Vry soos 'n voëltjie

Volgens 'n voëlliefhebber het mense goeie bedoelings, maar weet hulle dikwels nie wat om voëls te voer of hoe om hulle te versorg nie.
Tanja Bause
Tanja Bause



“Ek onthou soos gister die eerste voël, 'n windswael, waarmee alles begin het,” sê Sonja Bartlewski, stigter van Wild Bird Rescue, 'n veilige hawe vir beseerde wilde voëls en kuikens.

Sy is in Windhoek gebore en getoë en sê voëls was nog altyd deel van haar lewe.

“Ek onthou my ma het altyd die een of ander duif gered en versorg.”

Sonja het ná skool biologie in Duitsland gestudeer.

Daar het sy by die Landau-dieretuin gewerk waar voëls aangehou is.

“Daar was veral pikkewyne waarmee ek gewerk het. Die gesin by wie ek gebly het, was naby 'n plek wat valke en roofvoëls opgelei en bewaar het. Ek het in my vrye tyd daar gewerk.”

Ná sy van Duitsland af teruggekeer het, het Sonja by haar pa se onderneming gewerk.

“Ek het vinnig agtergekom die kantoor-gesittery is nie vir my nie, en het by die Namibiese Rehabilitasie-, Navorsing- en Onderrigsentrum (Narrec) vir Liz Komen begin werk.

“Iemand het 'n windswael na my huis in Windhoek gebring en ek het Liz vir raad gebel. Dit is waar die idee begin het dat ek eerder in Windhoek bly en vir wilde, gewone tuinvoëls sorg, en sy sorg vir groot roofvoëls in Brakwater. Ons het ook agtergekom mense sal met 'n tuinvoël in Windhoek rondry en hulp soek, maar hulle sal nie sommer Brakwater toe ry nie.

“Die probleem met windswaels is dat wanneer hulle teen glasvensters vasvlieg of op die grond beland, kan hulle nie weer opstyg nie. Jy moet die voël op jou hand sit en iewers hoër, soos op die eerste vloer van 'n gebou, gaan staan en jou hand uitstrek. Die windswael sal van jou hand af kan opstyg en wegvlieg.”



Optelvoëls

Volgens Sonja is mense baie gretig om klein voëls te help.

“Dikwels kan mense voëls, veral jong voëls, na 'n veilige plek neem waar hul ouers hulle kan hoor. Hou troeteldiere weg en hou die voëltjie dop. Gewoonlik kom die ouers die voëltjie haal. Ek kry meestal jong voëls in. Maar hulle makeer niks, hulle is nog net nie gewoond daaraan om agter hul ouers aan te vlieg nie. Wanneer die ouers terugkom, leer hulle om agter hulle aan te vlieg. As die voëltjie ná twee ure nog daar is, of dit raak donker, dan is iets anders fout en mense kan hom na my toe bring.”

Maar, waarsku sy, as die voël sigbare wonde het, moet hy na 'n veearts geneem word, want sy is nie daarvoor opgelei nie.

Voëls wat vervoer word, moenie in 'n houer met watte gesit word nie, sê Sonja.

“Sit die voël in 'n kartonboks met gate in die deksel vir lug, en eerder op kombuispapier. Hou die voel in 'n donker, warm plek en neem hom na 'n rehabilitasiesentrum waar hy professioneel versorg kan word.”

Sy sê mense het goeie bedoelings en probeer voëls self rehabiliteer, maar hulle weet dikwels nie wat om die voëls te voer of hoe om hulle te versorg nie.

“Wanneer die voëls dan by my uitkom, is hulle dikwels slegter af as wat hulle was toe hulle gevind is.

“Ek is tans besig om ses rooiwangparkiete met die hand groot te maak. Hulle was in 'n nes binne-in 'n dak. Die eienaar van die huis het herstelwerk aan die dak gedoen en neste is uitgegooi. Bouers het die neste na 'n troeteldierwinkel geneem, wat gelukkig nie die parkiete gekoop het nie. Hulle het toe by die dierebeskermingsvereniging (DBV) beland en toe by my. Hulle is nou vier weke by my, en ek voer hulle drie keer 'n dag met 'n spuit. Sodra hulle groot en sterk is, sal ek hulle vrylaat.”

Volgens Sonja moet mense verkieslik nie tussen Oktober en Maart herstelwerk aan hul huise doen nie. Ook word hulle aangeraai om nie palm- of ander bome te snoei nie.

“Dit is die tyd wanneer voëls broei en kleintjies of eiers in neste is. Doen asseblief sulke werk in die winter. Die neste is leeg en wanneer die voëls terugkeer, sal hulle eenvoudig nuwe neste bou.

“Vanjaar is baie op voëls geskiet. Ek weet nie of dit dalk is omdat hulle weens die droogte nie genoeg kos elders kon kry nie. Ek het drie muisvoëls en een kwêvoël gekry wat reeds dood was, en twee muisvoëls wat ek kon red. Dit is net die voëls waarvan ek bewus is. Die voëls kom van oraloor Windhoek, so dit is nie net een mens wat op die voëls skiet nie, maar verskeie.

“Elke keer as ek 'n hok oopmaak en die voël vlieg weg, is dit 'n ongelooflike gevoel. Wilde voëls hoort in die natuur en nie in hokke nie,” sê Sonja.

Besoek www.namibiabirdclub.org vir inligting oor rehabilitasiesentrums in jou omgewing.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!