Vreemde situasies is alles behalwe snaaks
My gesin het die vermoë om onsself in die vreemdste situasies in te kry. Ná die tyd lag ons lekker daaroor, maar in die oomblik is dit alles behalwe snaaks.
’n Ruk gelede is ons in kennis gestel die elektrisiteit sal een Sondag van 08:00 tot 14:00 af wees. Om ’n waarskuwing te ontvang maak dit effens beter, maar die idee dat jy vir ’n geruime tyd sonder elektrisiteit gaan wees is effens senutergend. Ons maak dus seker alles is reg en in plek die vorige aand en is van plan om lekker laat te lê, want nou het jy mos ’n verskoning om niks te doen nie.
My ma besluit toe om so teen 07:30 ’n bondel wasgoed in die masjien te gooi, sodat dit klaar gewas is voor die elektrisiteit ons verlaat. Net toe die waspartytjie wil begin, besluit die elektrisiteit om ons vir ’n ses te boul en teen 07:40 is dit doodstil.
So stil jy kan selfs die muskiete hoor poep. Die wasmasjien het toe in die helfte van sy siklus gestop, wat ook beteken die deur lock, wat ook beteken jy moet wag vir die elektrisiteit om weer aan te kom voor jy iets kan doen.
Die dag verloop heel rustig, maar iets bly my pla. Ek skryf dit af as “sommer niks”. Hier teen 12:00 besluit ek om gou Spar toe te ry om iets vir ons te kry vir middagete, toe ek besef ek weet nie waar die motorsleutels is nie. Ek soek orals, maar ek kry dit nêrens nie. En al wil ek iemand anders die skuld gee, weet ek voor my siel ek was die laaste een wat die motor bestuur het, so dit kan net ek wees.
Net daar tref dit my: Die sleutel is in my jean se sak. Dit behoort mos nie ’n probleem te wees nie, want dié het ek net so op die vloer die vorige dag gegooi. Ek probeer dit soek, maar kry die broek nêrens nie. Toe sê my ma sy het die broek opgetel en in die was gegooi.
En dié is nou in die wasmasjien, vol water en wat nie wil oopmaak nie.
Ek besef hier is groot probleme. Die sleutel moet uit, want Spar maak toe (dit is ook net die vet kind in my wat hierdie as die grootste probleem sien) en die sleutel kan nie nog langer in die water lê nie.
Ons probeer alles en ek is selfs op my knieë onder die masjien besig. ’n YouTube-video sê vir my elke wasmasjien behoort ’n knop of draad êrens te hê wat dit moontlik maak om die deur oop te maak. Ek kry so snaakse doppie wat ek oop forseer met ’n knop wat niks soos in die video lyk nie, maar teen my beterwete besluit ek om dit oop te draai. Selfs toe ek water sien uitkom hou ek aan draai. Ek weet nie hoekom nie, maar Mariselle bly draai die flippen knop met die hoop dat die onvermydelike nie sal gebeur nie.
Slimmie het toe die dreineringskleppie oopgedraai en maande se ou waswater is orals. Dit is die hele garage vol, oor my klere en my gesig en oor die hond ook. Ek probeer dit stop, maar niks help nie.
My ma hardloop en soek die emmer vol water, wat sy in die proses ook omskop. Dié water stroom nou ook die kombuis en sitkamer vol en ek gly-gly deur die water op soek na enigiets om die vloed te stop.
Ná ek kniediep in die water is, hou dit uiteindelik op stroom. Ek ruik soos ou hond, maar die water het gestop en dit is al wat tel. Ek het ook klaarblyklik die masjien se water laat uitloop, so ek kry dit ook reg om die deur oop te maak. Op dieselfde oomblik hoor ek die ligte en skakelaars wat aangaan in die huis. (As die elektrisiteit aan is, kan jy letterlik net die een knop vir ’n paar tellings inhou dan maak die deur vanself oop.)
Ek was so diep gatvol dat ek net so in my wasmasjienwaterklere by Spar ingeloop het sonder om te blik of bloos. Die les van hierdie ervaring: As jy weet jy moet nie iets doen nie, moet dit nie doen nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie