lewe in ’n groot mate oorheers.

Waar ’n mens miskien nog sou kon klaarkom sonder ’n sosiale netwerk soos Facebook of Instagram, is WhatsApp baie meer geïntegreerd in ons daaglikse lewe.

Dit is dus duidelik dat die meeste mense nie eintlik ’n ander keuse het as om WhatsApp se nuwe bepalings en voorwaardes te aanvaar nie. Maar dis nogtans goed om te verstaan wat die veranderings en byvoegings behels en ook waarheen dit met die verloop van tyd sou kon beweeg.

Die nuwe bepalings en voorwaardes is nie baie eenvoudig om te verstaan nie en dit word ook nie baie duidelik uitgespel nie. Kortliks behels dit dat sekere van jou persoonlike data wyer gedeel gaan word met Facebook. Onthou, WhatsApp behoort aan Facebook.

In beginsel raak die nuwe bepalings en voorwaardes nie die sekerheid en veiligheid van die inhoud van jou WhatsApp-boodskappe nie. WhatsApp verseker gebruikers dat hulle gebruik maak van end-tot-end-enkripsie, wat beteken dat slegs die sender en die ontvanger die inhoud van boodskappe kan lees, sien en verstaan.

Die versekering is egter nie waterdig nie en die risiko bestaan wel dat die inhoud van boodskappe deur ongemagtigde persone bekom kan word – deur krakery en ander metodes. Dié aspek is egter nie werklik direk relevant tot die nuwe bepalings en voorwaardes nie.

Die nuwe bepalings en voorwaardes maak dit moontlik dat jou data meer gedeel kan word tussen Facebook, WhatsApp en moontlik derdeparty-maatskappye. Jou telefoonnommer sal beslis met Facebook gedeel word.

Hoewel die bepalings en voorwaardes nie eksplisiet aandui dat hulle ook jou kontakadreslys met Facebook gaan deel nie, is daar tog verskeie nuusberigte wat beweer dat dit gaan gebeur – óf dadelik óf in ’n latere stadium.

Verder sal hulle ook ander data, soos jou geografiese ligging (jou rekenaaradres) en ander beheerdata deel. WhatsApp het ook betalingsfunksionaliteit in sekere lande en dit lyk of sulke finansiële data en besonderhede ook gedeel sou kon word.

Advertensies op WhatsApp?

Die amptelike dokument oor die nuwe bepalings en voorwaardes is uiters wyd geformuleer en dit maak dit baie moeilik om presies te bepaal wat die onmiddellike implikasies sal wees. Dit lyk egter nie of daar enige onmiddellike dramatiese impak gaan wees op gebruikers wat die nuwe bedeling aanvaar nie.

Die nuwe bedeling bied egter die platform aan Facebook om omvattende veranderings in die toekoms aan WhatsApp aan te bring. ’n Mens kan maar net spekuleer wat dit kan wees. WhatsApp se meer as 2 miljard gebruikers bied ’n ongelooflike platform vir bemarking: direkte advertensies op WhatsApp.

Veronderstel dat jou kontakadreslys wel dadelik of in ’n latere stadium met Facebook gedeel word, dan kan dit lei tot meer (toegespitste) advertensies op WhatsApp. Met verloop van tyd kan die gedeelde data ook tot ander gevolge lei wat in dié stadium nog nie duidelik is nie.

Dink byvoorbeeld wat gebeur wanneer jy ’n Google-soektog doen na ’n produk soos ’n spesifieke soort skoene. Daar verskyn daarna redelik gou advertensies vir sulke skoene op jou Facebook-profiel.

Sover het geen advertensies nog op WhatsApp verskyn nie, maar die nuwe bepalings en voorwaardes bied ’n platform van waar dit wel in die toekoms moontlik sou wees. Jou soektog na skoene kan dus lei tot advertensies oor daardie soort skoene wat tussen jou WhatsApp-boodskappe verskyn.

Dit kan dalk ook gebeur dat van jou vriende kennisgewings of advertensies kry oor die skoene waarna jy gekyk het en wat jy moontlik gekoop het. Só word die skoene ook aan jou vriendekring bemark.

’n Mens kon dit seker lankal verwag het, want WhatsApp is ’n gratis diens met geen jaarlikse registrasiegeld nie – en ons almal weet niks is regtig verniet nie.

Dis heel waarskynlik een van die redes waarom Facebook destyds besluit het om WhatsApp te koop, naamlik om maatskappye te laat betaal om advertensies op WhatsApp te plaas. Dit lyk wel nie of dit in die nabye toekoms gaan gebeur nie, maar die nuwe bedeling maak dit in teorie moontlik.

Wat van privaatheid?

Vir maatskappye wat WhatsApp gebruik om met hulle kliënte kontak te hou, kan so ’n benadering egter ook potensieel ernstige probleme inhou. As ’n mens aanvaar dat sulke maatskappye se lys van vriende (lees klante) ook mettertyd beskikbaar mag raak aan Facebook en ander partye, mag dit tot probleme lei.

