Vrae oor verdedigingsuitgawes bly onbeantwoord
Estelle de Bruyn
Heelwat vrae word gevra oor Namibië se reuseverdedigingsbegroting, maar toe die DTA-president, mnr. McHenry Venaani, hieroor navraag gedoen het in die parlement, het dit grootliks onbeantwoord gebly.
Venaani wou van die minister van verdediging, mnr. Penda ya Ndakolo, weet hoekom die verdedigingsbesteding onverpoosd voortgaan, terwyl fiskale en ekonomiese onsekerheid die land in die gesig staar.
Ya Ndakolo het bloot geantwoord dat geld wat deur die parlement goedgekeur word vir die ministerie deur die nasionale begroting toegeken word.
Afgesien hiervan word die begroting opgestel volgens die land se verdedigingsbehoeftes en die tesourie neem uiteindelik die finale besluit met inagneming van beskikbare bronne.
Op 'n vraag van Venaani oor die koste van items wat deur die ministerie aangekoop word, het Ya Ndakolo gesê: “Verdedigingsbates en materiaal kos geld. Daar is geen ander manier om dit te verkry as ons nie daarvoor betaal nie.”
Hy het ook gesê dit sou geen doel dien om die koste wat met spesifieke bestellings vir verdedigingsbates verband hou, bekend te maak nie.
Hy het volgehou dat daar prosesse en stelsels vir aanspreeklikheid en deursigtigheid is wat ministeries lei om verantwoording te doen vir die bronne wat aan hulle toegeken word.
Dit sluit die ouditeur-generaal en parlementêre instansies in.
Venaani wou voorts weet of, in die lig van die uitdagende ekonomiese tye, die minister van finansies of die kabinet goedkeuring vir die betaling van verdedigingsbestellings moes verleen.
Ya Ndakolo het agter die “sensitiwiteit” van die aankoop van verdedigingsitems geskuil en gesê die kabinetskomitee belas met verdediging, veiligheid en internasionale betrekkinge, gee toestemming vir sodanige aankope, maar dat die minister van finansies nie insae daarin het nie, en bloot die uitvoering van aankooporders fasiliteer.
“Ek moet dit duidelik maak dat verdedigingsbates en materiaal baie duur is en nie altyd geredelik beskikbaar is op winkelrakke nie. Daar moet onthou word dat die aankoop van wapens 'n proses is wat baie jare neem om te voltooi,” het Ya Ndakolo ten slotte gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie