Vuilspel in Shoprite/Nafau-staking beweer
Vuilspel in Shoprite/Nafau-staking beweer

Vuilspel in Shoprite/Nafau-staking beweer

Ondanks ’n vorige hofbesluit in hul guns, is die vakbond se dispuut met die winkelgroep ver van beklink.
Augetto Graig
Augetto Graig – Beskuldigings van vuilspel aan beide kante sal volgende Dinsdag in die hof draai, wanneer prokureurs vir Shoprite en die Namibiese Unie vir Voedsel- en Verwante Werkers (Nafau) mekaar weer takel, dié keer voor regter Collins Parker.

Nafau lei sedert 23 Desember ’n landswye staking by besighede wat deel van die reusegroep Shoprite-kleinhandelkettingwinkels is.

Shoprite het onlangs ’n vorm begin versprei wat stakende werkers kan onderteken om terug te keer werk toe, solank hulle die staking laat vaar, die vakbond verlaat en nie weer aan nywerheidsaksie deelneem nie, met dreigemente van afdanking en vervolging.

Prokureurs vir Shoprite het laas week Woensdag kennis gegee dat hulle teen die vorige hofbesluit geneem op 8 Januarie deur regter Shafimane Ueitele sal appelleer. Ueitele het beveel Shoprite mag nie seisoenswerkers of bestuurders gebruik om stakers se werk te doen nie. Shoprite voldoen voor die indiening van sy appèl steeds nie aan Ueitele se besluit nie, volgens Nafau.

Shoprite het ook ’n nuwe dringende aansoek ingedien dat Nafau en die stakers nie binne 50 meter van groep se winkels mag toi-toi nie, nie ander werkers of kliënte mag hinder, intimideer of beledig nie, en vir die polisie om strenger wetshandhawing by die sakepersele toe te pas.

Nafau se prokureur, me. Uno Katjipuka-Sibolile, het sedertdien ’n teenaansoek ingedien waarin die vakbond aandring Shoprite hou self nie by die ooreengekome reëls van die staking nie, minag Namibiese howe deur nie aan regter Ueitele se bevel te voldoen nie, en dat Shoprite Namibia en sy Namibiese direkteure vir die minagting beboet moet word en die koste van die aansoek en teenaansoek moet dra.

Shoprite Namibia se uitvoerende direkteur, mnr. Paul Malan, en ander Namibiese direkteure mnre. Schalk Willem Pienaar, Christoffel Labuschagne en Cornelius Komomungondo, word ook deur die vakbond betrek, hoewel die Suid-Afrikaanse direkteure mnre. Anton de Bryn en Gerrit du Prees nie genoem word nie.

Volgens die beëdigde verklaring van Nafau se hoofsekretaris, mnr. Jacob Penda, vorm die Namibiese direksie die meerderheid aandeelhouers van Shoprite Namibia en maak die dringende aard van die kwessie dit onmoontlik om die Suid-Afrikaners nou voor stok te kry.

In sy verklaring sê Penda daar is tussen 8 en 13 Januarie by Shoprite-, Checkers- en USave-winkels landswyd geen gehoor aan Ueitele se bevel gegee nie. Inteendeel is kontrakte vir seisoenswerkers verleng en doen hulle steeds die werk van stakende werkers, sê hy.

Bestuurders word op die winkelvloer ingespan en vakbondverteenwoordigers word nie toegelaat om binne die winkels toesig te hou oor handhawing van die staking se reëls nie. Hy voorsien ’n lang lys spesifieke voorbeelde.

Shoprite Namibia se menslike hulpbronbestuurder, me. Karen Smith, sê egter in haar beëdigde verklaring tot die oorspronklike aansoek dat Nafau en die stakers op 11 Januarie op Rehoboth seisoenwerkers uit die groep se winkel wou dwing.

Shoprite Okahandja is op dieselfde dag toegemaak nadat seisoenswerkers gedreig, ’n vurkhyser se sleutel afgevat en die takbestuurder aangeval is, noem sy. Ander voorvalle op Keetmanshoop, Rehoboth, Rundu, Swakopmund, Tsandi, Walvisbaai en in die hoofstad word ook deur Smith uiteengesit.

Vrydag moes die Namibiese polisie hul reserwemag ontplooi toe stakers en betogers op Oshakati oproerig geraak het toe hulle ingelig is van die nuutste mislukking in die onderhandelinge.

By die Yetu-inkoopsentrum is rubberkoeëls gebruik en mense is beseer, insluitend verteenwoordigers van die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR). AR en die National Unity Democratic Organisation (Nudo) het albei laas week hul steun aan die staking bekend gemaak. Die twee partye doen ’n beroep op ’n verbruikersboikot van die groep se winkels.

Die Shoprite-groep is die werkgewer vir sowat 4 600 Namibiese werknemers, volgens Smith, en meer as 2 000 van hulle neem volgens Nafau aan die staking deel. Shoprite se aanbod is verhogings van tussen 5% en 10%, terwyl die vakbond aandring op ’n verhoging van N$600 vir elke werknemer, ’n vervoertoelaag, behuisingstoelaag, en die permanente aanstelling van werkers wat meer as ’n jaar vir die groep werk.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!