Volgens die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popia), mag sulke persoonlike data nie sommer gedeel word met ander partye nie. Hoewel sodanige afleidings moontlik voortydig is, sou dit potensieel kon gebeur. Dis interessant dat die Europese Unie, met sy baie streng wette oor persoonlike data, skynbaar uitgesluit is van die nuwe bedeling.

In ’n neutedop

Die nuwe bepalings en voorwaardes kan dus só opgesom word:

Aspekte van jou private en persoonlike data gaan wyer gedeel word met Facebook (en moontlik met ander derde partye);

Jou kontakadreslys mag moontlik hierby ingesluit wees, maar dis tans nog onseker;

Ander beheerdata, soos jou rekenaaradres, is ook hierby ingesluit;

Jou WhatsApp-boodskappe sou in beginsel ál meer geteiken kon word met advertensies, gegrond op jou besoeke in die kuberruim;

Die werklike inhoud van jou boodskappe self bly net so vertroulik en veilig soos dit tans is; en

Daar is heelwat onduidelikhede tans oor presies wat die omvang van die nuwe bedeling is en waarheen dit kan uitbrei.

Wat kan jy doen?

Die besluit is eenvoudig: Kan jy op enige manier sonder WhatsApp klaarkom?

Indien wel, weier om die nuwe bepalings en voorwaardes te aanvaar en sê tot siens aan WhatsApp. Oorweeg dan ’n ander soort boodskapdiens wat nie deel van die Facebook-groep is nie en migreer daarheen, byvoorbeeld Signal of Telegram.

As jy nie sonder WhatsApp kan klaarkom nie, aanvaar die nuwe bepalings en voorwaardes en aanvaar dat jy gaan saamleef met die verdere verspreiding van jou persoonlike data en die (tans onbekende) gevolge daarvan.

Jy sal waarskynlik nie dadelik enige verandering in jou gebruikspatroon waarneem nie.

Dit is uiteindelik ’n persoonlike besluit wat elke gebruiker neem, gegrond op die risiko’s, voordele en nadele.

’n Mens sou sinies kon wees en beweer dat WhatsApp se nuwe bepalings en voorwaardes die einde kan beteken van persoonlike data, maar dis nie heeltemal waar nie. Die gebruik van die kuberruim, veral sosiale netwerke, wolkdatabasisse, die kraak van databasisse en kubermisdaad in die algemeen het die einde daarvan waarskynlik lankal ingelei.

Jy loop altyd risiko’s deur die kuberruim te gebruik, onder meer omdat geen data wat jy deel ooit totaal veilig kan wees nie. Leef daarmee saam en beheer jou risiko’s sover jy kan. - Netwerk24

Soortgelyk

 

Robberts bly in aanhouding

9 ure gelede | Howe

Erwin Leuschner – Die 36-jarige mnr. Daniel (Danie) Robberts bly in aanhouding nadat hy na bewering sy vriend, mnr. Thomas Frederick (Frikkie) van Schalkwyk (69),...

Inentings: Namibiërs wag en kyk

9 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – ’n Wag-en-kyk-benadering en voorkeur vir spesifieke entstowwe is van die redes vir die trae reaksie tot die ministerie van gesondheid en maatskaplike...

Living a purposeful life

9 ure gelede | Mense

Rivaldo Kavanga“I would advise the youth to relentlessly go after whatever they desire unlimited. In pursuit of long-term gains and not short term rather.” Ndakondja...

Weer vir 30 Maart 2021

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm in die verre suide en die Zambezi-streek. Elders gedeeltelik bewolk en warm met verspreide donderbuie. Wyd verspreide donderbuie in die...

Huishoudelike geweld gedy in Kavango-Wes

9 ure gelede | Misdaad

Die naweek is drie sake van huishoudelike geweld in die Kavango-Wesstreek by die polisie aanhangig gemaak. Vrydag om 05:00 het ’n 36-jarige man in die...

Running for those who can’t

9 ure gelede | Skole

In honour of cerebral palsy awareness month and as part of a school project, four learners from Windhoek Afrikaanse Privaatskool ran with children, parents and...

Windhoek kry eie ekonomiese plan

9 ure gelede | Regering

Augetto Graig – Die burgemeester van Windhoek, dr. Job Amupanda, sê die regering moenie terugstaan sodat die private sektor die nasie tot werkskepping en ekonomiese...

Ending the double shift system at schools

9 ure gelede | Onderwys

Rivaldo KavangaBet-el Primary School on Friday, 26 March 2021 received three classroom blocks and a storeroom from The Craton Foundation. The classrooms were donated to...

Mej. Namibië: Hier is die top-16

9 ure gelede | Gebeure

Die eerste ronde van die 2021 Mej. Namibië-skoonheidskompetisie het Saterdag in Windhoek plaasgevind waar die top-16-finaliste bekend gestel is.Die finaliste is Andeline Wieland, Shahida van...