Vrou woon in haar motor by hospitaal
Vrou woon in haar motor by hospitaal

Vrou woon in haar motor by hospitaal

Verskonings vir die voortdurende uitstel van haar man se operasie as kankerlyer duur nou al maande.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – 'n Bejaarde vrou van die kus woon die afgelope week in haar motor in die parkeerterrein van 'n staatshospitaal in Windhoek om naby haar man te wees wie se heupoperasie herhaaldelik reeds uitgestel is.

Die vrou (66) wat verkies om anoniem te bly, se 70-jarige man se chemoterapie vir limfkanker moes ook uitgestel word.

In haar motor waarin sy sedert verlede Maandag op die parkeerterrein van die Katutura-hospitaal in Windhoek woon, het die vrou in 'n onderhoud vertel haar man het op 30 Desember chemoterapie in Windhoek ontvang. Hy het na afloop van die chemoterapie geval en het later by die huis gekla sy heup is seer. Plate sou later wys sy heup was gebreek.

Hulle het hom by die Katutura-hospitaal ingeboek, waar hy sedert Desember nog nie geopereer kon word nie. Een van die verskonings is dat daar nie “parte” vir die operasie is nie, terwyl vandeesweek se verskoning was dat die hospitaal nie suurstof vir operasies het nie.

Volgens die vrou moet hulle elke keer vanaf die kus na die hoofstad reis as die “part” hier is, maar lewer dit telkens niks op nie. “Elke keer moet ons geld bymekaar skraap vir petrol om heen en weer te reis,” sê sy.

“Verlede Maandag het ons 'n dringende SMS ontvang wat sê die onderdeel is hier, hy kan geopereer word. Ons het geld gaan leen om tot hier te kom. Nou is dit hoeveel dae later en nog steeds niks, net verskonings,” het sy gesê.

Volgens haar het een personeellid aan haar gesê: “Jou man sal tot September lê; die staat het nie geld nie”.

Bedags verskuif sy die motor volgens die stand van die son vir koelte. Saans trek sy dit “doer bo” waar sy vertel een van die polisiebeamptes wat soms by Ongevalle diens doen, “maak seker of Ouma orraait is”.

“Hy het sy nommer vir my gegee om te bel as daar probleme is.”

Deur die dag sit sy in haar motor en saans so teen tienuur sit sy saam met 'n skoonmaker op een van die bankies en gesels. “Sy kom hoor ook of alles reg is.”

Sy bad en gebruik die toilet in die hospitaal en pleit: “Ek kan nie so leef nie, maar ek ook nie my man net in so 'n toestand los nie. Hoe lank gaan hy nog so lê?”

Haar man het “twee, drie maande laas” chemoterapie ontvang, waarvoor hulle ook elke drie weke na Windhoek moet reis.

“Hy het so mooi herstel met die chemo.”

Die hospitaal het ook nie pynmedikasie of die regte medikasie vir sy bloeddruk nie en sy moet dit noodgedwonge self gaan koop.

Die vrou vertel van nog 'n geval wat saam met haar man in die saal is, wat Maandag twee ure in die teater gelê het voordat hy gehoor het hy gaan nie meer geopereer word nie.

Veral Vrydagaande by die hospitaal is erg en sy vrees vir wat oor die naweek op die maandeinde alles wag.

“Jy vrees vir jou lewe. Dis messteek en 'n vrou wat met 'n bottel geslaan is. Jy slaap nie rustig nie; die veiligheidsbeamptes doen nie veel nie.”

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, het by navraag gesê hy is nie van alles bewus wat in hospitale oraloor in die land aangaan nie en dit kan selfs moontlik wees dat die superintendent ook nie bewus is van wat aangaan nie.

Hy het gesê die uitstel van operasies kan gebeur omdat die pasiënt 'n hoë temperatuur of bloeddruk of enige ander toestand het wat nie met 'n operasie versoenbaar is nie. Die superintendent van die hospitaal, dr. Nelago Amagulu, kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

SerieA: Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!