Veiligheidswag versprei elke dag vreugde

Tanja Bause
Tanja Bause – Die naam Simson Tuhafeni sal vir meeste Windhoekers nie veel beteken nie. Alhoewel dit nie te sê is dat hulle hom nie dalk al gesien en hy hulle laat skaterlag het nie.

Tuhafeni is ’n veiligheidswag by die Lady Pohamba Privaat Hospitaal wat mense vermaak met sy danspassies en grappies terwyl hy hulle in en uit die parkeerterrein help.

“Tuhafeni beteken ‘wees gelukkig’ in Oshiwambo en dit is my motto. Ek wil mense gelukkig maak wanneer hulle nie lekker voel nie en na die hospitaal toe kom,” het hy gesê.

Hy sit met elke danspassie en grappie ’n glimlag op elke besoeker, pasiënt en dokter se gesig.

Prof. Clarissa Pieper, ’n pediatriese neonatoloog, sê Tuhafeni is baie vriendelik.

“Hy maak elke dag my dag wanneer hy aan diens is. Jy kan nie anders as om te lag wanneer hy vir jou ’n parkeerplek aanwys nie.”

Sy kollega Theo Indilo sê mense is mal oor hom en soek hom wanneer hy nie aan diens is nie.

“Hulle het van hom gehoor en vra waar is die man wat dans en grappe maak?”

“Ek is baie trots op my werk en wil net hê almal moet gelukkig wees. Ek glo almal kan doen om ’n bietjie te lag en vrolik te wees in dié tyd,” het hy gesê.

“As jy die dag af is en nie lekker voel nie kom hospitaal toe en wanneer jy vir Mr Simson gesien het, sal jy lag en gelukkig wees.” - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer