Vermeende familiemoordenaar vandag voor die hof
'n Gestry oor geld was na bewering die vonk tot die gesinstreurspel die naweek op Rundu.
Ronelle Rademeyer - Die polisiehoof het 'n ondersoek gelas na beweringe dat die polisie op Rundu hul plig versuim het en nie opgetree het om die familieslagting op dié dorp te verhoed nie.
Die 18-jarige tiener wat na bewering Saterdagnag in ‘n sinkuis op Rundu sy ma, ouma en sy suster se drie seuns met ‘n stok doodgeslaan het nadat hy vroeër ook sy suster aangeval het, sal vandag in die landdroshof op dié dorp op vyf klagte van moord verskyn.
Volgens die polisie se misdaadverslag het die verstandelik gestremde jongman, glo 'n daggaroker, geld by sy familie geëis. Toe hulle nie vir hom geld wou gee nie, het hy hulle na bewering in die nag met 'n stok aangeval en doodgeslaan.
Volgens die gemeenskapsblad Touch Rundu op Facebook het die jong man Saterdagmiddag aanvanklik eers met die bure skoor gesoek. Sy suster het volgens Touch Rundu besef “sy kop haak weer uit” en na die polisie gegaan om hulp te ontbied.
Haar pleidooi het glo op dowe ore geval omdat die polisie nie vervoer gehad het om na die Ndama-woonbuurt te gaan nie.
Dit blyk uit die misdaadverslag sy suster het met haar terugkoms ook onder sy woedebui deurgeloop en hy het haar aangerand, waarna sy wéér na die polisie toe is. Dit het hom na bewering nog kwater gemaak.
Sy suster, wat in ‘n nabygeleë sinkhuis woon, was die een wat vroeg Sondagoggend op die grutoneel in haar ma se huis afgekom het nadat haar seuns daar oornag het.
Sy ontvang intussen berading om haar te help om die trauma te verwerk, het adj.komm. Bonafatius Kanyetu, koördineerder van misdaadondersoeke in Kavango-Wes, gister vertel. “Sy is erg getraumatiseer en maatskaplike werkers staan haar by.”
Intussen het die polisie se mediawoordvoerder in Windhoek, hoofinsp. Kauna Shikwambi, laat gister gesê die polisiehoof, lt.genl. Sebastian Ndeitunga, beskou die voorval in 'n baie ernstige lig en het 'n interne ondersoek na die beweerde nalatigheid deur die polisiebeamptes op Rundu gelas.
Shikwambi kon nog nie gister die name en ouderdomme van die vyf oorledenes bekend maak nie. “Al wat ek in hierdie stadium het, is byname,” het sy by navraag gesê.
Kanyetu het later verduidelik die polisie op Rundu sukkel nog om hul volledige name te kry sodat dit amptelik bekend gemaak kan word.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie