Waarskuwing dat Kunene dalk oorstroom

Oranje se vlakke kommerwekkend laag

14 February 2020 | Weer
Elvira Hattingh - Gemeenskappe wat teenaan die Kunenerivier woon, is gister teen moontlike oorstroming gewaarsku.

Dit omdat die rivier by Ruacana teen 1 136,7 m³/s gevloei het, terwyl die Caluequedam, wat stroomop geleë is, reeds vol was.

Die Hidrologiese Dienste van Namibië het gewaarsku damwater sal na verwagting uitgelaat moet word.

Terselfdertyd het water dié dam teen 1 806,04 m³/s binnegevloei.

Volgens die Hidrologiese Dienste se jongste vloedbulletin was die Zambezirivier óók besig om te styg en het dit teen gisteroggend reeds 1,59 m diep by Katima Mulilo gevloei – sowat 2 cm dieper as ’n dag tevore.

Die Kavangorivier het oornag ook water bygekry en by Rundu en Nkurenkuru onderskeidelik 6,24 m en 4,08 m diep gevloei. Dit verteenwoordig ’n styging van 8 cm en 11 cm op dié twee plekke.

Die Oranjerivier se vlakke by Blouputs is egter kommerwekkend laag en het gisteroggend op 0,35 m gestaan.

VOORSPELLING

Terselfdertyd het mnr. Johan van den Berg, ’n landbouweerkundige by Santam Suid-Afrika, Woensdag gesê gemiddelde tot bogemiddelde reën word van Februarie tot April in die droogtegeteisterde gebiede van Namibië verwag.

Dieselfde geld die ewe droë Noord- en Oos-Kaap.

Hy het in sy jongste weervooruitskouiing gesê daar is positiewe verwagtinge vir Namibië se sentrale en suidelike dele – nog vóór die winter kom.

“Die feit dat die Suidelike Ossillasie-indeks (SOI) in Januarie ’n vinnigstygende fase ervaar het, is beduidend – veral wanneer dit in hierdie deel van die reënseisoen gebeur,” het Van den Berg gesê.

Die SOI is ’n maatstaf van die verband tussen seeoppervlaktemperature in die Niño-gebiede en oorhoofse weerstelsels.

“’n Vinnigstygende SOI in Januarie word gewoonlik vereenselwig met ten minste gemiddelde reënneerslae oor Namibië, asook die sentrale en westelike dele van Suid-Afrika. Dit geld van Februarie tot April,” het Van den Berg gesê.

Hy meen kort- tot mediumtermynvoorspellings dui daarop dat reënneerslae van die tweede deel van Februarie af kan verbeter.

Verder sê hy ook die meeste Niño-gebiede is tans steeds neutraal (tussen 0,2°C en 0,5°C bo normaal) en dat dit na verwagting tydens die Suidelike Halfrond se somer so sal bly.

Van den Berg sê die SOI se stygende fase is ’n aanduiding dat wegbeweeg word van El Niño-tipe patrone na neutraler toestande.

Nog goeie nuus is die Indiese Oseaan-dipool (IOD) is vir die eerste keer sedert Mei verlede jaar nié in ’n positiewe fase nie, maar “goed binne sy neutrale reikwydte”, het Van den Berg gesê.

Voorspellings dui aan die IOD sal in sy neutrale fase oor die volgende maande voortduur.

SEISOEN ONDERGEMIDDELD

Volgens ’n seisoenale vooruitskouiing wat verlede jaar deur die Namibiese weerkantoor se klimaat- en databank uitgereik is, sou die grootste dele van Namibië van Januarie tot Maart normale tot ondernormale reën ontvang.

Tog het die grootste dele van die land tot dusver ’n ondergemiddelde of ietwat ondergemiddelde seisoen gehad, toon ’n verslag wat onlangs deur die ministerie van werke en vervoer se afdeling vir meteorologiese dienste uitgereik is.

[email protected]

Soortgelyk

 

Gesoek: Namibiërs wat in China woon, studeer

1 uur gelede | Ministeries

Die Namibiese ambassade in China is in die lig van die uitbreking van die corona virussiekte (covid 19) besig om sy lys op te dateer...

Ministerie bemagtig mans én vroue

1 uur gelede | Ministeries

Die algemene siening dat die ministerie van geslagsgelykheid en kinderwelsyn net vir vroue en kinders is, is onwaar en onproduktief. “Sommige mans dink hierdie ministerie...

Damme voller

12 ure gelede | Weer

Elvira Hattingh - Terwyl 99,671 Mm³ (miljoen kubieke meter) water altesaam 10 nasionale damme die afgelope week binnegevloei het, het die weerkantoor opnuut ’n waarskuwing...

Groot kommer oor sprinkaanplaag in Zambezi

12 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer - ’n Plaag van bruin sprinkane uit vermoedelik Botswana teister kommunale boere by Muhundu en ander nedersettings in Katima Mulilo se landelike kiesafdeling...

Weerlig slaan meisie (11) dood

12 ure gelede | Misdaad

Weerlig het Saterdag die lewe van 'n elfjarige kind geëis. Volgens die Namibiese polisie se weeklikse misdaadverslag is Aini Shilongo Saterdag omstreeks 18:00 in 'n...

Weer vir 25 Februarie

12 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Swaar storms word in die noordoostelike streke, Otjozondjupa-, Khomas- en suidelike streek verwag. Die nodige voorsorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk in die...

NamWater to fix Opuwo’s supply woes

12 ure gelede | Plaaslik

Uakutura Kambaekua – Since 2017, Opuwo town has been faced with diminished water supply, a predicament blamed on high water loss in distribution systems, which...

Havana, Otjomuise powered by June

12 ure gelede | Energie

The ministry of urban and rural development has committed a total of N$14 million for electrification for the 2019/20 financial year, an amount that is...

A significant contributor to Namibia's economic landscape

12 ure gelede | Byvoegsels

Hangana Seafood (Pty) Ltd is a 100% Namibian-owned company, passionate about “Creating a future, enhancing life” for its employees, country and the people of Namibia....