Veterinu00eare kordonheining dalk geskuif
Veterinu00eare kordonheining dalk geskuif

Veterinêre kordonheining dalk geskuif

Die ministerie van landbou, water en bosbou het meer lig gewerp oor die skuif van die veterinêre kordonheining.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die regering wil die veterinêre kordonheining plek-plek verskuif om soveel as moontlik kommunale boere by die bek-en-klouseervrye gebied in te sluit.

Die hoop is om dié heining in die toekoms op die grens tussen Namibië en Angola op te rig, maar dit sal tyd neem.

Intussen oorweeg die ministerie van landbou, water en bosbou om die huidige een te verskuif sodat ­suidelike dele van die Kavango-Wes en -Oosstreek, Mangetti-Oos en -Wes, Ombika in die suidelike dele van die Oshana- en Oshikotostreek, asook Sesfontein, Warmquelle en Fransfontein in die suide van die Kunenestreek voorts suid van die heining val.

Mnr. Percy Misika, ­uitvoerende ­direkteur van landbou, water en bosbou, het Woensdag tydens die bekendstelling van 'n studie oor ­bemarkingstelsels vir lewende hawe en lewendehaweprodukte in die noordelike kommunale gebiede van Namibië dié inligting bekend gemaak.

Hy het gesê die veterinêre kordonheining kan nie summier verwyder word nie omdat dit Namibië se uitvoerstatus na nismarkte in gedrang sal bring. “Die uiteindelike doelwit is om dit tussen ons en Angola op te rig,” het hy gesê.

In 'n finale verslag, wat tydens die geleentheid aan die media verskaf is, word gesê die verskuiwing van die kordonheining of die oprig van 'n nuwe heining, sal behels dat 1 200 meer boere, 160 000 meer beeste asook 130 000 meer bokke nou by die bek-en-klouseervrye gebied ingesluit word. Na raming sal die oprigting van so 'n heining oor 650 km strek en sowat N$145 miljoen kos. Daarteenoor sal die bou van die heining op die Namibiese grens met Angola oor 450 km sowat N$100 miljoen kos.

Tydens die geleentheid het minister Alpheus !Naruseb in 'n toespraak, wat namens hom deur Misika voorgelees is, gesê die noordelike ­kommunale gebiede het die grootste landelike bevolking en die meeste vee,

maar ook die grootste werkloosheid­syfer. Hy het uitgewei oor planne om slag-, kwarantyn- en ­inmaakfasiliteite in die kommunale gebied te ­finaliseer en op te gradeer sodat ­produsente ­afsetpunte vir hul vee kan hê.

Die Namibiese regering, die Europese Unie (EU) en die Duitse Vereniging vir Internasionale Samewerking (GIZ) het die studie gefinansier. Tydens die geleentheid het die EU se mnr. Giancarlo Monteforte gesê hulle skenk N$280 miljoen vir die finansiering vir die projekte wat uit die studie moet voortvloei.

Die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU) se president, mnr. Jason Emvula, het tydens die geleentheid gesê hulle het dié studie van stapel gestuur en meen enkele oorwegings is uiters belangrik vir die transformasie van die noordelike ­kommunale gebiede. Emvula sê dit sluit in dat die regering se opdrag oor vleis vir ­openbare instansies soos hospitale en skole wat uit kommunale gebiede verkry moet word, so spoedig moont­lik uitgevoer word. Ook dat Namibië afsetpunte in markte in ander Afrikalande ondersoek moet word.

“Botswana het 'n soortgelyke probleem as ons kommunale gebiede wat betref veesiektes soos bek-en-klouseer, maar hulle voer uit na markte in die Midde-Ooste,” het hy gesê.

Hy het ook sterk klem op die ontwikkeling van voerproduksie in kommunale gebiede gelê, veral ­hidrofoniese voer.

Terselfdertyd moet inheemse beeste se gehalte deur onder meer teelprogramme verbeter word.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!